MADELEINE VAN BILJON (1928-2010)

Madeleine van Biljon was ’n bekende Afrikaanse skryfster en joernalis.

Madeleine Leonore Pretorius is op 14 Mei 1928 op Lichtenburg in die hedendaagse Noordwes gebore. Die gesin het, terwyl sy op skool was, baie rondgetrek, en sy het in Kaapstad, die Paarl, Bethal en Montagu gewoon. Daar het sy in 1945 gematrikuleer. Na skool het sy as leerlingverpleegster aan die Groote Schuur-hospitaal gewerk totdat sy besef het dat dié beroep nie vir haar was nie. Sy het hierdie rigting ingegaan omdat haar pa geglo het dat ’n vrou nie in die joernalistiek gehoort het nie. Dit was blykbaar ’n sportverslaggewer wat dit vir haar pa gesê het. Sy het haar kort loopbaan as verpleegster as ’n ramp beskou. Nogtans het sy en haar pa ’n goeie verhouding gehad. Haar tweetaligheid was aan haar pa te danke, aangesien hy by die etenstafel op Sondae op Engels aangedring het.

Op 1 Maart 1948 het sy as joernalis by die Afrikaanse koerant Die Vaderland begin werk, en later het sy die vroueredakteur geword. In 1951 is sy met dr. Pieter van Biljon getroud. Hy was ’n voormalige redakteur van die SA Mediese Tydskrif en ’n bekende in mediese en joernalistieke kringe in Suid-Afrika. Sy het ook allerhande rubrieke en artikels vir verskeie Afrikaanse en Engelse koerante en tydskrifte begin skryf. Sommige van haar rubrieke is in boekvorm uitgegee, onder meer Mevrou jy’s lastig in 1967, Kwellings en kwinkslae in 1974 en Afdraai na bedroef in 1996. In 1983 en 1984 was Madeleine die voorsitter van die Kaapstadse persklub en sy het jare lank ’n kosrubriek vir The Sunday Times geskryf. Sy was meer as 50 jaar lank ’n joernalis en die ewe bekende Cecile Cilliers was haar suster.

Madeleine se geloofslewe was in die kollig toe sy in 1998 in die tydskrif Finesse verduidelik het hoekom sy nie kon glo nie. Sy het nie die moontlikheid van ’n Opperwese uitgesluit nie, maar met die verloop van jare het haar geloof stadig maar seker gekwyn. Sy het geworstel met Jesus se kruisiging, en kon nie verstaan hoe ’n liefdevolle Vader dit aan sy kind kon doen nie. Hierdie rubriek het beteken dat sy ’n prys verloor het. In 1998 het die ATKV Dames haar vereer met ’n spesiale toekenning vir haar bydrae tot die Suid-Afrikaanse gemeenskap, maar nadat die artikel waarin sy dit alles gesê het, in Finesse verskyn het, het sy dié prys verloor. Die ATKV-dames het haar wel later om verskoning gevra.

Behalwe drukmedia was Madeleine ook gereeld op die radio en baie van haar rubrieke is in die program Vrouerubriek, op die Afrikaanse radiodiens van die SAUK uitgesaai. Die aktrise Sandra Prinsloo het die geselsprogram Sandra op ’n drafstap op kykNET aangebied en Madeleine was by geleentheid ’n ateljeegas. Sy het aan Sandra vertel dat haar pa van mening was dat ’n mens “die taal van die oorwinnaar” beter as die “oorwinnaar” moes praat, maar sy het gemeen sy het Engels met ’n aksent gepraat. Sy was egter ’n vertaler wat die werk van onder meer Marita van der Vyver, Margaret Bakkes en Deon Meyer in Engels vertaal het. Sy het ook aan Sandra vertel dat sy ’n ernstige probleem met die begrip “in sonde ontvang en gebore” gehad het.

Madeleine is op 23 Februarie 2010 in die ouderdom van 81 jaar oorlede.

Daantjie Badenhorst