
23 JANUARIE
GEBEURE
1844 – Burgersdorp ontstaan
Die dorp is aangelê op die plaas Klipfontein wat behoort het aan Gert Buytendach. Die plaas is van Buytendach aangekoop vir 15 000 riksdaalders. Aanvanklik is die naam Maitland vir die dorp oorweeg, dog die man, op daardie stadium goewerneur aan die Kaap, het die eer bedank.
Daarna is besluit op Burgersdorp ter ere van die kommando’s wat aan die 1846-grensoorlog deelgeneem het te vernoem. Die dorp is ook bekend omrede die (“Afrikaanse”) Taalmonument wat in 1893 aldaar opgerig was.
1846 – Nog setlaars kom in Suid-Afrika aan
Die verhaal van die 1820-Setlaars, en hul koms na Suid-Afrika is wel bekend. Gedurende 1846 was daar egter ’n veel groter immigrasieskema van stapel gestuur as wat die geval was in 1820. Op hierdie dag land die eerste groep van 93 setlaars, al die pad vanuit Suid-Amerika. Hul was aan boord die Monte Video, en het anker in Algoabaai gegooi. Die tweede groep het gevolg op 7 Februarie 1846 en het bestaan uit 144 Britse gesinne. Later dieselfde jaar sou nog 19 skepe aankom.
Waarskynlik omrede die pioniersomstandighede waaronder die 1820-Setlaars geland het, word, en is meer aandag aan hul gegee. Tydens laasgenoemde se koms was baie plase onbewoon en gereed vir vestiging. Met die 1820-Setlaars was die situasie geheel en al omgekeerd.
1901 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Middelfontein, Olifantsnek, Tvl., wat vir 2 dae sou duur
1915 – Afrikanerrebellie
Na aanleiding van die nuus dat die rebellie platgeval het, stuur Manie Maritz vir kaptein Henry Williams onder ’n wit vlag na Upington om oor oorgawevoorwaardes te gaan onderhandel. Generaal Jaap van Deventer neem vir Williams in hegtenis onderwyl hy na Pretoria op pad is om opdragte te telegrafeer. Jan Smuts telegrafeer die middag uit Pretoria aan Van Deventer dat hy onder geen omstandighede met die rebelle mag onderhandel nie. Toe Williams nie terugkeer nie, besluit Maritz en Jan Kemp om Upington voor dagbreek die volgende oggend aan te val.
1957 – Die Nasionale Konserwatiewe Party in Suid-Afrika ontbind
2009 – 10 000 lopies in krieket
Jacques Kallis (34) word die eerste Suid-Afrikaanse krieketspeler om 10 000 lopies te haal in eendagwedstryde en die agtste speler internasionaal.
GEBOORTES
1847 – Stephanus Petrus Erasmus Trichardt, Boerekryger, kleinseun van Voortrekkerleier Louis Tregardt († Oktober 1907)
Stephanus Petrus Erasmus Trichardt, seun van Carolus Johannes Tregardt (1811 tot 1901) en kleinseun van die Voortrekkerleier Louis Tregardt (1783 tot 1838), het aan feitlik al die ekspedisies teen swartes, aan die Transvaalse Vryheidsoorlog (1880 tot 1881) en die Jameson-inval (1895 tot 1896) in die ZAR deelgeneem. Van kommandant van Middelburg het hy in 1897 tot bevelvoerder van die Staatsartillerie gevorder en dit gemoderniseer en uitgebrei. Met die uitbreek van die Engelse Oorlog (1899 tot 1902), bevind hy hom aan die Natalse grens en neem daarna onder meer aan die krygsverrigtinge by Dundee, Ladysmith, Brandfort en Donkerhoek deel. Nadat die Staatsartillerie in Oktober 1900 ontbind is, word hy kommandant van ’n gedeelte van die Middelburgse Kommando. Na die vredesluiting ondersoek hy die vestigingsmoontlikhede op Madagaskar, maar vestig hom uiteindelik naby Nakuru, Kenia, waar hy in Oktober 1907 op ’n jagtog oorlede is. Trichardt was ’n bekwame krygsman met ’n groot vaderlandsliefde, wat hom onvermoeid vir die vryheid en onafhanklikheid van sy land laat ywer het.
1895 – Joseph Jacobus Bosman, bankier en stigter van Volkskas († 29 Junie 1952)
Joseph Jacobs Bosman is op Naauwpoort, distrik Rustenburg, gebore. Teen die einde van die Engelse Oorlog bevind hy hom saam met sy moeder en twee ouer broers in die Potchefstroomse Konsentrasiekamp. Op 19-jarige ouderdom aanvaar die jong Bosman ’n betrekking in Johannesburg, waar hy as assistentboekhouer in ’n handelsonderneming hom binne enkele jare tot rekenmeester opwerk. Later tree hy in diens by ’n rekenmeesters- en ouditeursfirma, waar hy waardevolle ondervinding opgedoen het van maatskappy-administrasie. Terwyl hy in 1921 hier werksaam was, het die idee om ’n eie Afrikaanse bank op te rig, by hom ontstaan. Hierdie gedagte het gaandeweg gestalte gekry, en in 1934 word Volkskas gestig, met JJ Bosman as hoofbestuurder. Hierdie bankgroep het sedertdien gegroei tot ’n reus in die Suid-Afrikaanse volkshuishouding en het dus ’n wesenlike bydrae gelewer tot die uitbouing van Afrikaner-sakebelange. Sy ideale het egter nie met die oprigting van die bank geëindig nie, en in 1936 rig hy Uniewinkels op as ’n eie Suid-Afrikaanse winkelgroep. Hy is op 29 Junie 1952 in Pretoria oorlede.
1904 – Dr. MWHE (Marie) Luttig, algemene praktisyn; bemaak geld vir die bevordering van Afrikaans († 14 Januarie 1997)
Dr. MWHE (Marie) Luttig (gebore Van Castricum) sien die eerste lewenslig in Apeldoorn, Holland. Haar ouers verhuis na Suid-Afrika en vestig hulle in Heidelberg, Gauteng, waar sy later aan die Hoër Volkskool matrikuleer. Sy word opgelei as algemene praktisyn en praktiseer in Johannesburg en omstreke. Met haar dood op 14 Januarie 1997 bemaak sy ongeveer R13 miljoen in haar testament vir die bevordering van Afrikaans. ’n Toekenning word jaarliks aan die Hugenote Gedenkskool in die Paarl, Wes-Kaap, gedoen om ’n gedenklesing ter ere van haar aan te bied wat op of naby GRA-dag (14 Augustus) gehou word.
STERFTES
1773 – Baron Pieter van Reede van Oudtshoorn, goewerneur van die Kaap (* 8 Julie 1714)
Hy is in Utrecht, Nederland, gebore. Behorende tot die ou Nederlandse adel, ontvang hy ’n goeie opvoeding wat hom op jeugdige leeftyd ’n hoë pos in die kompanjie se diens aan die Kaap besorg. Van 1741 tot 1766 woon en werk hy in die Kaap, maar hy keer na Nederland terug om ’n aansienlike erfporsie in ontvangs te neem. Ses jaar later vertrek hy weer na die Kaap, aanvanklik om sy ongevulde pos as fiskaal weer te aanvaar, maar vanweë Ryk Tulbagh se dood, word hy as goewerneur aangestel. Hy sterf egter op 23 Januarie 1773 op see onderweg na die Kaap. Hy ontvang ’n luisterryke militêre begrafnis op 12 April 1773 en word onder die plavei van die NG Kerk (later die Groote Kerk) begrawe. Die sierlike grafsteen met sy wapen is nog te sien in die buitemuur van die kerk waar dit ingemessel is.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.