DANIE ODENDAAL (1947-2024)
Danie Odendaal was ’n bekende Afrikaanse televisieregisseur en draaiboekskrywer.
Hy is op 23 Januarie 1947 gebore, maar daar is nie veel inligting oor sy vroeë lewe bekend nie. Hy het aan die Universiteit van Stellenbosch, die Sorbonne-universiteit in die Franse hoofstad Parys en die Trinity College in Cambridge gestudeer en toe televisie in 1976 na Suid-Afrika gekom het, het hy hom by die SAUK aangesluit.
Sy deurbraak het gekom toe hy die draaiboek van die televisiereeks Dennekruin 12, wat in 1983 vrygestel is, geskryf het. Die rolverdeling van hierdie reeks het akteurs soos Paul Eilers, Ryno Hattingh, Joanie Combrink, Petru Wessels, Christo Gerlach, Marié du Toit en At Botha ingesluit. In 1985 het hy dit opgevolg met Galery, met onder meer Albert Maritz, André Jacobs, Wilna Snyman, Ernst Eloff , Shaleen Surtie-Richards en Roelien Spruyt in die rolverdeling.
In 1989 het hy die draaiboek vir die televisieweergawe van die boekereeks Saartjie deur Bettie Naudé geskryf. Annie Malan het die titelrol vertolk, en onder die ander akteurs in die rolverdeling was Alida Theron, André Verster, Pierre van Pletzen, Brümilda van Rensburg en Pieter de Bruyn.
Toe Egoli in 1992 as die eerste daaglikse Afrikaanse sepie op M-Net ontstaan het, het Franz Marx hom gevra om die hoofskrywer te wees, met Henry Mylne as regisseur. Hy was agt jaar lank die hoofskrywer van Egoli. Hy sal egter vir één sepie onthou word. Hy was die vervaardiger van 7de Laan, wat die 4de April 2000 vir die eerste keer op SABC 2 vertoon is, en in Desember verlede jaar ten einde geloop het. Verskeie akteurs het hul deurbraak in dié sepie gemaak, onder wie Diaan Lawrenson, Anel Alexander, Theodore Jantjes, Ivan Botha en Donnalee Robets; laasgenoemde twee akteurs is intussen getroud. Hy was vyftien jaar lank die uitvoerende regisseur totdat die SABC op sekere veranderinge aangedring het.
Hy het in Desember 2019 ’n beroerte gehad, maar daarvan herstel. Sy gesondheid het daarna egter agteruitgegaan. Hy was getroud met die aktrise en regisseur Annie Basson wat die regie vir onder meer die televisiereekse Daisy (oor die veroordeelde moordenares Daisy de Melker se lewe) en Death in the family gedoen het.
Hy is op 30 Oktober 2024 in sy huis in Langebaan aan die Kaapse Weskus na ’n kort siekbed oorlede.
Daantjie Badenhorst