23 JULIE

GEBEURE

1853 – Andries Pretorius se seun volg hom op

Die Voortrekkerleier, Andries Pretorius, sterf en sy seun, Marthinus Wessel Pretorius, volg hom op as Kommandant-Generaal van die distrikte Potchefstroom en Rustenburg.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Retiefsnek, Slabbertsnek, Witnek, Nelspoort en Moolmanshoek, OVS; Boschpoortdrif, (Wilgerivier); Kosterrivier, ZAR

1907 – Vereniging vind plaas

In Kaapstad aanvaar die Volksraad die voorstel dat Kaapland, Natal, en die twee voormalige Boererepublieke, verenig word.

1915 – Afrikanerrebellie

Jan Kemp word tot ’n boete van £1 000 en sewe jaar tronkstraf gevonnis vir sy aandeel in die rebellie.

 

GEBOORTES

1885 – Johannes Frederikus van Wyk, onderwyser († 27 September 1973)

Johannes Frederikus van Wyk is op die plaas Leeuwfontein, in die distrik Wolmaransstad, gebore en ontvang sy skoolopleiding daar. Op 14-jarige ouderdom lê hy sy eindeksamen af en in dieselfde jaar (1899) breek die ABO uit. As 15-jarige penkop sluit hy hom by die Boeremagte aan, neem aan minstens agt veldslae deel, word ’n maand voor die vredesluiting by Roodewal gevang en na Indië gestuur, waar hy sy naskoolse studie voortsit. Na sy terugkeer in 1903 sit hy sy studies veral in Engels en Geskiedenis voort en bekwaam hom as onderwyser aan die Pretoriase Normaalkollege. In 1919 is hy na Arusha, in Oos-Afrika, as die eerste Afrikaanssprekende onderwyser, wie se ywer vir die sosio-kulturele en akademiese opheffing van die Afrikanerkind nooit geëwenaar is nie. Meer as 15 jaar gee hy gratis onderwys en bou hy skole – dikwels in ongunstige en vernederende omstandighede. Later was hy in diens van die grondboontjie maatskappy in Tanzanië, en daarna het hy verskeie goudkonsessies gehou. In 1963 het hy en sy eggenote, agterkleinkind van Louis Trichardt, na Suid-Afrika teruggekeer. Sy herinneringe aan die ABO is gepubliseer in Die Mauser Knal, waarin hy ’n lewendige voorstelling gee van die kommandolewe en krygsgevangeneskap.

1868 – Pieter Hugo Naudé, skilder († 5 April 1941)

Pieter Hugo Naudé is in die distrik Worcester, Kaapland, gebore. Hy studeer kuns in Londen, München en Fontainebleau en ook in Italië. Vanaf 1896 reis en skilder hy deur Suid-Afrika, waarna hy hom in Worcester vestig. Na verdere reise trou hy in 1915 en rig dan finaal sy bekende ateljee op Worcester in. Hy het vroeg reeds erkenning vir sy portrette, effens romantiese landskappe en fyn tekeninge ontvang en was een van Suid-Afrika se gewildste kunstenaars. Hy het hom van die destydse sektetaal en gebruike van die kuns bevry en het van die akademiese tot ’n individueel-, vrye skilder- en tekenstyl ontwikkel. Met sy vryer gebruik van kleur en kwistige verfaanwending, het Naudé se werk later as ’n soort impressionisme ontwikkel. Sy geliefkoosde landskappe was blombestrooide valleie tussen berge, in ‘n atmosfeer van voortdurende lente of somer. Sy huis op Worcester het bewaar gebly as die Hugo Naudé-Kunssentrum. Sy werke word in die meeste openbare kunsversamelings in Suid-Afrika gevind. Hy is op 5 April 1941 op Worcester oorlede.

1922 – Stefans Grové, klassieke komponis († 29 Mei 2014)

Stefans Grové was ’n klassieke komponis. Hy word deur baie as een van Afrika se grootste komponiste beskou.

1997 – Jan Luyt Pohl, liedjieskrywer en radio-omroeper (* 6 April 1917)

Jan Pohl was een van die eerste komponiste van ligte Afrikaanse musiek, met verrassende melodieë en ’n nuwe gesofistikeerdheid vir die 1940’s en daarna.

 

STERFTES

1853 – Andries Wilhelmus Jacobus (Andries) Pretorius, Voortrekkerleier en held van Slag van Bloedrivier (* 27 November 1798)

Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius was ‘n Voortrekkerleier wat ‘n belangrike rol gespeel het in die vestiging van die Zuid-Afrikaansche Republiek, sowel as die vroeëre, maar kortstondige Natalia Republiek in Suid-Afrika. Hy was ook ‘n sleutelfiguur in die Slag van Bloedrivier.

1986 – Prof. Willem Kempen, taalkundige en voorsitter van die Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (* 3 Julie 1909)

Willem Kempen is op Prieska gebore. Hy was een van die voorste Afrikaanse taalkundiges in Suid-Afrika. Kempen was lank voorsitter van die Taalkommissie van die SA Akademie en ‘n belangrike taalraadgewer by die vertaling van die Bybel in Afrikaans. In 1967 is die Besondere Erepenning vir Afrikaanse Taal- en Letterkunde aan hom toegeken. Hy het in 1970 die Langenhoven-prys vir Taalkunde van die SA Akademie en in 1979 die FAK se Halfeeufees-toekenning vir volgehoue taalbevordering ontvang.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/