ANDRIES PRETORIUS (1798-1853)

Andries Pretorius kan as die belangrikste leier in die Voortrekkergeskiedenis gereken word. Buiten vir sy leiding tydens die trek, het hy dit ook beëindig deur Britse erkenning vir die Voortrekkers se onafhanklikheid te bewerkstellig. Die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR of latere Transvaal) en Republiek van die Oranje Vrystaat (OVS) is deel van Pretorius se erfenis.

Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius is op 17 November 1798 in die Graaff-Reinet-distrik tydens die eerste Britse besetting van die Kaap gebore. Graaff-Reinet was die mees oostelike distrik van die kolonie en die omgewing waar kontak tussen pionier veeboere (latere Afrikaners) en Xhosasprekende stamme somtyds vyandig geraak het. Ons weet nie veel van sy vroeëre lewe nie, behalwe dat hy ’n welvarende boer en ’n leiersfiguur in sy omgewing geword het.

In 1818 is Andries Pretorius met Christina Petronella de Wit getroud. Hulle het sewe dogters en drie seuns gehad. In 1848, toe Pretorius met ’n militêre veldtog besig was, is sy vrou oorlede. In die volgende jaar is hy met die negentienjarige Petronella de Lange getroud.

Tydens 1838 het Pretorius met sy geselskap die Kaapkolonie verlaat om by die Voortrekkers in Natal aan te sluit. Nog voor sy aankoms het al die erkende leiers weggeval, met Piet Retief wat vroeg die jaar in opdrag van Dingaan, koning van die Zoeloes, vermoor is, Piet Uys wat tydens ’n skermutseling met die Zoeloes gesneuwel het, Gerrit Maritz wat aan siekte oorlede is en Hendrik Potgieter wat Natal verlaat en na die latere Transvaal vertrek het.

Met sy aankoms is Pretorius dadelik as leier aanvaar en het ’n suksesvolle veldtog teen die Zoeloes geloods. Meer besonderhede daaroor volg in die volgende afdeling. Hy het ook leiding in die oprigting van die Republiek van Natalia geneem, hoewel die grondwet nie vir die amp van president voorsiening gemaak het nie. Die Britse oorname van hierdie republiek word ook in die volgende afdeling bespreek. Die belangrikste is om in hierdie afdeling te noem, is dat Pretorius teen 1842 deur Boere, Britte en swart stamme as ’n politieke en militêre leier gerespekteer is.

Van 1842 tot 1848 het Pretorius as ’n Britse onderdaan in Natal aangebly. In daardie jaar is Britse gesag tot aan die Vaalrivier uitgebrei en Pretorius het besluit om noord daarvan, in die omgewing van die Magaliesberg te vestig. Hoewel alle inwoners van die gebied nie sy leiding aanvaar het nie, het hy tog namens hulle met die Britse owerhede onderhandel. Daardeur het hy erkenning vir die Boererepublieke se onafhanklikheid beding.

Die vete wat tussen Pretorius se volgelinge en die van Andries Hendrik Potgieter geheers het, is in 1852 besleg toe die twee leiers naby Rustenburg ontmoet het.

Op 23 Julie 1853 is Andries Pretorius op 54-jarige ouderdom in sy huis oorlede. Twee jaar later is die nuwe hoofstad van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR en later Transvaal), na Andries Pretorius vernoem, naamlik Pretoria. Sy seun, Marthinus Wessel, was ook bestem om ’n belangrike rol in die republiek se geskiedenis te speel.