23 OKTOBER

GEBEURE

1838 – Pietermaritzburg gestig

Die aanwesigheid van verhongerde Boesmans het die Voortrekkers van Natal se beoogde eerste dorp Bosjesmansrand laat heet. Dit was ook as Stinkhoutrand bekend. Die vermoede bestaan dat Piet Retief self die standplaas in die Umzinduzivallei uitgesoek het. Ná die moord op hom en die dood van Gerrit Maritz is daar op hierdie dag besluit om die beoogde dorp na die twee Trekkerleiers te noem – Pietermaritzburg. Teen daardie tyd was dit reeds die standplaas van die laer van kmdt. Piet Greyling wat vroeg die volgende jaar die dorp uitgelê het. Die regulasies vir die uitleg van die dorp – die eerste in Natal maar die derde Voortrekkerdorp – is op 15 Februarie 1839 gedateer. Dit was digby die laer van kmdt. Greyling, en hy het in Oktober 1838 reeds besluit dat ’n dorp op daardie plek aangelê moes word. Erwe is teen vyf riksdaalders stuk verkoop en 300 is spoedig van die hand gesit. In 1841 is die Engelse kerkie ingewy, en in 1844 was daar al 132 huisies, met elf in aanbou. Kerkstraat, Bergstraat en Retiefstraat is spoedig met huisies bebou. Teen die helfte van die sewentigerjare van die twintigste eeu het hierdie hoofstad van Natal ’n bevolking van meer as 100 000 mense gehad, wit en swart. Dit is in Pietermaritzburg waar die Voortrekkers ter vervulling van die Gelofte van 1838 by Bloedrivier, ook die Geloftekerk gebou het. Dit is in 1841 ingewy.

1914 – Afrikanerrebellie

Kommandant Alberts ontmoet vir Christiaan Beyers en deel hom mee dat Louis Botha belowe dat daar geen kommandering van burgers sal wees nie. Beyers verklaar dat hy bereid sou wees om vir Botha enige plek buiten in Pretoria te ontmoet.

Alberts is dieselfde dag terug na Pretoria, waar hy weer vir Botha ontmoet en hom meedeel dat dit die burgers se wens is dat hy van die beoogde veldtog teen Duitswes-Afrika moes afsien. As hy dit nie meer kon doen nie, moes hy sy bedanking indien. Alberts het hom ten sterkste aangeraai dat hy dit moes doen en nie op sy eie volksgenote moes skiet nie. Daar word vertel dat Botha ongeveer as volg geantwoord het: “Dit (hetsy bedank of die veldtog afstel) sal ek nooit doen nie. Tensy die mense hulleself binne drie dae oorlewer, gaan jy ’n bloedbad in die land sien.” Alberts het ook vir Botha oor Beyers se versoek vir ’n ontmoeting ingelig, maar Botha se antwoord was dat dit ’n slenter van Beyers was om hom te vang.

GEBOORTES

1873 – Jacobus Albertus du Plessis, professor in teologie aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO († 28 Februarie 1935)

Jacobus Albertus du Plessis was ’n bekende teoloog in die Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. In die jare na die Anglo-Boereoorlog, wat hy as veldprediker aan Boerekant meegemaak het, het hy hom sterk vir die Christelik-nasionale onderwys van die Afrikanerjeug beywer en onder meer op Reddersburg in CNO-skool tot stand gebring. In 1921 word hy hoogleraar aan die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk op Potchefstroom, en vanaf 1927 tot met sy dood in 1935 redakteur van Die Kerkblad. Nie slegs was hy skrywer van verskeie boeke nie, maar hy het ook met die vertaling van die Bybel in Afrikaans en met die Afrikaanse Psalmberyming gehelp. Hy was ’n begaafde en belese mens met ’n onwrikbare Calvinistiese lewensbeskouing. Hy is op Rustenburg gebore en op 28 Februarie 1935 op Potchefstroom oorlede.

1907 – Karl Kielblock, skrywer († 26 November 1991)

Karl Kielblock is een van die gewildste skrywers van Afrikaanse ontspanningslektuur – een van die eerste skrywers wat hom toegespits het op die skryf van ligte lektuur met ’n “nasionale” strekking. Hy put sy stof hoofsaaklik uit die vaderlandse geskiedenis, veral die vroeë dae aan die Kaap. Kielblock is op Beaufort-Wes gebore. Nadat hy sy skoolloopbaan op sy tuisdorp voltooi het, bekwaam hy hom as onderwyser aan die Paarlse Opleidingskollege. Hy gee onderwys by die openbare skool in die Strand, totdat hy voltydse skrywer word. Van Mikro (CH Kuhn) met wie hy jare lank goed bevriend was, het Kielblok besondere aanmoediging ontvang. In 1970 ontvang Kielblock die SA Akademie se Scheepersprys vir jeuglektuur vir sy avontuurverhaal Rebel. Ander titels wat uit sy pen gekom het, is Die skat van Java (1936). Die Vreemdeling (1938), Jasper le Feuvre (1942), Moord op Eendevlei (1943) en Adriaan Denys (1947).

1929 – Nicolaas Johan Nieuwoudt, geneesheer-generaal en bevelvoerder van die Suid-Afrikaanse Geneeskundige Diens van 1977 tot 1988 († 22 November 1989)

Nicolaas Nieuwoudt was ’n Suid-Afrikaanse militêre bevelvoerder. As mediese dokter het hy in 1960 by die Suid-Afrikaanse Lugmag se mediese tak aangesluit, na vyf jaar in privaat praktyk. Hy was bevelvoerder van die Suid-Afrikaanse Mediese Diens, as chirurg-generaal, vanaf 1977 tot 1988. Die SAMD is in 1979 opgegradeer om gelyk te staan met die weermag, lugmag en vloot.

STERFTES

1929 – Nicolas Johan Niewoudt, geneesheer-generaal en bevelvoerder van die Suid-Afrikaanse Geneeskundige Diens van 1977 tot 1988 (* 22 November 1989)

Nicolaas Nieuwoudt was ’n Suid-Afrikaanse militêre bevelvoerder. As mediese dokter het hy in 1960 by die Suid-Afrikaanse Lugmag se mediese tak aangesluit, na vyf jaar in privaat praktyk. Hy was bevelvoerder van die Suid-Afrikaanse Mediese Diens, as chirurg-generaal, vanaf 1977 tot 1988. Die SAMD is in 1979 opgegradeer om gelyk te staan met die weermag, lugmag en vloot.

2022 – Eric Nobbs, akteur (* 1 Januarie 1954)

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/