ERIC NOBBS (1954-2022)
Die bekende Afrikaanse akteur Eric Nobbs is op 23 Oktober 2022 in die ouderdom van 68 jaar aan ’n hartaanval oorlede.
Hy is op Nuwejaarsdag in 1954 gebore, maar ondanks sy bekendheid bestaan daar geen Wikipedia-bladsy oor hom nie en geen verdere biografiese inligting oor hom is bekend nie.
Hy het sy professionele debuut as akteur in 1978 by die Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste (TRUK) gemaak, maar later dieselfde jaar het hy by SWARUK (Suidwes-Afrikaanse Raad vir Uitvoerende Kunste) gewerk. In 1979 het hy na TRUK, met wie hy tot 1986 ’n verbintenis gehad het, teruggekeer. Onder die verhoogproduksies waarin hy opgetree het, was Bartho Smit se toneelstuk Die keiser, gevolg deur Faan se stasie, Pa maak vir my ’n vlieër Pa, The road to Slagtersnek, A streetcar named Desire en Huis op horings.
In 1984 was hy vir die eerste keer in ’n rolprent te sien toe hy die rol van kpl. Botes in Boetie gaan border toe, met Arnold Vosloo in die hoofrol, vertolk het. Ander rolprente waarin hy gespeel het, was Wie laaste lag en Orkney snork nie – dis lekker by die see. Hoewel dit alles komiese rolle was, kon hy ’n dramatiese rol ewe goed vertolk, soos hy bewys het in Hansie – a true story, waarin hy die rol van Hansie Cronjé se pa, Ewie, vertolk het.
Sy eerste televisierol was ook in ’n dramareeks, naamlik 1945, waarin hy as Johnny Roodt te sien was. Daarna het reekse soos Sien jy nou, Ma-plotters, Meester, Vlug na Egipte, Terug na Egipte en Lui maar op Belinda gevolg. In Die Byl, losweg gebaseer op die lewensverhaal van die bekende speurder Piet Byleveld, het hy die rol van die patoloog dr. Fritz Barnard gespeel.
In 1995 het hy begin om die land vol te toer met sy eenmanvertonings, onder meer Broekbrein, wat hy saam met Chris Vorster geskep het, asook Tell me the truth, waarvan Deon Opperman die teks geskryf het.
In 1985 het hy die Johannesburgse Stadskouburg-trofee asook ’n Vita-teatertoekenning gewen vir sy vertolking van Mitch in A streetcar named Desire. Hy is ook as beste akteur benoem vir sy rolle in die verhoogproduksie Pa maak vir my ’n vlieër Pa en televisiereekse soos Meester, Ma-Plotters en Sterk skemer. Sy vertoning in One man’s life het in 1999 aan hom ’n benoeming vir ’n Fleur du Cap-toekenning besorg. In Julie 2002 het hy twee FNB Vita-teatertoekennings gewen vir Broekbrein, naamlik vir sy vertolking van Albert Lombaard en vir die beste nuwe toneelstuk. In 2007 en 2008 het hy by al die kunstefeeste in die P.G. du Plessis-komediestuk Sophia Mentz beredder haar boedel, waarin hy die rol van die manlike hoofkarakter Tor Mentz vertolk het, opgetree en daarna het hy ’n geslaagde toer met die stuk Doppers en Filistyne onderneem. In 2012 het hy die rol van oom Schalk Lourens in Herman Charles Bosman se Leopards, Love potions and other Marico tales vertolk.
Ten tyde van sy dood was hy in Kaapstad besig om aan die derde seisoen van die kykNET-komediereeks Lui maar op Belinda te werk. Hy word oorleef deur sy vrou, Desré, met wie hy 41 jaar lank getroud was.
Daantjie Badenhorst