25 APRIL
GEBEURE
1804 – De Mist stig Uitenhage
Die nuwe landdrosdistrik, Uitenhage, is na die kommissaris JA van Uitenhage de Mist genoem. Na ’n lang reis deur die kolonie tussen Oktober 1803 en Maart 1804 het die kommissaris besluit om twee nuwe distrikte, te wete Tulbagh en Uitenhage, in die lewe te roep. De Mist het belangrike administratiewe veranderings aangebring en belangrike hervormings op godsdienstige en opvoedkundige terrein aanbeveel. Ongelukkig het min van die mooi planne tereggekom, omdat die Kaap in 1806 weer deur die Engelse beset is.
1860 – Telegrafiese kommunikasie tussen Kaapstad en Simonstad tree in werking
1900 – Anglo-Boereoorlog: Beleg van Jammersbergdrif
Die beleg van Jammersbergdrif kom na 16 dae ten einde. Aan Britse kant is daar 133 gewondes en 33 man het gesneuwel. Twaalf man is ook gevang. Aan Boerekant is 25 man gewond en 11 burgers het gesneuwel.
1949 – Maatskappy vir Europese Immigrasie gestig
Die inskakeling by die gemeenskapslewe van sy nuwe vaderland verloop vir geen immigrant sonder probleme nie. Daarom het die owerheid die MEI, wat in Mei 1949 as nutsmaatskappy geregistreer is, versoek om aandag te gee aan die inskakelingsprobleme van immigrante. Met sy hoofkantoor in Pretoria en nege streekkantore deur die land, beywer die MEI hom daarvoor om die immigrant direk na sy aankoms met simpatieke immigrantevriende in verbinding te stel en om hom deur basiese oriëntering met betrekking tot die belangrikste probleemvlakke, vertroud te maak met die Suid-Afrikaanse leefwyse en die Afrikaner se lewens- en wêreldbeskouing. Hierin werk die Afrikaanse kerke en nasionale kultuurorganisasies saam. Die doel hiervan is om die immigrant so gou moontlik geestelik, opvoedkundig en kultureel-maatskaplik tuis te maak in die Afrikaner se kerk, skool en kultureel-maatskaplike lewe. Besondere aandag word gegee aan die immigrantevrou en -kind d.m.v. demonstrasies, kursusse, lesings, uitstappies, kampe, ens., terwyl daar ook gepoog word om die immigrant se bydrae tot die samelewing in Suid-Afrika te beklemtoon. Die einddoel is om die immigrant as vreemdeling, volledig te assimileer.
GEBOORTES
1905 – Maria Ann Sophia Malan, premiersvrou († 19 Oktober 1973)
Maria Malan was die tweede vrou van Suid-Afrika se vierde eerste minister, dr. DF Malan.
1905 – Schalk Jacobus Botha, kultuurleier († 22 Oktober 1978)
Schalk Jacobus Botha, gebore in die Potchefstroomse distrik is op 22 Oktober 1978 in Pretoria oorlede, nadat hy sy lewe gewy het aan die uitbouing van die Afrikaanse kultuur en die vestiging van die Afrikaner op ekonomiese gebied. Hy het sy loopbaan as onderwyser begin, maar in 1944 uitgetree om hom heeltyds aan volksake en die sakelewe te wy. As sekretaris van die Voortrekker-eeufeeskomitee in 1938 en as lid van die Inwydingskomitee en hoofkampkommandant in 1949 het hy dwarsoor Suid-Afrika bekend geword as kultuurleier, ’n taak wat hy met oorgawe tot aan die einde van sy lewe vervul het. In 1948 het hy, as sekretaris van die Duitse Kinderfonds, 83 Duitse wesies vir wetlike aanneming na Suid-Afrika gebring, ’n taak wat hy dikwels as sy grootste bevrediging beskryf het. Benewens sy talle ander verpligtinge, was hy lid van die FAK-Hoofbestuur, voorsitter van die Afrikaans-Duitse Kultuurunie, en van die Interkerklike Anti-kommunistiese Aksiekomitee (Antikom). Sy belangstelling in die Afrikaner se ekonomiese toekoms strek terug na die Eerste Ekonomiese Volkskongres van 1939. Teen die einde van sy lewe het hy in nie minder nie as 32 direksies van Afrikaanse ondernemings gedien.
STERFTES
1880 – Cornelis Moll, landdros, koerantman en baanbreker-drukker in die ZAR (* 12 Maat 1815)
Cornelis Moll, vier-en-twintigste kind van Cornelis Moll van Nieuwendam, en Anna Sophia Nijhoff, word op hierdie dag in Kaapstad gebore. Nadat hy sy eerste drukkersaak in Kaapstad begin maar insolvent geraak het, het hy in Maart 1844 na Natal verhuis, waar hy die eerste koerant De Natalier begin het. Hy is deur pres. MW Pretorius oorreed om na die ZAR te gaan, en in 1857 rig hy ’n drukpers te Potchefstroom op. Hier het hy die eerste Transvaalse staatskoerant gedruk, maar as gevolg van meningsverskille met die owerheid, koop die regering spoedig die pers. Daarna dien hy as staatsekretaris en staatsprokureur, later as landdros van Pretoria en selfs as Volksraadslid. Met sy vele talente, maar rustelose geaardheid, kon hy baanbrekerswerk in die drukkersbedryf in drie gewestes verrig. Oorlede op 25 April 1880 op Nylstroom.
1901 – Carolus Johannes (Karel) Trichardt, seun van Louis Tregardt, die Trekkerleier (* 3 September 1811)
Karel Tregardt is op Boschberg, tans Somerset-Oos gebore. Onder sy vader, die Voortrekkerleier Louis Tregardt (1783 tot 1838), het hy aan die Groot Trek deelgeneem. Na hulle verblyf in die Soutpansberg het Tregardt sy vader na Delagoabaai vergesel. Daarvandaan het hy van 1838 tot 1840 verskillende seereise langs die Oos-Afrikaanse kus onderneem en plekke soos Inhambane, Sofala en Quilemane en hul hinterlande besoek, maar ook Abbesinië, Zanzibar en Madagaskar se nedersettingsmoontlikhede verken. In April 1840 reis hy oor land van Delagoabaai na Port Natal, waar hy in 1842 aan die stryd tussen die Voortrekkers en die Britse troepe deelneem. Hy het daarna na die Transvaal verhuis, en is op 25 April 1901 op Middelburg Transvaal oorlede. Luitenant-kolonel SPE Trichardt, bevelvoerder van die Staatsartillerie van die Zuid-Afrikaansche Republiek, was sy seun. Tregardt was die enigste Voortrekker wat as reisiger feitlik die hele ooskus van Afrika leer ken en hierdie kennis aan sy landgenote oorgedra het, met die gevolg dat hulle besluit het om Suid-Afrika hul permanente vaderland te maak. Carolus was die eienaar van die plaas Trichardtsfontein, waarop die dorp Trichardt aangelê is.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.