CAROLUS (KAREL) JOHANNES TRICHARDT (1811-1901)

VOORTREKKER INDERDAAD!

Die lewe van Carolus Trichardt dek die geskiedenis van ons volk tussen die Swart Omgang en die Tweede Vryheidsoorlog. Voordat die eerste Voortrekkers noordwaarts beweeg het, was Carolus al op die trekpad, en sy weg het hom gelei tot in die verre Abessinië. Deur barbare, koors en ontbering heen het sy ysere gestel hom gedra, en hy het lank genoeg geleef om geslagte te sien kom en gaan in die land waar die wa-spore van sy vader die woeste wêreld deurkruis het vanuit die ou Kolonie tot in Delagoabaai.

In die dagboek van Louis Trichardt staan byna op elke bladsy die doen en late te lees van sy oudste seun Carolus. Gebore te Bruintjieshoogte, het hy van kindsbeen in ’n harde skool grootgeword. Op agtienjarige leeftyd stuur sy vader hom in 1829 reeds met die vee oor die grens van die Kolonie. In 1835 gaan hy saam met sy vader oor die Oranjerivier en neem met hom sy vrou en twee kinders.

Op trek was hy die wamaker en ambagsman, en in 1836 help hy soek na die vermiste Van Rensburg-trek. Later maak hy die verskriklike ontberings van die tog na Delagoabaai mee, en daar sterf sy vrou, sy kinders en sy moeder. Net vader en seun bly oor van die mansmense van die Trichardt-trek.

Carolus gaan op aanbeveling van sy vader met ’n voorraad negosie aan boord van ’n Portugese handelskip. Die bedoeling was dat hy ’n woonplek moes soek langs die kus vir die mense, en hy reis noordwaarts na Inhambane, Sofala en Kilimane. By elke hawe land hy en onderneem handelstogte na die binneland.

So ontdek hy vyftien jaar voor Livingstone die Victoria-waterval, en hy dring deur tot by die groot mere. Hy swerf noordwaarts tot in Zanzibar, en al langs die Abessynse kus op tot by Kaap Guardafui en Jibuti aan die Rooi See.

In 1840 is hy weer in Delagoabaai, waar nog net die kerkhof onder die breë wildevyeboom oorbly om van die tog van Louis Trichardt te getuig. Carolus gaan suidwaarts tot in Swasiland, en kom net betyds om ooggetuie te wees van die moord op die verslane Dingaan. Hy reis te perd verder totdat hy in Mei 1840 by die kamp van Willem Landman in Natal aankom. Hy was uitgeteer en geel van die koors, maar kon aan die mense allerlei aardighede van sy tog toon.

Nog een-en-sestig jaar het Carolus Trichardt na hierdie awonture geleef. In 1840 is hy in Pietermaritzburg weer getroud, en in 1845 gaan woon hy in Ohrigstad. Hy besoek weer Delagoabaai, en speel in 1868 ’n belangrike rol by die afbakening van die Republiek se oosgrens.

As boer het hy vooruitgegaan en ’n pragtige plaas aangelê aan die Ohrigstad-rivier. In 1895 gaan hy as grysaard langs die voltooide spoorweg na Delagoabaai, en besoek die klein kerkhof van die Trichardt-mense.

Toe hy in sy negentigste jaar in Middelburg gesterf het, was die eerste fase van die Tweede Vryheidsoorlog reeds verby. Dit was ’n lang pad voorwaar, dié van Carolus Trichardt die Voortrekker.

“Carolus heb schoen speijkers gemaak. Ik heb een trektouw gedraaid. Ouwe Botha heb messen van juffrouw en hem gemaakt. Jan Pretorius heb ook een mes voor hem gemaakt.” – Dagboek van Louis Trichardt, Saterdag, 13 Mei 1837

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.

Foto: Tekening van ’n ou portret