25 FEBRUARIE

GEBEURE

1660 – Heining om vee te beskerm

Jan van Riebeeck besluit om ’n heining te plant sodat die inheemse volke nie gesteelde vee kan wegvoer nie. Oorblyfsels van hierdie heining is vandag nog te sien.

1727 – Pieter G van Noodt word goewerneur van die Kaap

1902 – Anglo-Boereoorlog: Oorwinning by Ysterspruit

Op die oggend van 25 Februarie 1902 is ’n verrassingsaanval deur genls. JH de la Rey, PJ Liebenberg, JCG Kemp en JG Celliers op ’n Britse konvooi onder bevel van kol. Anderson by Ysterspruit in die omgewing van Klerksdorp gedoen. Verwarring het gevolg, en aan Britse kant is 53 gedood, 130 gewond en sowat 500 krygsgevange geneem, terwyl hulle geskut en ’n groot hoeveelheid ammunisie ook in Boerehande geval het.

1902 – Anglo-Boereoorlog: Genl. Ben Viljoen

Generaal Ben Viljoen kom as krygsgevangene op St Helena aan.

1927 – Die groot diamantstormloop na Grootfontein, naby Lichtenburg, Wes-Transvaal, begin

 

GEBOORTES

1877 – Hjalmar Reitz, politikus, skrywer en oudste seun van pres. FW Reitz († 10 Januarie 1946)

Hjalmar Reitz is in Bloemfontein gebore as die oudste seun van pres. FW Reitz. Hy studeer in die regte in Londen en Amsterdam. In 1899 keer hy na Suid-Afrika terug om deel te neem aan die Engelse Oorlog, maar word by Vryheid gevange geneem en na Indië verban. Na die oorlog voltooi hy sy studie en verwerf ’n doktorsgraad in die regte aan die Universiteit van Amsterdam. Nadat hy in Pretoria in die regspraktyk gestaan het, word hy tot die Transvaalse Provinsiale Raad verkies as ondersteuner van genl. Hertzog van 1915 tot 1924. In laasgenoemde jaar word hy verkies tot Volksraadslid vir Brits en in 1933 verteenwoordig hy Jeppe. In 1919 is Reitz as lid van die Vryheidsdeputasie na Europa aangewys om die Boeresaak te gaan stel. Hy het reeds in 1903 die novelle De dochter van den handsopper geskryf. As mederedakteur met Tielman Roos, publiseer hy in 1909 Principles of Roman-Dutch Law en saam met Harm Oost Ons land en sy volk: ’n nasionale jaarboek, 1931. Sy outobiografie, wat hy in Engels skryf, verskyn in 1946: The Conversion of a South African Nationalist. Hy is op 10 Januarie 1946 in Johannesburg oorlede.

 

STERFTES

1807 – Johanna Margaretha Duminy, bekende Kaapse dagboekskrywer (* 29 Junie 1757)

Johanna Magaretha Duminy, gebore in Kaapstad op 29 Junie 1757, was die bekende Kaapse dagboekskryfster, dogter van Benjamin Nöthling en getroud met die Franse skeepskaptein, Francois Renier Duminy. Teen die einde van die 18de eeu woon hulle in hul huis, Le Jardin, teen die hange van Tafelberg, waar sy noukeurig boekhou van haar uitgawes. Dit bied ’n goeie insig in die daaglikse lewe van ’n betreklik welvarende Kaapse gesin. Johanna Duminy het veral bekendheid verwerf danksy haar dagboek – waarvan slegs ’n klein gedeelte bewaar gebly het – en wat sy op hulle Overbergse plaas, Bokkerivier, en op die warm bron naby Caledon geskryf het. Die dagboek het groot kultuurhistoriese waarde, omdat dit lig werp op die taalgebruik aan die Kaap teen die einde van die 18de eeu en ook die daaglikse lief en leed van die Overbergers op lewendige en humoristiese wyse uitbeeld. Sy is op Caledon oorlede.

1974 – Prof. Hendrik Johannes Jan Matthys (HJJM) van der Merwe, Afrikaanse taalkundige (* 27 Oktober 1913)

Hendrik Johannes Jan Matthys van der Merwe, alombekende taalkundige, is op Morgenzon in Oos-Transvaal gebore. In 1954 word hy professor in Afrikaans, Nederlands en Germaans by Unisa. Die pos beklee hy tot met sy dood op 25 Februarie 1974. Prof. Van der Merwe het hom veral beywer vir die Afrikaanse taalkunde. Hy het onder meer ’n kursus vir nie-Afrikaanstaliges geskryf, An intruduction to Afrikaans (1951) en ook Taalfunksie en Spellingvorm (1955), Die korrekte woord (1965), en Lees- en Skryftekens (1969). Verder het hy ’n aantal vroeë Afrikaanse geskrifte uitgegee. Hy was redakteur van ’n hele aantal bundels taalkundige opstelle. In 1962 reis hy deur Afrika en publiseer hy na aanleiding van sy reise werke soos Segregeer of sterf! (1961) en Swart Afrika – Waarheen? (1964). Deur sy toedoen word die Linguistiese Vereniging van Suid-Afrika in 1965 gestig, en tot met sy dood was hy redakteur van die vereniging se tydskrif Taalfasette. Sy werk, ook sy artikels, koerant- en radiorubrieke, is ’n belangrike bydrae tot die Afrikaanse taalkunde.

2004 – Alewyn Petrus (AP) Grové, letterkundige kritikus en taalkundige (* 10 Junie 1918)

AP Grové was ’n letterkundige en professor en hoof van die Departement Afrikaanse Letterkunde aan die Universiteit van Pretoria en later dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte. Hy is vir ’n termyn voorsitter van die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en ook lid en vir ’n tyd voorsitter van die Akademie se Letterkundekommissie. Hy skryf verskeie werke oor die letterkunde. Die skrywer Henriette Grové was sy vrou.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/