26 JULIE

GEBEURE

1649 – Oorhandiging van die Remonstrantie deur Janszen en Proot aan die Kamer van Amsterdam

L Janszen en M Proot het hulle Remonstrantie, wat gebaseer was op die ervarings van die skipbreukeling van die Haarlem, aan die Kamer van Amsterdam oorhandig. Leendert Janszen is te Tongeren in die Suidelike Nederlande gebore. Ten tye van die stranding van die Haarlem was hy ’n onderkoopman. In 1651 is hy as ’n ‘tweede persoon’ aangestel in Wingurla aan die weskus van Voor-Indië, en in 1864 het hy gesagvoerder van die gebied geword. In dieselfde jaar is hy tot koopman bevorder. Matthijs Proot is te Delft gebore, en teen 1642 wat hy op die eiland Ambon in die diens van die VOC. Hy was lid van die retoervloot in 1648 wat die skipbreukelinge van die Haarlem kom oppik het. Vanweë sy aandeel in die Remonstrantie is hy deur die VOC genader om verdere mondelinge advies in verband met die Kaapse verversingspos. Uiteindelik is hy ook oorweeg as eerste kommandeur van die te stigte verversingspos maar moontlik omdat hy ’n Rooms-Katoliek was, is die aanstelling nooit bekragtig nie.

1882 – Republiek Stellaland kom tot stand

Die republiek het ontstaan nadat blankes betrokke geraak het in gevegte tussen die Batlaping en die Korannas. Die Korannas het as oorwinnaars uit die stryd getree en aan die blankes grond as vergoeding gegee. Vryburg, die republiek se hoofstad, het daarna ontstaan.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Mev. President Steyn word by Fouriesburg deur Engelse gevang

1900 – Anglo-Boereoorlog: Piet de Wet lê wapens neer

Generaal Piet de Wet, broer van hoofkommandant CR de Wet, en sy personeel lê hul wapens in Kroonstad neer. Die twee broers is nooit weer versoen nie.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Naauwpoortnek, Brandwaterkom

1909 – Waratah verdwyn

’n Passasiersstoomskip, die Waratah, vertrek uit Durban en is onderweg na Kaapstad met 211 passasiers aan boord. Die skip het egter nooit die Kaap bereik nie en het spoorloos verdwyn.

1915 – Die eerste uitgawe van Die Burger verskyn

Die eerste uitgawe van Die Burger, oudste Afrikaanse dagblad, verskyn. Dit het gevolg op ’n vergadering van sestien vooraanstaande Afrikaners op 18 Desember 1914 op Stellenbosch, waar besluit is “dat het wenselik is een Hollands nieusblad uit te geven.” Daarop is die Nasionale Pers gestig om die koerant uit te gee wat, op voorstel van mnr HJ Bergh, De Burger sou heet. Bergh, sowel as mnr. Jannie Marais, wat die onderneming moontlik gemaak het deur aandele op te neem vir meer as sestig persent van die aanvanklike nodige bedrag en later geld voor te skiet vir die aankoop van ’n rolpers, is oorlede voor die eerste koerant verskyn het. Die eerste redakteur was dr. DF Malan. “De Burger is een kind van de smart en van die hoop,” het die eerste hoofartikel begin. “Hy is geboren uit die weeën van ons volk. Indien zware rampen niet ons volksbestaan hadden getroffen, hij zou er zeker niet geweest zijn.” Die invloed wat Die Burger na ’n moeilike ontstaan op politieke en kulturele gebied uitgeoefen het, is onberekenbaar.

 

GEBOORTES

1876 – Genl. Salomon Gerhardus (Manie) Maritz, Rebelleleier († 20 Desember 1940)

Salomon Gerhardus Maritz is op hierdie dag in Kimberley gebore. Hy was ’n polisieman in Johannesburg toe hy in Oktober 1899 saam met die Boksburgkommando na die oorlogsfront in Natal gegaan het. Hy het lid van Danie Theron se dapper Verkennerskorps geword. In Februarie 1901 gaan veg hy in die Kaapkolonie en word tot veggeneraal bevorder. Hy weier om die wapen met die vredesluiting op 31 Mei 1902 neer te lê en gaan deur Duits-Suidwes na Europa. In 1914 moet hy as Rebelleleier noodgedwonge deur Angola na Portugal vlug. Uit Duitsland het hy na sy vaderland gekom, en in 1923 word hy tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis, maar is in 1924 vrygelaat. Hy sterf in ’n motorongeluk op 19 Desember 1940. Sy outobiografie My lewe en strewe het in 1938 verskyn. Hy is in die Nuwe Kerkhof in Pretoria-Wes begrawe, waar ’n granietrots met die inskrywing “Vat my hand dat ek kan opstaan vir my volk” op sy graf aangebring is.

1882 – Dr. Cornelius Francois Visser (Vader Visser), Afrikaanse opvoedkundige en jeugbewegingleier († 7 Augustus 1965)

1924 – Dirk de Villiers, rolprentmaker en akteur († 28 Desember 2009)

Dirk de Villiers was ’n Suid-Afrikaanse akteur en ’n rolprentmaker. Hy is een van die Suid-Afrikaanse regisseurs met die langste loopbane en was sowat ses dekades lank voor en agter die kamera werksaam. Hy het 25 vollengte-rolprente en 13 dokumentêre gemaak.

 

STERFTES

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/