28 JANUARIE
GEBEURE
1846 – Die Susan kom in die Kaap aan
Die Susan, die eerste van 19 skepe wat 4 185 kontrak-immigrante binne vyf jaar na die Kaapkolonie sou bring, kom in die Kaap aan
1860 – Alie Brand
Een van die heel oudste Afrikaanse liedjies waarvan verskeie vroeë optekeninge bestaan, is die hartstogtelike minneliedjie “Alie Brand”. Die heel eerste gedrukte fragment verskyn op 28 Januarie 1860 in Het Volksblad, waar verslag gedoen word van ’n besope man, Jan Zezar, of Cesar (later Syster), wat op straat gesing het: “Alie, mijn Alie, gij kost mijn nog mijn nek/ zonder mijn Alie wil ek liewers vrek.” In die loop van die volgende sowat 25 jaar het variasies van hierdie liedjie verskeie kere in druk verskyn, onder andere in De Zuid-Afrikaan (1864), The Cape Monthly Magazine (1874) en The Northern Post and Aliwal North Gazette (1874). Die eerste en die laaste strofes van die liedjie verskyn hier; die eerste soos dit in die Cape Monthly Magazine verskyn het, en die laaste soos dit ’n klompie jare later deur dr. N Mansvelt opgeteken is en in 1908 in sy Hollands-Afrikaanse Liederbundel verskyn het:
Ach mij lieve Alie Brand, de liefste van mijn hart,
Laat ons onze schaapjes op een klompje maak,
Geê mij permissie, mijn liefste Alie Brand,
Om morre naar de dorp te rij, en haal die predikant.
Als jij ni wil nie, dan weet ik wat ik doet;
Dan vat ik ’n tamaai riem en die bind ik om je voet
En so, mij liefste Alie, hou ik dan voor jou vas;
Want sonder mij liefste Alie
Is’t leven mij ’n las.
1881 – Eerste Vryheidsoorlog: Die Slag van Laingsnek
Die eerste skote van die Transvaalse Vryheidstryd het op 16 Desember 1880 geval. Die Boerekrygers was vasbeslote en doelgerig en het onmiddellike welslae behaal. Die Britse garnisoene is op verskeie plekke in Transvaal vasgekeer. Sir George Colley, Britse bevelvoerder, het besluit om Transvaal sonder versterkings binne te val. Genl. Piet Joubert het die inval verwag en ’n gunstige posisie by Laingsnek gekies om die inval af te wag. Tevergeefs het sir George Colley met 1100 manskappe en ses veldkanonne probeer om die burgers uit hulle skuilings te verdryf. Uiteindelik moet die Britse mag die aftog blaas met ’n lewensverlies van 83 en 11 gewondes.
1901 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Naauwpoort
1901 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Avontuur, Kaapkolonie
1902 – Anglo-Boereoorlog: Aanval op Leliefontein-sendingstasie
Generaal Manie Maritz loods ’n verwoede aanval op die Leliefontein-sendingstasie waar hy en 8 ander mans die vorige dag aangeval is. Sowat 35 anderskleuriges kom te sterwe. Groot hoeveelhede koring en vee word gekonfiskeer en na Namakwaland gestuur. Generaal Jan Smuts keer die aanval ten sterkste af.
1904 – Het Volk gestig
Die Het Volk politieke party word in die Transvaalkolonie deur genl. JC Smuts en genl. Louis Botha gestig.
1920 – Die Afrikaanse Hoërskool kom tot stand
Die Afrikaanse Hoërskool (later verdeel in afsonderlike skole vir seuns en meisies) kom in Pretoria tot stand as die eerste suiwer Afrikaansmediumskool in Suid-Afrika, vyf jaar voor die amptelike erkenning van die Afrikaanse taal.
1959 – Hoërskool Groote Schuur
Die Hoërskool Groote Schuur, Kaapstad, amptelik geopen deur Otto du Plessis, Kaapland se administrateur.
1970 – Die Henley on Klip busramp
Op 28 Januarie 1970 het ’n skoolbus op die spoorlyn gaan staan en is deur ’n postrein in stukke geruk. Van die 42 kinders op die bus is 23 dood en 16 ernstig beseer. Twee het ongedeerd daarvan afgekom. Die busbestuurder, ene mnr. Koekemoer, is nie beseer nie. Johan le Roux, ’n matriekleerling by Hoërskool Dr Malan, het ten minste twee kinders deur ’n busvenster gestoot voordat die trein die staande bus getref het en het self in die ongeluk gesterf.
GEBOORTES
1835 – Frans Lion Cachet, broer van Jan Lion Cachet; leraar en skrywer († 27 November 1899).
Hierdie ouer broer van Jan Lion Cachet is in Amsterdam, Holland, gebore. Deur invloed van Christenvriende het die hele gesin Cachet, van Joodse afkoms, tot die Christelike geloof oorgegaan. In Maart 1885 is hy as proponent in die Vrye Skotse Kerk toegelaat, en hy vertrek na Suid-Afrika, waar hy in verskeie gemeentes werksaam is: Kaapstad, Ladysmith, Utrecht, Villiersdorp – 28 November 1862 is hy gelegitimeer as predikant van die NG Kerk. In 1875 en 1876 was hy in Holland werksaam, en toe weer vier jaar op Villiersdorp, totdat hy in 1880 finaal terugkeer na Holland, waar hy op 27 November 1899 in Bergen-op-Zoon sterf. Hy het ’n belangrike boek geskryf wat vandat nog ’n bron van inligting is: De Worstelstrijd der Transvalers (1883). Ermelo is in 1880 deur hom gestig.
1859 – Benedictus de Korte, Transvaalse regter († 21 Junie 1922)
1876 – Kapt. Jacobus Johannes Naudé, Boereverkenner († 27 Junie 1956)
Jacobus Johannes Naude, vernuftige spioen vir die Boeremagte in Transvaal, het aan die vooraand van die Britse inname van Pretoria opdrag ontvang om in die stad agter te bly om spioenasiewerk te doen. Vroeg in 1900 is hy as kaptein en bevelvoerder van die speurdiens aangestel, en met ’n dertigtal burgers het hy uiters gevaarlike spioenasietogte na Pretoria onderneem. Vir die duur van die oorlog het hy en sy korps nooit aan groot gevegte deelgeneem nie, maar hulle as guerrilla-vegters onderskei. Hy was deurgaans in Britse offisiersuniform geklee en het die vyand soveel las besorg dat ’n bedrag van £2 000 op sy hoof geplaas is. Hy is op 27 Junie 1956 in Pretoria oorlede.
STERFTES
1889 – Jacobus Johannes Venter, politikus en waarnemende president van die Vrystaatse Republiek (* 22 Maart 1814).
Jacobus Johannes Venter was ’n Vrystaatse boer, politikus asook stigter van die Gereformeerde Kerk in die Oranje-Vrystaat en leier in dié kerkverband.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.