28 JULIE

GEBEURE

1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Slaapkrans, Brandwaterkom

1914 – Eerste Wêreldoorlog breek uit

Die Eerste Wêreldoorlog het op 28 Julie 1914 in Europa uitgebreek, presies ’n maand ná die sluipmoord op aartshertog Frans Ferdinand van Oostenryk, wat die troonopvolger van Oostenryk-Hongarye was. Dit word bestempel as die grootste oorsaak van die oorlog omdat sy moord in Sarajewo deur ’n Joego-Slawiese nasionalis, tot ’n diplomatieke krisis met die koninkryk van Serwië gelei het. Omdat die groot moondhede (Verenigde Koninkryk, Frankryk en die Russiese Ryk), met hulle kolonies binne weke in die oorlog teen die sentrale mag van Duitsland en Oostenryk-Hongarye betrokke geraak het, het dit vinnig deur die hele wêreld versprei. Italië, Japan en Amerika het hulle by die groot moondhede aangesluit, terwyl die Ottomaanse Ryk en Bulgarye die sentrale mag gesteun het. Die oorlog het vier jaar en vier maande geduur, met tussen 15 en 22 miljoen mense wat dood is.

 

GEBOORTES

1874 – Michiel Hendrik Neser, digter (†22 Julie 1932)

Michiel Hendrik Neser is op 28 Julie 1874 op die plaas Lukaskop in die distrik Philipstown gebore en op 22 Julie 1932 in Griekwaland-Wes oorlede.

Hy het in die Karoo grootgeword en sy enigste onderwys het hy saans van sy vader ontvang. Bedags het hy agter die skape boeke gelees waarvan die romans van Walter Scott en Jacob van Lennep sy geliefde werke was. Hy het ook Bosch oor natuurwetenskaplike onderwerpe soos Darwin se 𝘖𝘳𝘪𝘨𝘪𝘯 𝘰𝘧 𝘴𝘱𝘦𝘤𝘪𝘦𝘴 gretig gelees.

Neser het gou self begin dig en sy pogings na 𝘖𝘯𝘴 𝘒𝘭𝘺𝘯𝘵𝘫𝘪 gestuur waar sy talent dadelik deur ds. SJ du Toit raakgesien is. Hy word in 1899 uitgenooi om op die redaksie van 𝘖𝘯𝘴 𝘒𝘭𝘺𝘯𝘵𝘫𝘪 en 𝘋𝘪𝘦 𝘈𝘧𝘳𝘪𝘬𝘢𝘢𝘯𝘴𝘦 𝘗𝘢𝘵𝘳𝘪𝘰𝘵 te dien. Hy het egter nie van ds. Du Toit se politieke beskouings gehou nie en keer na sy plaas terug.

Met die opbloei van die Afrikaanse digkuns ná 1900, besef hy gou dat sy werk uit die mode is en probeer hy veral vir Jan Celliers navolg.

Onder sy eerste gedigte tel “Die klaaglied van die laaste boerevrou” (1896) en “Ons sonnige Afrika”, ’n bekoorlike natuurgedig. As prosaskrywer verdien sy werke 𝘞𝘢𝘵 𝘨𝘦𝘭𝘥 𝘬𝘢𝘯 𝘥𝘰𝘦𝘯 en 𝘋𝘦𝘶𝘳 𝘩𝘰𝘰𝘨𝘮𝘰𝘦𝘥 𝘮𝘪𝘴𝘭𝘦𝘪 vermelding.

1902 – Dr. Jan Bouws, musiekkenner en komponis († 26 Januarie 1978)

Jan Bouws, Nederlands-Afrikaanse musiekwetenskaplike, musiekpedagoog, skrywer en komponis (onder andere “Op my ou ramkietjie”) is op hierdie dag in Purmerend, Nederland gebore. Na opleiding as onderwyser en gedurende sy lang onderwysloopbaan studeer hy in Amsterdam musiekwetenskap onder proff. Bernet Kempers, Smits van Waesberghe en andere, en begin vroeg reeds intens belangstel in die Afrikaner en veral sy musiekkultuur. In 1946 verskyn in Brugge uit sy pen in Afrikaans, die eerste en tot nog toe enigste poging tot ‘n omvattende musiekgeskiedenis van Suid-Afrika Musiek in Suid-Afrika. Die huis van Jan en Juliana Bouws in Amsterdam was ’n toevlug en tuiste vir baie Afrikaanse studente in Nederland. Na nog ’n hele aantal publikasies oor die musieklewe van Suid-Afrika, veral die Afrikaanse volkslied, besoek Bouws op uitnodiging van die FAK Suid-Afrika in 1957 vir die eerste keer. Hy vestig hom in 1960 op Stellenbosch en lê daar die grondslag vir musiekwetenskaplike werk aan die universiteit. Ook in verskeie internasionale publikasies het hy artikels oor musiek in Suid-Afrika gepubliseer. In 1972 by die FAK se Algemene Vergadering is ’n oorkonde uit erkentelikheid vir die rol wat hy in die bevordering van die Afrikaanse lied gespeel het, aan hom oorhandig. Vanweë sy swak gesondheidstoestand, is die oorkonde deur mev. Juliana Bouws in ontvangs geneem. Hy is op 26 Januarie 1978 in Tygerberg oorlede.

1916 – Schalk Pienaar, joernalis en koerantredakteur († 12 Oktober 1978)

Schalk Pienaar was die eerste redakteur van die dagblad 𝘉𝘦𝘦𝘭𝘥. Hy was bekend daarvoor dat hy nie gehuiwer het om die beleid van die Nasionale Party te kritiseer in ’n tyd toe ander koerante dit slaafs ondersteun het nie. In 1965 het hy die redakteur van die destyds nuwe Sondagkoerant 𝘋𝘪𝘦 𝘉𝘦𝘦𝘭𝘥 geword; dit het gelei tot ’n hewige tweestryd met 𝘋𝘢𝘨𝘣𝘳𝘦𝘦𝘬, wat reeds sedert 1947 bestaan het. Binne vyf jaar het 𝘋𝘪𝘦 𝘉𝘦𝘦𝘭𝘥 ongeveer ’n miljoen lesers gehad en ’n gewigtige faktor gehad in die woelinge van die laat 1960’s in Afrikanergeledere. Die koerant se letterkundeblad, sportrubrieke en ander rubrieke het nuwe standaarde gestel, met die gevolg dat 𝘋𝘪𝘦 𝘉𝘦𝘦𝘭𝘥, anders as 𝘋𝘢𝘨𝘣𝘳𝘦𝘦𝘬, ook gewild onder bruin en Engelssprekende lesers geword het.

Die politieke en sosiale spanninge rondom Pienaar het sy gesondheid só aangetas dat hy die tuig as redakteur neergelê het voordat die twee koerante een geword het en ’n nuwe Sondagkoerant, bekend as 𝘙𝘢𝘱𝘱𝘰𝘳𝘵, gestig is. Teen 1974 het sy gesondheid egter verbeter en hy is aangestel as stigtersredakteur van die destyds nuwe dagblad 𝘉𝘦𝘦𝘭𝘥. Aangesien sy gesondheid weer verswak het, het hy die tuig in Januarie 1975 neergelê, en hy is op 12 Oktober 1978 in die ouderdom van 62 jaar oorlede.

 

STERFTES

1961 – Frans Eduard Geldenhuys, eerste redakteur van die Landbouweekblad (* 24 September 1889)

Frans Eduard Geldenhuys is in Johannesburg uit ’n Afrikaanse familie wat hulle ná die Groot Trek in Transvaal kom vestig het, gebore. Na die Tweede Vryheidsoorlog het hy sy studie aan die Hoër Jongenskool Stellenbosch voltooi en behaal hy ’n B.A.-graad aan die Victoria-Kollege. Geldenhuys se lewensideaal was om onderwys te gee. Tog studeer hy verder in Landbou-ekonomie. Nadat hy aan verskeie buitelandse universiteite studeer het, behaal hy in 1917 die graad Ph.D. in Landbou aan die Universiteit van Cornell. ’n Kort tyd was hy landbou-onderwyser aan Grey-Kollege, Bloemfontein, warna hy verskillende poste in die Departement van Landbou beklee het. Hy was die eerste redakteur van die Landbouweekblad en ook die eerste hoof van die afdeling Landbou-ekonomie en -bemarking, waarvan hy die stigter was. Hy vorder tot adjunk-sekretaris van die Departement. Na ’n diplomatieke loopbaan in Rome het hy in 1940 na die Unie van Suid-Afrika teruggekeer. Hy het in verskillende rade gedien, onder meer die Raad van die Universiteit van Pretoria. In Januarie 1957 word hy aangestel as Suid-Afrika se ambassadeur in Nederland. In 1961 het hy teruggekeer na sy vaderland, waar hy op 28 Julie 1961 oorlede is.

1982 – Coert Steynberg, beeldhouer en ontwerper (* 7 Januarie 1905)

Hy was ’n monumentale Suid-Afrikaanse kunstenaar wat vroeg reeds internasionale erkenning gekry het. Ondanks sy roem het hy egter altyd beskeie gebly, hierdie forse man wat die meeste van sy beelde uit ruwe graniet gebeitel het. “Mense vergeet so gou,” het Coert Steynberg by geleentheid oor sy eie kunswerke gesê. Maar sy naam sal bly voortleef in die skat van beelde en monumente wat hy nagelaat het. En al word sekere van sy werke (soos die Bloedrivier-monument en D.F. Malan-borsbeeld) miskien vandag anders beoordeel in die veranderde Suid-Afrika, behoort dit geen afbreuk te doen aan die besondere bydrae van die befaamde Steynberg tot die Suid-Afrikaanse kuns nie. Coert Steynberg was ’n internasionaal-bekroonde beeldhouer en ontwerper.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/