COERT STEYNBERG (1905-1982)

Coert Steynberg was ’n internasionaal bekende beeldhouer en ontwerper.

Hy is op 7 Januarie 1905 in die Pretoria-distrik gebore, en toe hy vier jaar oud was, het die gesin na ’n plaas in die Bethal-distrik in Mpumalanga verhuis. Nadat hy aan die plaaslike hoërskool gematrikuleer het, het hy kuns aan die Rhodes-universiteit in Grahamstad gestudeer. Daarna het hy twee jaar lank onder Gilbert Ledward aan die Royal College of Art in Londen gestudeer en die August Spencer-trofee ontvang as die beste beeldhoustudent aan die kollege in daardie tyd. Hy het ook ’n ontwerpmodel ingedien vir ’n standbeeld van Jan van Riebeeck vir die fasade van die Suid-Afrikaanse ambassade (Suid-Afrika huis) in Londen. Hoewel hy die opdrag ontvang het, is die onderwerp later na Bartholomeu Dias verander. Hy was nogtans daarvoor verantwoordelik, en dit is in 1933 uit Portland-klip gemaak, hoofsaaklik volgens die styl wat in die vroeë dekades van die twintigste eeu vir grootskaalse beeldhouwerk gebruik is. Steynberg was ses jaar lank in die buiteland en in hierdie tyd het hy deur Europa getoer om kunsmuseums te besoek en kunswerke te bestudeer.

Kort nadat hy in 1934 na Suid-Afrika teruggekeer het, het hy opdra ontvang om die binnepanele en buitenste geweldriehoek van die stadsaal van Pretoria te beeldhou. Terwyl hy nog in Engeland was, het hy sy eerste portretopdrag ontvang van Sir Arnold Theiler, die stigter van die veeartsenyskool van die Universiteit van Pretoria by Onderstepoort. Hierdie opdrag is in 1937 in graniet voltooi. Steynberg het hoofsaaklik as portretkunstenaar en beeldhouer van openbare monumente bekendgestaan. Onder die materiale waarmee hy gewerk het, was klip, marmer, brons, hout, draad, seëllak, gekleurde glas en keramiek. Hoewel hy hoofsaaklik bekendheid verwerf het vir groot standbeelde van openbare figure, is sy vele privaat werke soos die beroemde beeldjie van die dansende Mabalel sy deurslaggewendste werk.

Steynberg se eerste monument is die een wat dalk as sy grootste werk beskou word. Die Bloedriviermonument is van 1936 tot 1938 ontwerp, maar die Tweede Wêreldoorlog het die onthulling daarvan tot 1947 vertraag. Die monument, op die terrein waar die slag van Bloedrivier, in die Utrecht-distrik van KwaZulu Natal plaasgevind het, is in die vorm van ’n ossewa met vyftien trappies wat na die voorkant van die tent-wa lei en is uit grys graniet gekap. Die panele beeld die gelofte, die oorwinning, die oprigting van die Geloftekerk uit. Die monument simboliseer die drie funksies van ’n ossewa; ’n mobiele huis, ’n fort en ’n kerk.

Steynberg het ook die Hugenote-meisie vir die Hugenote-monument op Franschhoek geskep, asook die ruiterstandbeeld van genl. Louis Botha by die Uniegebou in Pretoria, waaraan hy van 1938 tot 1942 gewerk het en in 1946 onthul is. Hy was ook verantwoordelik vir die beelde van die trekleier Andries Pretorius asook sy seun, MW Pretorius, na wie Pretoria vernoem is. Dit is in 1946 gevolg deur ’n ruiterstandbeeld van genl. Christiaan de Wet in Bloemfontein, asook ’n beeld van Sarel Cilliers langs die NG Kerk op Kroonstad. Laasgenoemde beeld staan op ’n kanon-wa, met die hand hoog opgelig in ’n smeekgebed. Die vingers van die hand, die posisie van die kop en die houding van die figuur is in harmonie met die kerkgebou en -toring. In 1961 was hy verantwoordelik vir die Vredesmonument in Vereeniging, wat die geestelike herlewing van ’n oorwonne volk gesimboliseer het. Die borsbeeld wat Steynberg van adv. JG Strijdom gemaak het, het op ’n voetstuk onder ’n koepel op die Strijdom-plein in Pretoria gestaan. Hierdie beeld, wat in 1966 voltooi is, is vernietig toe ’n ondergrondse parkeerterrein ineengestort het.

Steynberg is op 28 Julie 1982 in die ouderdom van 77 jaar in Pretoria oorlede.

deur Daantjie Badenhorst