28 MAART
GEBEURE
1658 – Slawe kom in Kaapstad aan
Die eerste 82 slawe in die Kaap het op 28 Maart 1658 op die Amersfoort in Tafelbaai aangekom, hoofsaaklik om in die lande en tuine te werk. Hulle is in Mei daardie jaar gevolg deur nog 148 slawe wat op die Hasselt in die Kaap aangekom het en van wie baie aan die Vryburgers verkoop is. Dokumente van die Hasselt toon dat die slawe aan die kus van Guinee in Wes-Afrika aan skepe verkoop is. Die heel eerste slaaf aan die Kaap na wie in die geskiedenis verwys word, was ene Abraham van Batavia wat ’n jaar na Jan van Riebeeck op die skip Malacca betrap is waar hy weggekruip het toe hy van Cornelis Lichthart gevlug het. Hy het drie jaar lank as slaaf vir die N.O.I.K gewerk voordat hy na Batavia teruggestuur is. Slawerny is in 1833 in Suid-Afrika afgeskaf, maar die slawe het eers vier jaar later hul vryheid teruggekry.
1899 – Lord Milner stuur die uitlanders in die ZAR se klagskrif na Engeland
1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Veertien Strome, Warrenton
Generaal SP du Toit verskuif sy artillerie gedurende die nag aan die Vaalrivier nader aan die brug by Veertien Strome en die Britse kamp aldaar. Die verrassing was volkome en die eerste skoot het akkuraat binne die Britse kamp geval. Die son het lank reeds gesak voor genl. Du Toit se mag terug na Warrenton onttrek het.
1918 – Santam word geregistreer as maatskappy
GEBOORTES
1923 – Monica Breed, omroeper, aktrise en skrywer († 25 Mei 2021)
Monica Breed was ’n baanbreker Afrikaanse omroeper, aktrise en skrywer van kleuterprogramme en hoorbeelde. Sy was een van die eerste omroepers van die Afrikaanse radiodiens van die SAUK. Sy was ook bekend as skryfster vir die radio en as radio- en rolprentaktrise, onder meer in Die vlindervanger.
1887 – Helena Barry-Hofmeyr, lid van die Vrystaatse Provinsiale Raad (29 Januarie 1954)
STERFTES
1825 – Frans Rynhard Bresler, beampte van die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie en landdros van Graaff-Reinet (* 27 Julie 1766)
1875 – Dr. Abraham Faure, die vader van die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch (* 29 Augustus 1795)
Abraham Faure is op 29 Augustus 1795 uit ’n gesiene Stellenbosse familie gebore. Hy ontvang sy skoolopleiding op Stellenbosch en in die Latynse skool te Kaapstad. Vir verdere studie gaan hy na Gosport in Engeland, waar hy as sendeling van die London Missionary Society opgelei word. Daarna gaan na die Universiteit van Utrecht, waar hy sy teologiese studie afhandel. Hy was van 1818 tot 1822 predikant van Graaff-Reinet en van 1822 tot sy aftrede in Kaapstad. Hy het ’n leidende rol gespeel in die sameroeping van die eerste Sinode van die NG Kerk in 1824. Baie jare was hy lid van die moderatuur as aktuarius en skriba. Hy het hom veral daarop toegelê om tydskrifte uit te gee en so inligting en kennis deur te gee aan die Hollandse bevolking aan die Kaap, wat maar min geleentheid daartoe gehad het. In 1824 stig hy Het Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Tijdschrift waarin kennis en nuus meegedeel is sonder om in politieke vaarwaters te beland. Dit bly voortbestaan tot 1843. In 1838 stig hy die eerste kerkblad in Suid-Afrika, De Honingby. Dit word op 13 Januarie 1849 die spreekbuis van die NG Kerk in Kaapland met die naam De Gereformeerde Kerkbode. Dr. Faure bly hiervan redakteur tot 1869. In 1910 word dit die amptelike orgaan van die Gefedereerde NG Kerke en dit bestaan vandag nog onder die naam Die Kerkbode. Met hierdie tydskrifte het dr. Faure ’n groot bydrae tot die bevordering van die Hollands-Afrikaanse kultuur in Suid-Afrika gelewer. Maar hy was ook in die onderwys geïnteresseerd. Hy was stigter van die Z.A. Athenaeum in 1829, waaruit later die Universiteit van Kaapstad ontwikkel het. Hy het hom beywer vir die uitbreiding van kennis deur boeke. Hy was voorsitter van die Zuid-Afrikaansche Christlijke Boekvereniging en het gesorg dat die Von Dessen-versameling wat die kerkraad in bruikleen aan die Suid-Afrikaanse Biblioteek gegee het, gereeld met boeke aangevul is. Hierdie versameling is een van die kosbaarste kulturele besittings wat ons in Suid-Afrika het.
1900 – Petrus Jacobus (Piet) Joubert, Boerekryger en generaal (* 20 Januarie 1834)
Piet Joubert is op Damaskus naby Prins Albert gebore en was naas Paul Kruger die gewildste figuur in die Zuid-Afrikaansche (Transvaalse) Republiek. As kind het hy Retief se trekgeselskap met die Voortrek vergesel, maar op 16-jarige leeftyd het hy na Transvaal getrek en hom, na sy huwelik met Hendrina Johanna Susanna Botha op 2 April 1851 , op Rusfontein, distrik Wakkerstroom, gevestig. In die openbare lewe het hy vinnig opgang gemaak. In 1855 was hy veldkornet, in 1865 Volksraadslid (’n amp waartoe hy reeds in 1860 verkies is, maar nie kon aanvaar nie, omdat hy nog nie 30 jaar oud was nie); in 1873 voorsitter van die Volksraad en in 1875 selfs waarnemende staatspresident tydens pres. TF Burgers se afwesigheid in Europa. “By laasgenoemde se terugkeer het hy hom uit die openbare lewe teruggetrek en selfs geweier om op pres. Burgers se versoek die ekspedisie teen Sekoekoenie aan te voer. Na die anneksasie van Transvaal (1877) onderskei hy hom as kampvegter vir die herstel van die onafhanklikheid, onder meer as lid van die Tweede Deputasie na Engeland, afgevaardigde na die Britse verteenwoordigers in Suid-Afrika (Hoë kommissaris en Transvaalse Administrateur) en lid van die Driemanskap – die herstelde Boereregering. As kommandant-generaal voer hy die Boerekommando’s aan by Laingsnek, Skuinshoogte en Amajuba in die Transvaalse Vryheidsoorlog en verwerf hy soveel gewildheid by sy volk as krygsman dat hy telkens as kommandant-generaal herkies is. Dit het hom lidmaatskap van die Uitvoerende Raad – die Regering indertyd – besorg. ’n Tyd lank het hy tewens die betrekkinge van Visepresident en van Superintendent van Naturelle beklee. Ook het hy in talle Regeringskommissies gedien. Dit was sy ideaal om Staatspresident te word, maar hy is in elke verkiesing deur Kruger verslaan. As kommandant-generaal het hy die burgers in etlike oorloë teen swartes aangevoer, en in die Engelse Oorlog het hy as opperbevelhebber van die Transvaalse krygsmag en aanvoerder van die burgers by Ladysmith opgetree. Hy is op 27 Maart 1900 in Pretoria oorlede.
1935 – Tielman Johannes de Villiers (Tielman) Roos, advokaat, regter, politikus en minister van justisie vanaf 1924 tot 1929 (* 18 Mei 1879)
Tielman Johannes de Villiers Roos is op 8 Mei 1879 in Kaapstad gebore en het in 1902 na Transvaal verhuis. Hy het belangrike aanvoorwerk vir die totstandkoming van die Nasionale Party gedoen en daarna ook ’n vurige kampvegter vir die republikeinse ideaal geword. Sy onderhandelinge agter die skerms met Arbeiderleiers na die Randse staking (1922) het gelei tot die bewindsoorname van die Pakt in 1924. In die nuwe kabinet was hy Minister van Justisie, maar ’n omstrede figuur weens sy inmenging in kollegas se terreine. Swak gesondheid het hom in 1929 uit die politiek laat tree, waarna hy appèlregter geword het. Sy hertoetrede tot die politiek teen die einde van 1932 het ’n enorme ekonomiese en politieke omwenteling tot gevolg gehad. Pogings om met genl. JC Smuts ’n koalisieooreenkoms te sluit, het misluk en in Mei 1934 het Roos die Sentrale Party gestig – ’n party met suiwer ekonomiese oogmerke en met ’n kortstondige bestaan.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.
https://af.wikipedia.org/wiki/
Frikkie Wallis Facebook