TIELMAN ROOS (1879-1935)

Tielman Roos was ’n Suid-Afrikaanse politikus, advokaat, regter en kabinetsminister.

Tielman Johannes de Villiers Roos is op 8 Mei 1879 in Kaapstad gebore. Hy is as regsgeleerde opgelei en het in 1902 na Transvaal verhuis. Hier het hy leier van die Nasionale Party geword vanaf die stigting van die party in Januarie 1914. Hy was altyd streng republikeins in sy politieke beskouing en was gekant teen die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika in 1910. Hy het steun onder die blanke werkers in Transvaal gewerf en die mynwerkerstaking in 1918 ondersteun. In 1922 was hy ’n gereelde spreker tydens geleenthede in aanloop tot die staking in 1922 waartydens blanke werkers beswaar teen salarisvermindering en die toename in swart werkers gemaak het.

Danksy sy bemiddeling het kol. Frederic Cresswell en genl. Barry Hertzog in 1922 begin met onderhandelings vir die koalisie tussen die Arbeidersparty en die Nasionale Party. Die Pakt-regering, wat as gevolg hiervan tot stand gekom het, was aan bewind van 17 Junie 1924 tot met die samewerking tussen die Suid-Afrikaanse Party en die Nasionale Party vanaf 1933 wat op 5 Desember 1934 uitgeloop het op die stigting van die Verenigde Suid-Afrikaanse Nasionale Party.

Roos was van 1915 tot 1929 volksraadslid vir die Lichtenburg-kiesafdeling en minister van justisie in die eerste Pakt-regering. Hy was in 1929 verantwoordelik vir die “Swart manifes” wat die verkiesing op 18 Junie 1929 as die “Swartgevaar-verkiesing” gekenmerk het. Hy was ’n sterk voorstander van rasseskeiding. Hy het sy beleid om na die blanke werkers uit te reik, voortgesit en hulle genooi om by die Arbeidersparty aan te sluit.

Hy het kort daarna weens swak gesondheid uit die politiek getree en is in die verkiesingsjaar tot appèlregter benoem. In 1932 het hy weer tot die politiek toegetree met ’n opsienbarende toespraak oor die noodsaaklikheid om van die goudstandaard af te stap. Dit het die Pakt-regering laat wankel en gelei tot die samesmelting van die Nasionale Party en die Suid-Afrikaanse Party.

Hy het sy hand egter ietwat oorspeel met die stigting van die Sentrale Party, ’n party wat sy steun moes konsolideer, op 12 Mei 1934. Die party het voor sy stigting aan die verkiesing van 17 Mei 1933 deelgeneem. Die twintig kandidate kon net 23 723 stemme kry om net twee kandidate verkies te kry. Een van hulle was oud-president FW Reitz se seun, Hjalmar Reitz. Die party het op 9 Maart 1935 ontbind, weens ’n gebrek aan steun en omdat Roos uit die koalisieregering weggelaat is.

Hy is op 28 Maart 1935 in die ouderdom van 55 jaar oorlede.

deur Daantjie Badenhorst