28 MEI

GEBEURE

1900 – Anglo-Boereoorlog: Slag by Klipriviersberg (Doornkop), ZAR wat twee dae sou duur

1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Kheis, Kaapkolonie

1938 – Eerste rugbywedstryd op Loftus Versfeld

Die eerste rugbywedstryd op Loftus Versfeld is op 28 Mei 1938, gespeel toe die nuut-afgestigte Noord-Transvaal en die Vrystaat met 11-11 gelykop gespeel het. Dit is vernoem na Robert Loftus Owen Versfeld wat die organiseerder van sportbyeenkomste in Pretoria was. Die terrein is van 1906 af vir verskeie sportbyeenkomste gebruik wat daardie tyd as die Oostelike Sportterrein bekend was. In 1923 is die eerste sementstruktuur opgerig wat sitplek vir 2 000 toeskouers gebied het. Vandag het Loftus sitplek vir 51 762 toeskouers. Ná die All Blacks se toer in 1928 deur Suid-Afrika het die Pretoriase sub-unie genoeg geld gehad om kleedkamers te bou. Ná die dood van Versfeld in Mei 1932, het die Pretoriase sub-unie besluit om die veld na hom te vernoem.

 

GEBOORTES

1881 – Prof. Daniël Francois (DF) Malherbe, digter en dramaturg († 12 April 1969)

Daniel Francois Malherbe is in Daljosafat, naby Paarl, gebore. Hy het grootgeword in ’n sfeer wat gedruk was in liefde vir land, volk en taal. Sy vader, PJ Malherbe, was ’n wynboer wat op 14 Augustus 1875 een van die stigterslede van die Genootskap van Regte Afrikaners was. In die Gedenkschool der Hugenoten, waar hy saam met AG Visser en Totius gestudeer het, is sterk nadruk gelê op vaderlandsgeskiedenis en Bybelkunde.

Die pleganker van sy lewe en sy werke was godsdienssin en volksliefde. Nadat hy die BA-graad aan die Victoria College op Stellenbosch verwerf het, is hy sonder enige voorkennis van Duits na Duitsland, waar hy na ’n aantal jare die DLitt-graad magna cum laude aan die Universiteit van Freiburg behaal het.

Terug in sy vaderland, was hy eers dosent aan die Hugenote-Seminarie op Wellington en sedert die begin van 1907 skoolhoof op Carnarvon. ’n Tyd lank het hy lesings aan sy Alma Mater op Stellenbosch behartig, totdat hy op versoek van genl. JBM Hertzog op 7 Februarie 1910 as professor in moderne tale met lesings in Frans en Duits, aan die Grey-Universiteitskollege begin het. Bloemfontein sou sy tuiste wees tot by sy rustige heengaan op 12 April 1969. DF Malherbe was ’n dinamiese mens, ’n vurige vaderlander, ’n meevoerende spreker en ’n besielende dosent.

 

STERFTES

1911 – Stefanus Jacobus du Toit, predikant, stryder en stigter van die GRA (* 9 Oktober 1847)

Stefanus Jacobus du Toit is op 9 Oktober 1847 op Dal Josafat by die Paarl gebore. Hy het sy skool- en teologiese opleiding respektiewelik aan die Paarlse Gimnasium en die Kweekskool op Stellenbosch ontvang. SJ du Toit was onder die invloed van Arnoldus Pannevis ’n vurige voorvegter vir Afrikaans as selfstandige taal. Sy politiek-nasionale doelstelling – “om te staan vir ons taal, ons nasie en ons land” – het hy deur die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus in 1875, met as spreekbuis Die Afrikaanse Patriot, die Afrikanerbond in 1879 en sy aandeel in die opstel van die Afrikaanse Volkslied, bevorder. Hy kan daarom as die eerste Afrikaanse Nasionalis beskou word.

In 1882 het hy Superintendent van Onderwys in Transvaal geword. Sy onderwyswet het die onderwys in die Republiek bevorder. Sy eersug en betrokkenheid by Transvaalse politieke aangeleenthede soos die Wesgrens-kwessie, die Pretoria-Konvensie, aandele-spekulasies in die Goudstad, leerstellige aangeleenthede en sy teenkanting teen die regering se konsessiebeleid, het hom in regeringskringe ongewild gemaak. In 1888 het hy as Superintendent van Onderwys bedank en hom weer in die Paarl gaan vestig waar hy hom met die vertaling van die Bybel in Afrikaans, ’n taak deur die GRA in 1885 aan hom opgedra, besig gehou het. Hy het dus ook ’n baanbreker op die gebied van die Afrikaanse Bybelvertaling geword. Na sy terugkeer na die Paarl het hy die beleidsrigting van Die Patriot gewysig. Sy kritiek op die Krugerbewind en pleidooie vir konsiliasie tussen Brits- en Afrikaanssprekendes het hom verder van sy mede-Afrikaners vervreem. Die gevolg was dat die Eerste Taalbeweging waarvan hy die vader was, teen 1900 doodgeloop het.

In sy tweede Paarlse tydperk het ds. SJ du Toit egter verbasend veel ter bevordering van die Afrikaanse taal en letterkunde sowel as oor algemene en godsdienstige onderwerpe gepubliseer. Hy het verskeie Afrikaanse boeke geskryf soos Die Koningin van Skeba in 1897, die eerste Afrikaanse gepubliseerde drama. Hy het ook gedigte geskryf, maar hulle is nooit gebundel nie. Hy is algemeen beskou as die “Vader van die Afrikaanse taal; stigter van die Afrikanerbond, en stryder van die Calvinisme” – die inskrywing op sy graf. In sy lewe was hy predikant van die NG Kerk, Calvinistiese teoloog, Bybelvertaler, leier van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging, skrywer, Superintendent van Onderwys in Transvaal, en koerant- en tydskrifredakteur. Op besoek aan Calvinia in Augustus 1910 het sy perdekar omgeval. Die ernstige beserings wat hy in die ongeluk opgedoen het, het uiteindelik gelei tot sy sterwe op hierdie dag op Kleinbosch, Dal Josafat.

1922 – Jan Daniël Cilliers, digter (* 16 Februarie 1854)

Jan Daniël Cilliers is op ’n plaas naby Wellington gebore en het vroeg kennis gemaak met Die Patriot en sy strewe om Afrikaans erken te kry. In Die Patriot het die meeste van sy gedigte onder die skuilname Kleinjan Wat Versies Maak, Neef Jan (Wat Versies maak), Jan die Versiemaker Junior Verskyn. In 1886 is hy na die goudveld. Hy vestig hom en sy gesin mettertyd op Potchefstroom waar hy op 28 Mei 1922 oorlede is. Hy het Transvaalse burger geword en as sodanig aan die Engelse Oorlog deelgeneem. Na CP Hoogenhout was hy die produktiefste digter van sy tyd in Afrikaans; hy het feitlik tot aan sy dood gedig. Sy gedigte sal ’n paar boekdele vul. Die meeste is godsdienstig. Hoogenhout was veral bekommerd oor die welsyn van sy volk, Cilliers veral oor die welsyn van sy siel. Nadat Cilliers die sewe lydensweke berym het, sluit hy af:

Muns Heilands kruis is almyn lus
Syn kruis myn hoop, Syn kruis myn rus
Myn troos, myn heil, myn lewe.

Hy het ook enkele speels-humoristiese en ’n paar komiese gedigte geskryf. Sy werk getuig van innigheid en opregtheid, maar besit weinig oorspronklikheid.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/