S.J. DU TOIT (1847-1911)
S.J. du Toit was ’n predikant van die NG Kerk, ’n stigterslid van die Genootskap van Regte Afrikaners en redakteur van verskeie Afrikaanse koerante en tydskrifte.
Stephanus Jacobus du Toit is op 9 Oktober 1847 op die plaas Kleinbosch in Daljosafat gebore as die jongste van dertien kinders. Twee van sy broers was Daniël Francois du Toit, ook bekend as Oom Lokomotief, en Charles Wijnand du Toit, predikant van die NG Kerk en later die Hervormde Kerk in Potchefstroom. Sy pa was die erfgenaam van die plaas Kleyne Bosch wat in 1692 aan sy stamvader Francois du Toit uitgegee is. Goewerneur Simon van der Stel het die plaas aan Du Toit toegeken ondanks die feit dat dit buite die grense van die destydse kolonie geleë was; op voorwaarde dat hy ’n duisend gulde moes betaal en homself teen die aanvalle van die San moes beskerm. Sy gevegte teen die San het gelei tot die benaming van die Du Toitskloof omdat dit die kloof was waardeur hy die San agtervolg het.
Hy en sy ouer broer D.F. du Toit het hul skoolopleiding aan die Goewermentskool op Daljosafat ontvang. Hul onderwyser was Baert Smith, ’n Engelsman wat ’n foutiewe uitspraak van sy eie taal gehad het en die leerlinge daardeur beïnvloed het. Dit het beter gegaan toe eerwaarde Roth hul onderwyser geword het. Hy het op Kleinbosch geboer totdat hy negentien jaar oud was, en daarna geroepe gevoel om ’n predikant te word. Vanaf 1866 het hy vir twee jaar by die Paarl-gimnasium ingeskryf maar eerder privaat onderrig by Arnoldus Pannevis en T.S.A. Hoffman ontvang. Hierdie onderrig het hom in staat gestel om die admissie-eksamen tot die Kweekskool op Stellenbosch te slaag.
In 1868 hy sy studie aan die Kweekskool voortgesit en voorsitter van die studentevereniging geword. Hy het hier aan die huis van ’n weduwee geloseer en in ’n verhouding met haar dogter, Elizabeth Jacoba (Bettie) Joubert, betrokke geraak. Hy het sy proefpreek in Augustus 1872 gelewer en sy studies aan die einde van daardie maand voltooi.
In hierdie tyd het hy aan Bettie verloof geraak en hulle is kort daarna getroud. Vier kinders, onder wie die bekende digter Jacob Daniël du Toit (Totius) is uit die huwelik gebore. Sy broer David is jonk oorlede en sy Bettie op 1 November 1882. Hy is daarna op 8 Julie 1887 getroud met Anna Francina Malan. Twee seuns en twee dogters is uit hierdie huwelik gebore.
Nadat Du Toit sy studies voltooi het, is hy as proponent van die NG Kerk deur die professore gestuur om Transvaal deur te reis en die Woord oral te verkondig. Dit het daartoe gelei dat ’n gemeente in Pretoria hom as predikant beroep het. Tweespalt in die Transvaalse kerk tussen diegene wat predikante van Nederland wou invoer en diegene wat aansluiting by die Kaapse kerk wou vind, het gemaak dat hy na die Kaap teruggekeer het. Daar het hy tydelike beroepe aanvaar en as waarnemer opgetree vir ds. Heyns in Kaapstad en ds. Andrew Murray in Wellington. Hy is in laasgenoemde gemeente as predikant georden. Hierna het hy ’n beroep na Kruisvallei in Tulbagh aanvaar In 1875 het hy ’n beroep na die destyds nuut afgestigte Noorder-Paarl-gemeente, waar hy tot 1882 predikant was, aanvaar. Benewens sy werk as predikant was hy betrokke by godsdiensonderrig aan die Paarl-gimnasium.
Reeds in 1874 het hy as Ware Afrikaander ’n reeks van drie artikels in De Zuid-Afrikaan geskryf, waarin hy voorbrand gemaak het vir die belangrikheid van die moedertaal en die stelling dat Afrikaans nie ’n taal kan wees nie, weerlê het. Hy het onder andere die taalreël dat mense moet skryf soos hulle praat, neergelê.
Intussen was Arnoldus Pannevis as oortuigde Christen geesdriftig oor die vertaling van die Bybel in Afrikaans sodat die bruin mense van die land in hul eie taal met die Evangelie bereik kon word. Hy het ’n brief aan De Zuid-Afrikaan hieroor onder die skuilnaam “Een vriend van het nuttige” geskryf ; dit is in die uitgawe van 7 September 1872 gepubliseer. Daar is heelwat briewe as teenreaksie hierop geskryf, en daarom het Pannevis ’n tweede brief, wat in die uitgawe van 21 September 1872 gepubliseer is, geskryf. Toe hierdie brief nie die gewenste uitwerking gekry het nie, het hy op 7 November 1872 ’n private brief aan die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap (BBBG) geskryf. Dit het regstreeks gelei tot die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners. In hierdie brief het Pannevis vir Du Toit as moontlike vertaler aanbeveel maar hy het Afrikaans op taktlose wyse as ’n “dialekt gedeeltelijk door verwaarlozing van de moedertaal” verwys. Dit het gemaak dat die BBBG nie geneë was om ’n brabbeltaal te bestendig nie. Die BBBG het hierdie skrywe in ’n brief van 7 Januarie 1875 na hul plaaslike verteenwoordiger in Kaapstad, ds. George Morgan, verwys. Morgan het die saak met Du Toit bespreek om uit te vind of die behoefte aan ’n Afrikaanse Bybelvertaling werklik so groot was. Du Toit wou die saak eers met ’n aantal voorstanders van Afrikaans bespreek. Daarom het hy ’n vergadering vir 14 Augustus 1875 in die Paarl belê. Die ander sewe persone wat teenwoordig was, was August Ahrbeck, C.P. Hoogenhout, Gideon Malherbe, dr. D.F. du Toit, D.F. du Toit (Oom Lokomotief), Petrus Malherbe en S.G. du Toit. Tydens hierdie vergadering is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) gestig. Almal behalwe Ahrbeck en Hoogenhout was aan mekaar verwant.
Die aanvanklike hoofdoel was om die Bybel in Afrikaans te vertaal sodat mense dit in hul eie taal kon lees, maar die doel het gou verbreed om Afrikaans in die algemeen te bevorder. As nie-amptelike leier van die GRA was Du Toit die skrywer van die organisasie se manifes en ander pleitstukke, die belangrikste skrywer van Die geskiedenis van ons land in 1877, en in 1880 was hy die samesteller van Die Geskiedenis van die Afrikaanse Taalbeweging. Hy was die eerste redakteur van Di Patriot, ’n blad wat op 15 Januarie 1876 vir die eerste keer verskyn het, maar in 1878 het hy die redakteurskap aan sy ouer broer, D.F. du Toit (Oom Lokomotief) oorgegee. In 1880 het die Kaapse Sinode van die NG Kerk met ’n beweging begin om Hollands in die Kaapse Parlement as voertaal erken te kry; hulle het ’n kommissie, met Du Toit as sekretaris, vir hierdie doel benoem. Op 1 Mei 1882 is Hollands, op voorstel van J.H. (Onze Jan) Hofmeyr in die parlement erken.
In 1877 het hy sy bekende twaalf toesprake oor die onvervulde profesieë gelewer; dit het wye belangstelling uitgelok en mense van naburige gemeentes het ook daarna kom luister. Dit het ook die aandag van ds. Murray, wat die toesprake bygewoon het, getrek. In dieselfde jaar het hy ’n keelkwaal ontwikkel; dit het algaande versleg en hom in sy prediking gestrem. Dit het twee mislukte operasies tot gevolg gehad. Ten einde hom die kans te gee om te herstel, het die gemeente in 1879 ’n beurs ter waarde van £ 200 tot sy beskikking gestel wat hom in staat gestel het om Europa, Egipte en Palestina te besoek. In Londen het hy ’n preek van die bekende Charles Spurgeon bygewoon en in Nederland het hy kennis gemaak met die invloedryke teoloog en staatsman Abraham Kuyper, wie se denke op teologiese en politieke gebied ’n groot invloed op hom uitgeoefen het. Hierdie ervarings het uiting gevind in sy boeke Op reis en Bijbellanden doorreisd.
In 1879 het ’n versoek van Beaufort-Wes gekom dat Du Toit hom as Volksraadslid vir die Kaapse Parlement verkiesbaar moes stel maar omdat sy gemeentewerk dit nie sou toelaat nie; het hy geweier. Vanaf 1879 het hy hom egter deur middel van Di Patriot beywer vir die oprigting van die Afrikanerbond; ’n Hollandse politieke party in Kaapland wat hom veral vir die vereniging van Afrikaners regdeur die land en die gelykstelling van Hollands en Engels beywer het. Nadat verskeie take van die Afrikanerbond reeds in 1881 gestig is, is die party tydens ’n kongres op 1 Maart 1882 formeel in die lewe geroep. Die Afrikanerbond het Di Patriot as mondstuk gebruik en het duidelike republikeinse doelwitte en die vereniging van provinsies nagestreef. Gedurende Mei 1883 het die twee grootste Afrikanerorganisasies van die tyd saamgesmelt. Die Zuid-Afrikaansche Boerenbeschermingsvereniging (ZABBBV) van J.H. Hofmeyr het, soos die naam aangedui het, die belange van boere bevorder het, het met die Afrikanerbond saamgesmelt; die amptelike naam was die Afrikanerbond en ZABBBV, maar as party het dit as die Afrikaander Nationale Partij bekendgestaan. Hierdie organisasie het in 1890 op Nederlands as amptelike taalmedium besluit , hoewel Di Patriot tot 1899 as mondstuk behoue gebly het. In hierdie jaar is Di Patriot as mondstuk onthef as gevolg van die politieke rigting wat Du Toit ingeslaan het.
Intussen het Du Toit hom beywer vir die stigting van ’n Afrikaanse skool en in Di Patriot van 24 Desember 1880 is die doelwitte van die voorgenome skool uiteengesit. Daarna is geld regdeur die land gekollekteer en op 1 Februarie 1882 het die skool ’n werklikheid geword. Die Gedenkschool der Hugenoten op Kleinbosch in Daljosafat is op hierdie dag gestig, met Oom Lokomotief as onderwyser. Reeds in 1881 het Du Toit ’n aanbod van die Transvaalse regering gekry om superintendent van onderwys daar te word. Hy het die aanbod aanvaar op voorwaarde dat hy sy leraarsamp sou behou, dat sy beginsels van Christelik-Nasionale onderwys aanvaar sou word en dat hy mettertyd ’n bekwame sekretaris sou kon aanstel. Hy het die amp van 13 Maart 1882 af beklee. In Transvaal was daar in 1882 slegs 43 skole en 872 leerlinge, teen 1887 was daar reeds 116 skole en 2 795 leerlinge. Hy het dit reggekry deur ’n wet op te stel ingevolge waarvan die bevoordeling van dorpskole bo plaasskole in terme van toelaes beëindig sou word. Ouers sou aangemoedig word om skoolbywoning te verbeter en sodoende sou hulle groter toelaes bekom. Daarby het hy die gehalte van die onderwysers verbeter. Kort nadat hy in Transvaal aangekom het, is sy vrou ná ’n kort siekbed oorlede en in hierdie tyd het hy sy kinders in die sorg van sy ma en skoonma in Paarl oorgelaat.
In die vroeë stadium van sy verblyf in Transvaal het hy ’n vertroueling van pres. Paul Kruger, wat hom oor feitlik alle staatsaangeleenthede geraadpleeg het, geword. Saam met genl. Nicolaas Smit en pres. Kruger was hy deel van die Transvaalse Deputasie wat Europa in September 1883 besoek het om volle onafhanklikwording van Engeland te kry. Die deputasie was suksesvol; en hulle het daarin geslaag om onafhanklikheid te herwin. Ingevolge die Londense konvensie waarop daar ooreengekom is, moes slegs verdrae met Bantoestamme en vreemde moondhede vooraf goedkeuring van die koningin verkry. Transvaal se skuldlas is ook verminder. Dokumente het bevestig dat Du Toit met sy vlot Engels en skerp insig ’n besondere rol gespeel het in die bemiddeling tussen lord Derby, die Britse minister van kolonies, en pres. Kruger. Die deputasie het ook België, Nederland, Portugal, Frankryk en Duitsland besoek en in al hierdie lande ’n groot indruk gemaak. In die Belgiese stad Antwerpen is drie passasierskepe te water gelaat met die name President Kruger, Minister du Toit en Generaal Smit; hulle het jare lank op die Rynrivier gevaar en die Transvaalse Vierkleur tot 1902 gedra. In Frankryk is Kruger die simbool van ’n vryheidsvegter genoem en Du Toit is as ’n soldaat, redenaar en digter beskryf. In Duitsland het kanselier Otto von Bismarck die deputasie onthaal en Du Toit het as Kruger se tolk opgetree. Tydens hierdie reis is Du Toit benoem tot lid van die geografiese genootskap van Portugal en Frankryk. Die deputasie het in 1884 uit Europa na Suid-Afrika teruggekeer.
Hy is op 8 Julie 1885 in Paarl weer getroud, hierdie keer met Anna Francina Malan. Twee kinders uit die huwelik is vroeg oorlede terwyl die ander twee volwasse ouderdom bereik het. Op 11 September 1885 het die GRA die vertaling van die Bybel aan hom opgedra. Toe goud ontdek is, het hy in 1888 uit sy pos as superintendent van onderwys van Transvaal bedank om direkteur van ’n goudmaatskappy bekend as De Eendracht te word. Hy het al sy bates hierin belê en was van plan om na Europa te reis en met sy terugkeer weer in die Kaap te gaan woon en hom aan die vertaling van die Bybel te wy. Voordat hy oorsee sou vertrek, het pres. Kruger hom gevra om sy bedanking uit sy pos as superintendent van onderwys terug te trek en hom ’n salaris in sy afwesigheid te betaal. Du Toit het egter die aanbod van die hand gewys en slegs onderneem om weer die pos met sy terugkeer op te neem. Hierna het hy, sy vrou en kinders Europa teen die einde van 1889 en aan die begin van 1890 besoek. In die Belgiese hoofstad Brussel het hy privaat gesprekke met die koning, die minister van buitelandse sake en die burgemeester gevoer en op 18 Augustus 1889 het hy die Vlaamse Landdag te Kortrijk toegespreek. Terwyl hulle op reis was, is sy seun Stefaan in die Paarl aan komplikasies weens kinkhoes oorlede. Hy het ook feitlik al sy besittings verloor toe die goudmaatskappy bankrot gespeel het. In hierdie omstandighede het hy nie sy weg oopgesien om weer sy pos as superintendent van onderwys op te neem soos hy belowe het nie.
In Augustus 1890 het hy en sy gesin na Suid-Afrika teruggekeer en in die Paarl saam met sy vrou en vyf kinders in die agterkamertjie in die agterplaas van ’n gehuurde woning ingetrek. Toe dit effens beter gegaan het, het hulle ’n vleuel van die Patriot-gebou betrek. Hy het hom nou voltyds aan Bybelvertaling gewy en van 1891 die redakteurskap van Di Patriot oorgeneem nadat C.P. Hoogenhout en Oom Lokomotief besluit het om die blad te verlaat uit protes teen Du Toit se politieke oortuigings. Daarby het hy De Getuige, ’n maandelikse godsdienstige blad wat hy in 1892 van stapel gestuur het, asook De Paarl, ’n blad wat drie keer per week in die Paarl uitgegee is. Hy het sekretaris geword van die Paarlse bestuurskomitee van die Taalbond, wat hom beywer het vir die bevordering van Hollands in stryd met verengelsing en hy was instrumenteel in die daarstelling van die Taalbondeksamens, waarvan die eerste een op 11 Junie 1892 afgelê is. In 1894 het hy ’n uitgebreide reis na Masjonaland en Matabeleland (vandag Zimbabwe) onderneem om ondersoek in te stel na die geskiedenis en potensiaal van mynbou van hierdie land. Dit vind weerklank in die werke Sambesia, of Salomo’s goudmijnen bezocht, in 1894, wat in Engels uitgegee is as Rhodesia past and present, asook die roman Die koningin van Skeba.
Op 15 en 16 Januarie 1896 het hy die eerste Afrikaanse taalkongres in die Paarl georganiseer, waartydens die saak van Bybelvertaling bespreek is en daar besluit is om ’n letterkundige tydskrif uit te gee. Die eerste uitgawe van hierdie tydskrif, waarvan hy redakteur was, bekend as Ons Klyntji, is in Maart 1896 gepubliseer. Hierin is daar gepoog om die gehalte van letterkundige bydraes te verhoog. Jan Lion Cachet was een van die vroeë medewerkers. Nog ’n nuwe publikasie wat in Maart 1896 verskyn het, was die eerste uitgawe van ’n nuwe dagblad onder sy redaksie, bekend as Het Dagblad. Hiervoor het hy hom hoofsaaklik in Kaapstad gevestig, met ’n karig gemeubileerde redaksiekantoor wat sommer ook sy woonplek was. Die laaste uitgawe van Het Dagblad het egter op 30 September 1898 verskyn. Op 27 en 28 Januarie 1897 het hy die tweede taalkongres in die Paarl gereël. Dit alles het egter veld begin verloor omdat hy die ander Afrikaners óm hom met sy politieke oortuigings van hom vervreem het. Hy het Cecil John Rhodes aanvanklik ondersteun in sy strewe na ’n verenigde Suid-Afrika, al wou Rhodes dit onder die Britse vlag, pleks van as ’n onafhanklike land, bereik. Hoewel hy na die Jameson-inval van Rhodes vervreem geraak het, het hy nie sy politieke sienswyse verander nie en hy het ’n skerp kritikus van veral die Transvaalse regering gebly. Daarby het sy ultra-fonetiese spelling ook in onguns begin raak. Hy het sy bande met die Afrikanerbond verbreek en in 1898 ’n nuwe politieke party in opposisie met die Afrikanerbond, bekend as Die Koloniale Unie, gestig. In hierdie jaar het hy die verkiesingstryd in die Richmond-kiesafdeling teen die Afrikanerbond verloor en hom aan die aktiewe politiek onttrek.
Op 29 September 1899, twee weke voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog het hy sy Afgepersde Getuienis gepubliseer. Hierin het hy gewaarsku dat Transvaal geen kans in die dreigende oorlog teen Engeland gehad het nie en dat hulle eerder die onreg moes herstel en hul toevlug na God moes neem. Hy het gemeen dat God slegs tot hul redding sou kom as hul kant skoon was. Du Toit se standpunte het hom ongewild gemaak, en hy is as persoon verguis deurdat hy in hierdie tyd vele beledigende en dreigende briewe ontvang het. Die publikasie van Di Patriot, De Getuige en Ons Klyntji is tussen 1904 en 1906 gestaak. Twee Jode wat hy vroeër gehelp het om hulle as immigrante te vestig, het hom egter in staat gestel om die plaas Schoongezicht naby Daljosafat te koop. Hier het hy wyn gemaak wat selfs uitgevoer is en ook ’n byeboerdery bedryf. Hy het hierdie plaas verkoop om weer die familieplaas Kleinbosch in die hande te kry.
In Augustus 1910 het die perdekar waarmee hy tydens ’n besoek aan Calvinia gery het, omgeval. Die gevolg was dat hy beserings opgedoen het wat sy gesondheid geknou het en hom vir die grootste deel van die res van sy lewe bedlêend gehou het. Hy is op 28 Mei 1911 in die ouderdom van 63 jaar op Kleinbosch oorlede en in die familiebegraafplaas op die plaas ter ruste gelê.
Daantjie Badenhorst