29 FEBRUARIE
GEBEURE
1510 – D’Almeida gooi anker in “Tafelbaai”
Don Francisco d’Almeida gooi op hierdie dag anker in ’n toekomstige Tafelbaai. Tesame het die vloot uit drie skepe bestaan, en was D’Almeida aan boord die Belem gewees. Van die bemanning het aan wal gestap en sake met die inheemse bevolking gedoen. Sake het goed gevlot, en is daar ook by die mense se kraal aangedoen. Die groep wat die kraal besoek het, is onderweg terug na die strand aangeval. Terug aan boord die skip was D’Almeida oortuig om ’n vergeldingsaksie te loods. Op 1 Maart 1510 het 150 soldate onder bevel van D’Almeida aan wal gestap. Die geveg het begin kort nadat hulle by die kraal aangekom het. In kort het die Portugese mag die slegste daarvan afgekom en het D’Almeida tesame met etlike ander op die strand gesneuwel.
1684 – Goew. Simon van der Stel se koperekspedisie op reis
Gerugte van ryk kopermyne in die binneland het goew. Simon van der Stel van tyd tot tyd bereik. As handelsliggaam het die VOC sterk daarop aangedring dat waardevolle minerale in sy kolonies ontgin moet word. Toe ’n aantal Manakwas op ’n dag by die Kasteel opdaag sonder koper, het die goewerneur besluit om Isaak Schrijver met 15 soldate en drie mynwerkers saam met hulle na die noorde te stuur om na die kopermyne te soek. Simon van der Stel kon op daardie oomblik sekerlik nie besef het watter fabelagtige ryk minerale bronne in die binneland van Suid-Afrika op ontginning gewag het en watter geweldige invloed dit op die verloop van die Suid-Afrikaanse geskiedenis sou hê nie.
1752 – Ekspedisie van August Friedrich Beutler verlaat die kasteel
In opdrag van goew. Tulbagh, wat graag meer besondere inligting oor die uitgestrekte Oos-Kaapse binneland wou bekom, het ’n groep landtoggangers onder aanvoering van Beutler op hierdie dag van die Kasteel vertrek. Altesaam 71 mense en elf waens het die destydse bekende trekroete tot by Mosselbaai gevolg. Daarvandaan het hulle deur Attakwaskloof deur die Langeberge, ooswaarts met Langkloof langs en verder in ’n noordoostelike rigting tot oos van die Keirivier gereis. Eers na ongeveer agt maande was die ekspedisie by die Kasteel terug. Deur die tog is die bekende maar vae inligting oor hierdie gebied deur juister waarnemings vervang. Voorts het hierdie reis die aandag sowel van die voorttrekkende veeboerpionier as van die owerheid op Attakwaskloof as natuurlike roete oor die Langeberge gevestig. Langkloof is nie slegs as hooftoegangsroete tot die Oos-Kaapse streke oopgestel nie, maar dit het as ’n belangrike vestigingstreek vir die Afrikaner in sy wording en vir sy nageslag gedien.
GEBOORTES
1932 – Laura Rautenbach, beeldhouer († 12 April 1998)
STERFTES
2000 – Elizabeth (Betsie) Verwoerd, eggenoot van dr. HF Verwoerd (* 17 Mei 1901)
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.