BETSIE VERWOERD (1901-2000)
In waardige lydsaamheid
Die Cape Times skryf: “The silent dignity of Mrs Betsie Verwoerd was perhaps the most striking of the tribute.” Inderdaad was dit ook so daardie stil middag in Pretoria toe duisende mense langs die strate bymekaar gekom het en sy, ietwat geboë met ’n gesiggie strak van smart tussen haar dogters aangestap het na die Heldeakker. Klein en fyn en seer, maar met ’n stille berusting wat genoeg was om ’n hele volk te vertroos.
Elizabeth Schoombee was ’n Karoonooi, van Middelburg in die Oos-Kaapse Karoo se kontrei. Van kleins af doelgerig, maar stil van geaardheid. Die Schoombees is ’n gerespekteerde ou familie van Deense herkoms. Schoombeesklip, die familieplaas, behoort al aan die familie van 1780 af. Oom Wynand Schoombee en tant Anna het drie dogters: Anna, Irene en Betsie, die jongste.
Betsie is ’n slim kind. Sy gaan skool op Middelburg en matrikuleer daar as topleerling in haar klas. Daarvandaan vertrek sy na Stellenbosch om te leer vir onderwyseres. Sy draf die grade kaf. BA cum laude, Onderwysdiploma cum laude, BEd cum laude en MA met Afrikaans Nederlands. Dit is die jaar 1922/23. En by ’n huisdans loop sy haar vas in die lang Hollander.
Hy is ’n lid van die Studenteraad, die seun van ’n Nederlandse immigrant, Wilhelmus Verwoerd, wat in 1903 na Suid-Afrika gekom het. Selfs in die jare van die Boereoorlog, toe die Verwoerds nog aan die Jacob van Lennepkade in Amsterdam gewoon het, was oom Wilhelmus al ’n vurige ondersteuner van die Boere. Die Verwoerds vestig hulle in Wynberg, waar oom Wilhelmus ’n boukontrakteursbedryf op die been bring. Verwoerd jnr., met die doopname Hendrik Frensch, gaan skool in Kaapstad tot 1913, toe die gesin na Bulawayo in Rhodesië vertrek om sendingwerk te gaan doen. Hier voltooi hy sy skoolloopbaan by die Milton High School. Hy is ’n skitterende leerling, uitsonderlike rugby-, krieket- en tennisspeler en hoofseun. Met die Beit Scholarship agter sy naam trek hy saam met sy ouers na Brandfort in die Vrystaat waar hy in 1919 sy matriekeksamen aflê en die vyfde plek in Suid-Afrika behaal.
Op Stellenbosch skryf hy in om predikant te word, maar na een semester verander hy sy graadstudie na sielkunde en filosofie. Hy voltooi uiteindelik in 1924 sy DPhil en MA in sielkunde. En dit is in hierdie jare dat sy paaie kruis met die fyn blondekoppie uit die Karoo.
Dis ’n mooi verhouding, maar daar kom skeiding wanneer Hendrik na Europa vertrek om in Leipzig, Hamburg en Berlyn verder te studeer. Die verlange na Betsie is geweldig groot en hy praat haar om om in 1927 by hom aan te sluit in Hamburg. Sommer so oor die pos vra hy haar die hand en op 7 Januarie 1927, terwyl die sneeu buite val, trou die twee in Hamburg. In Duitsland is dit deurmekaar jare – die Weimar-republiek is ’n klaaglike mislukking en Verwoerd kom onder die indruk van die mag van nasionalisme wanneer hy die opkoms van Hitler se NSDAP waarneem.
Met hulle terugkeer na Suid-Afrika word hy die pos as dosent in sielkunde by die Universiteit van Stellenbosch aangebied. Hendrik en Betsie is albei maar 26 jaar oud! Maar die gogga van nasionalisme het hom in Duitsland gebyt en met sy woordvaardigheid skryf hy ’n pad oop in die politiek. Betsie is elke tree by hom.
Sonder om een keer te kla of beswaar te maak, laat vaar sy haar eie loopbaanplanne en word huisvrou. En moeder. Haar dogter, Anna, skryf later oor haar: “Sy het my pa met liefde en trou ondersteun en was vir ons, as kinders, ’n merkwaardige voorbeeld van kalmte in die donkerste tye. Sy het altyd oorwin, opgestaan en herbou en was daardeur ons grootste inspirasie.” Uit die huwelik van die Verwoerds word sewe kinders gebore: Wilhelm, Daniël, Christiaan, Hendrik, Wynand en die twee meisiekinders: Anna en Elisabet.
Betsie het haar huisie op Stellenbosch lief, sy maak dit ’n tuiste waar haar man se kollegas gereeld kom kuier en waar sy self nooit ’n oomblik terugstaan om die geleerde here se argumente te betwis nie. In 1937 pak die Verwoerds op en verhuis na Johannesburg waar Hendrik die redakteur word van Die Transvaler, die nuwe dagblad van die Nasionale Party in die Noorde. Hier begin Hendrik se politieke loopbaan in alle erns. En sy baklei hou vir hou saam om sy politieke pad oop te veg.
Betsie stel haarself nooit op die voorgrond nie, maar sy is altyd daar en dwarsdeur die jare van heropbou na die samesmelting en skeuring van 1934, doen sy haar deel vir die Nasionale Party. En sy dwing enorme respek af. Anders as met die joviale Maria Malan, sou niemand dit ooit waardig dink om haar gewoon “Betsie” te noem nie. Sy is “Mevrou” en so ken almal haar.
In 1950 word Hendrik Minister van Naturellesake. Ondenkbaar vir haar tyd gaan sy saam met hom in die tuislande en townships in en vergewis haar van die omstandighede van die swart bevolking. En sy maak seker dat sy nooit haar man oorskadu nie.
Met die dood van Hans Strijdom word sy in 1958 die sesde Premiersvrou van Suid-Afrika. Die grootste triomf kom toe sy op 31 Mei 1961 langs Hendrik op Kerkplein in Pretoria die nuwe Republiek groet. Na ’n worstelstryd wat al in 1803 begin het, is die Afrikanervolk uiteindelik vry van vreemde oorheersing!
Maar sy sou ook dae van bittere terugslae saam met hom beleef. Op 9 April 1960 verloor sy hom amper toe David Pratt hom tydens die openingseremonie van die Randse Paasskou trompop in die gesig skiet. Dit was die eerste keer waar Betsie se kalmte en waardigheid opgeval is. Die tweede keer sou dit veel moeiliker wees.
Op die Dinsdagmiddag van 6 September 1966 sit sy op die galery van die Volksraadskamer en wag vir die opening van die Parlementsitting. Ver onder haar in die eersteministersbank sit Hendrik deur sy toespraak en lees. Sy sien die bode wat inkom en sy wonder nog hoekom die man dan so vroetel onder sy baadjie. En dan swaai die bode by die gangetjie in en buk oor haar man. Hy lig sy hand asof hy die bode wil help, miskien dink hy die man het gestruikel. Vier maal tref die dolk. Soos ’n nagmerrie wat voor haar afspeel, sien sy hom vooroor val.
Dis ’n waansinnige tyd. Die dolle jaagtog na Groote Schuur, minute wat soos ure voel en ure wat later soos minute voel. By Groote Schuur is mevrou Hobbie le Roux en mevrou Tinie Vorster saam met haar in die kantoor van die superintendent. Ds. Herman Kinghorn van Malmesbury besoek een van sy ouderlinge in die hospitaal en in die voorportaal loop hy hom in Tinie Vorster vas.
“Dominee,” sê sy, “jy moet my nou help. Doktor is dood, maar Mevrou weet dit nog nie. Ons moet dit nou vir haar gaan sê.”
Wanneer ds. Kinghorn in die kantoor instap en kniel langs die stoel waarin die klein figuurtjie sit, kry hy nie sy woorde nie. Dis sy wat praat: “Dominee, kom sê jy vir my my man is dood?” Hy knik net. En in hierdie oomblikke styg sy tot ’n grootsheid wat onbegryplik is. Terwyl almal om haar huil, plaas sy haar hand op die leraar se kop en sê: “Moenie huil nie, Dominee, God maak nooit ’n fout nie.”
Na die begrafnis onttrek sy haar aan die openbare lewe. Die lewe gaan aan. Daar is kinders en kleinkinders. Nou en dan maak sy nog ’n openbare verskyning. In 1969 onthul sy die borsbeeld van Hendrik voor die biblioteek in Verwoerdburg, in 1967 open sy die HF Verwoerd Volkskool in Parys en in 1972 die Verwoerddam.
In 1991 word sy ’n lidmaat van die Afrikaanse Protestantse Kerk en verhuis saam met haar dogter Anna en skoonseun, Carel Boshoff, na Orania in die Noord-Kaap.
Kort na die verkiesing van 1994 nooi Mandela die vroue van al die vorige staatshoofde vir ’n tuinparty in Kaapstad. Betsie wys die uitnodiging beslis van die hand en laat weet: “As die president my wil sien, is hy welkom om my hier te besoek.” Niemand het verwag dat hy sou gaan nie, maar Mandela reis na Orania om haar te besoek. “Ek ondersteun nog altyd my mense se begeerte vir hulleself,” sê sy vir hom, “en ek glo ons kan dit hier volbring.” Na die besoek sê Mandela: “Sy het my oorweldig met haar Afrikanergasvryheid. Sy en haar man was deel van ons geskiedenis, al kon ek nie met hulle beleid saamstem nie.”
Op 29 Februarie 2000 sterf sy in haar huisie in Ametisstraat, Orania. Sy is 98 jaar oud. Hulle neem haar nie terug na hom toe nie. Daar, in die harde aarde van die Noord-Kaap, waar die vryheidsideaal weer herleef het, begrawe hulle haar. Asof hulle daardeur wou sê: “Mandela mag dalk dink dat sy deel van die geskiedenis is, maar haar opregte lydsaamheid maak dat sy inderdaad deel van die toekoms is.”
deur Daniël Lötter