
3 JUNIE
GEBEURE
1865 – Zuid-Afrikaanshe Republiek (ZAR) stel Dingaansdag in
Dit is oorbekend dat die oorwinning by Bloedrivier op Sondag 16 Desember 1838 behaal is. Op dieselfde dag is ’n dankdiens gehou. Vroeg in 1839 is geld vir die bou van ’n Geloftekerk ingesamel. Die kerk is in Pietermaritzburg opgerig. Die viering van die dag is van die begin af verwaarloos. Slegs enkele huisgesinne het die afspraak met God nagekom. In 1847 byvoorbeeld het die Volksraad van Lydenburg op daardie dag gesit en het niemand na die historiese feit verwys nie. Met die Transvaalse broedertwis in 1864 uit die weg geruim en vanweë die groter mate van gevestigdheid, het die Boere egter besef dat hulle die Gelofte moet nakom. Onder leiding van die Natalse NG Kerk is sedert 1864 begin om die Geloftefees op die historiese terrein te vier. Ds. Frans Lion Cachet het die voortou hiermee geneem. Die voorbeeld het deurgewerk. Die Uitvoerende Raad van die ZAR het op 3 Junie 1865 bepaal dat 16 Desember voortaan as Dingaansdag ’n openbare vakansiedag sou wees, wat soos ’n dankdag met dienste deurgebring behoort te word. Hieruit het ook verspreide dankfeeste gevolg, maar dit was op klein skaal; dit is dikwels verwaarloos en was beslis geen georganiseerde volksbyeenkomste nie.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Lord Robert verlaat Johannesburg
Lord Roberts verlaat Johannesburg en begin met ’n opmars om Pretoria te beset. Sy mag bestaan uit ongeveer 20 000 man. Generaal Louis Botha het bevel oor 3000 burgers. Generaal Sarel du Toit en ’n aantal burgers probeer Lord Roberts stuit te Kalkfontein.
1901 – Eerste “Milner”-skool in Transvaal
Die Staatsmodelskool, gebou deur President Paul Kruger, is deur Milner opgeknap en word as die Pretoria Boys High School geopen en word die eerste “Milner”-skool in Transvaal onder die skoolhoof Charles Hope.
1942 – Oproep om krygsherinneringe te boekstaaf
In ’n sterk hoofartikel op hierdie dag steun Die Transvaler ’n hernieude oproep van dr. EG Jansen dat die herinneringe van die Boerekrygers in die Anglo-Boereoorlog op skrif gestel moet word. Die blad wys daarop dat herhaalde versoeke in die verband op dowe ore geval het, en dat “die behoefte aan lektuur oor die oorlog met die dag groter word”. Kort daarna (in 1943) het ds. EC Anderssen van Johannesburg sy boekie Die verlede herleef die lig laat sien.
1954 – Suid-Afrika se rykste goudafsetting naby die plaas Erfdeel in die Oranje-Vrystaat ontdek
GEBOORTES
1873 – Gideon Brand van Zyl, politikus en sewende Goewerneur-generaal van Suid-Afrika (1946–1950) († 1 November 1956)
STERFTES
1945 – William John Cormack (Jack) Brebner, Vrystaatse politikus (* 13 Januarie 1866)
William John Cormack Brebner het as lid van die Vrystaatse regering waardevolle dienste tydens die Engelse oorlog gelewer, en hy was aktief werksaam in die Suid-Afrikaanse politiek, onder meer as Unie-senator (1910 tot 1940) en lewenslange voorsitter van die Afrikanerparty. Hy is op 3 Junie 1945 oorlede.
1953 – Prof. Maria Fismer, musiekopvoedkundige (* 7 Julie 1889)
Maria van der Lingen Fismer (nooiensvan Von Wielligh) is op 7 Julie 1889 in die Paarl gebore as die tweede kind van die bekende Afrikaanse skrywer GR von Wielligh. Haar musiektalent het sy van haar moeder gekry, wat ’n dogter was van die bekende musikus Jan S de Villiers (Jan Orrelis) en ook ’n kleindogter van die ewe bekende ds. GW van der Lingen, albei van die Paarl. Na ’n baie suksesvolle loopbaan as musiekpedagoog op Robertson en op Stellenbosch word sy in 1939 die eerste volle professor van musiek aan die Universiteit van Stellenbosch, ’n pos wat sy met eer beklee tot by haar aftrede in 1951 weens swak gesondheid. Sy is waarskynlik die dame wat die grootste invloed uitgeoefen het op die musiekonderwys in Suid-Afrika. In 1952 word sy deur die SA Akademie bekroon met ’n erepenning vir musiek en deur die Universiteit van Stellenbosch met ’n eredoktorsgraad.
2014 – Prof. Cas Janse van Vuuren, Unisa se visekanselier van 1989 tot 1993 (* 20 Februarie 1930)
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.