EG JANSEN (1881-1959)
Dr. EG Jansen was ’n kultuurleier, skrywer, kabinetsminister, speaker van die Volksraad en die voorlaaste goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika.
Ernest George Jansen is op 7 Augustus 1881 naby Dundee in KwaZulu-Natal gebore. Sy ouers was Andries Louis Jansen, ’n onderwyser wat hom later tot die landbou gewend het, en Cornelia Carolina Wohlitz. Sy doopname is verkeerd op sy geboortesertifikaat aangedui, want hy is eintlik na sy oupa aan moederskant, wie se doopname Ernst Georg was, vernoem. Hy het aanvanklik tuisonderrig by sy pa ontvang, maar later het hy op Ladysmith skoolgegaan en in 1898 aan die Hoërskool Durban, waar hy destyds die enigste Afrikaanssprekende leerling was, gematrikuleer. Hy het op skool in sport uitgeblink en krieket en sokker vir die skool se eerste span gespeel. Daarby was hy twee agtereenvolgende jare victor ludorum.
In 1902 het hy by ’n prokureursfirma in Pietermaritzburg met sy leerkontrak begin en deur middel van afstandonderrig in die regte aan die Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop gestudeer. Hy het die BA- en LLB-grade verwerf. Hy is in 1906 as prokureur toegelaat en die firma Murray en Jansen saam met H Murray begin. Hy is in 1913 as advokaat tot die balie toegelaat, ’n jaar nadat hy met Martha Mabel Pellissier getroud is. Een seun, Erns Louis Jansen, is in 1918 gebore; hy was ’n regter wat later appèlregter geword het, en is op 23 Mei 2011 oorlede.
Hoewel Natal destyds oorwegend Engelssprekend was, en vandag steeds is, het hy ’n leidende rol in die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur gespeel. In 1908 het hy die Debats- en Letterkundige vereniging van Pietermaritzburg gestig en op die bestuur gedien. Daarby was hy ook deel van die Voortrekkermuseumkomitee. Hy het die stigting van soortgelyke verenigings elders in die provinsie aangemoedig; dit is in Maart 1910 in die Unie van Debatsverenigingen saamgebind. Dit het gelei tot die stigting van De Organisatie van Hollandse Taalvrienden in 1914. Hierin het Jansen ’n groot rol gespeel om Afrikaans as onderrigmedium erken te kry. Saam met sy vrou en prof. G Besselaar het hy die Saamwerk-Unie van Natalse Vereniginge in 1917 gestig en tot 1924 die voorsitter daarvan gebly. Dit kan as ’n voorloper van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) beskou word. Hy was ’n stigterslid van die FAK. Onder leiding van die Jansen-egpaar het die Saamwerk-Unie die eerste eksamens wat in die Afrikaanse taal, wat aanvanklik deur hulle gereël, gevoer en bestuur is, begin.
Jansen het ’n lewendige belangstelling in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gehad en drie gesaghebbende boeke geskryf, naamlik Die Voortrekkers in Natal (1938), Uit die Voortrekkertyd (1939) en Die Boerekongres in Natal (1942). Hy was saam met sy vrou en sy swaer, ds. (later prof.) George Murray Pellissier verantwoordelik vir die bewaring van die Geloftekerk in Pietermaritzburg. Hy het verder ’n aandeel daarin gehad dat die Engelenburg-huis vir die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, waarvan hy in 1909 ’n stigterslid was, bekom is. Dit het destyds nog bekendgestaan as die Zuid-Afrikaansche Akademie voor Taal, Letteren en Kunst. Sedert 1938 was hy voorsitter van die Sentrale Volksmonumentkomitee en Eeufeeskomitee wat vir die organisasie, oprigting en hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument verantwoordelik was. In 1949 het hy as voorsitter van die inhuldigingskomitee gedien. Hy was die seremoniemeester tydens die hoeksteenlegging in 1938 en die inwyding in 1949.
Die Nasionale Pers het in 1918 besluit om De Afrikaner, wat toe lank reeds Dinsdae en Vrydae in Pietermaritzburg verskyn het, aan te koop. Jansen was destyds een van die vernaamste Nasionaliste in die Natalse hoofstad wat druk op die Nasionale Pers uitgeoefen het om De Afrikaner as sakeonderneming met sy drukkery, uitgewery en boekhandel oor te neem. Soos baie ander Afrikaners in Natal het Jansen gevoel dat die koerant onder redaksie van dr. J Vrolik, ’n eksentrieke Nederlander, onvoldoende en onkonsekwente steun aan die Nasionale saak verleen het. Die Nasionale Pers het die koerant in November 1918 oorgeneem; op 18 September 1919 het die direksie Jansen die pos as redakteur aangebied met ’n maandelikse salaris van £30 met die reg om steeds as advokaat te praktiseer. Hy het die pos op 1 Desember 1919 aanvaar, maar na verdere onderhandelings het die hoofbestuur berig dat hy teen ’n maandelikse salaris van £50 aangestel sou word, waarvan die Nasionale Party gevra is om £150 vir die eerste jaar of twee by te dra. Nege maande later het Jansen as redakteur bedank, want hy het die leier van die Nasionale Party in Natal geword en hy het gemeen dat hy finansieel beter sou vaar as hy sy regspraktyk sou voortsit. Nogtans het hy en sy vrou in hierdie jare albei skrywers geword en in die jare wat De Afrikaner aan die Nasionale Pers behoort het, van 1918 tot 1925, was hulle albei in verskeie hoedanighede op die voorgrond.
Hy het kort voor Uniewording in 1910 tot die politiek toegetree as sekretaris van die Afrikanerorganisasie Het Kongres. Hoewel hy aktief aan die verkiesingsveldtog deelgeneem het, het hy homself nie verkiesbaar gestel nie. Hy het die amp van sekretaris behou toe Het Kongres in De Volksvereniging verander het. Na Uniewording en nadat De Volksvereniging in die Suid-Afrikaanse Party (SAP) opgeneem is, het hy tot 1915 die amp van sekretaris van die SAP in Natal beklee en terselfdertyd op die hoofbestuur van die party gedien. Toe genl. JBM Hertzog in 1914 uit die SAP weggebreek het, het Jansen hom nie dadelik gevolg nie. Hoewel hy gemeen het dat Hertzog se beginselbasis reg was, het die Nasionale Party (NP), volgens hom, nie die regte taktiek gevolg nie. Met die samestelling van die NP in Natal in 1915 was hy nie teenwoordig nie en eers nadat hy as kandidaat vir die kiesafdeling Umvoti benoem is, het hy hom met die NP vereenselwig. Tydens die verkiesing het hy met 143 stemme teen G Leuchars van die SAP verloor.
Met die samestelling van die Vryheidsdeputasie in 1919 is Jansen en AT Spies as Natalse verteenwoordigers aangewys. Onder Hertzog se leiding het hulle op 4 Maart 1919 met die Nederlandse skip Bawean na Europa vertrek om ooreenkomstig ’n bepaling in die Veertien Punte van pres. Woodrow Wilson van die Verenigde State van Amerika betreffende die kleiner nasies en die waarborg van hul vryheid, te eis dat die onafhanklikheid van die Vrystaat en Transvaal herstel moes word. Na baie teleurstellings kon hulle die Britse eerste minister, Lloyd George, op 5 Junie 1919 spreek. Hy het hulle egter per brief laat weet dat hul standpunt nie die meerderheid van Suid-Afrika se bevolking verteenwoordig het nie. Hulle kon glad nie ’n afspraak met Wilson kry nie en op 3 September 1919 het hulle na Durban teruggekeer. Hoewel die sending misluk het, het Jansen en sy kollegas se deelname aan die deputasie tot gevolg gehad dat Afrikanernasionalisme ’n groter faktor in die Suid-Afrikaanse politiek geword het.
As afgevaardigde na die Afrikaner-herenigingskongres in Bloemfontein op 22 September 1919 het Jansen ’n rol gespeel in die pogings om die Afrikaners van die NP en die SAP weer polities bymekaar te bring. Hy is aangewys as een van vyf NP-lede wat met vyf SAP-lede moes onderhandel. Hul pogings het egter misluk en tydens die 1920-verkiesing het hulle mekaar weer geopponeer. In Vryheid het JJC Emmet van die SAP Jansen met 81 stemme verslaan maar die volgende jaar het Jansen met drie stemme gewen. Jansen het hierdie kiesafdeling 22 jaar lank verteenwoordig en was die eerste NP-verteenwoordiger in Natal. In 1920 het hy die NP-leier in Natal geword en hierdie posisie tot 1924 beklee, toe hy die speaker van die Unie-Volksraad geword het. In 1929 het hy Minister van Naturellesake geword. Van 1929 was hy die Pakt-regering se Minister van Naturellesake en Besproeiing in die Hertzog-kabinet. Hy was die leier van die Suid-Afrikaanse afvaardiging van parlementariërs wat Kanada in 1928 besoek het. Op 26 Mei 1933 is hy vir ’n tweede keer as speaker van die Volksraad aangewys omdat sy integriteit hoog deur alle Volksraadslede geag is. Hy het hierdie amp beklee totdat hy in 1939 uit die Verenigde Party getree het en as NP-kandidaat die verkiesing in die kiesafdeling Vryheid verloor het. In 1947 het hy egter die setel in Wolmaransstad gewen en in 1948 is hy weer aangestel as Minister van Naturellesake, hierdie keer in dr. DF Malan se kabinet.
Op 23 Oktober 1950 is hy as die eerste Afrikaanssprekende goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika aangewys. Omdat hy ’n stoere republikein was, het hy volstrek geweier om trou aan die Britse monarg te sweer en die ampsgewaad met sy inhuldiging op 1 Januarie 1951 te dra.
Hy is op 25 November 1959 in die ouderdom van 78 jaar in die tuig oorlede.
deur Daantjie Badenhorst