
3 NOVEMBER
GEBEURE
1837 – Retief besoek Dingaan vir die eerste keer
1906 – Afrikaanse Taalvereniging (ATV) gestig
Jan Hendrik Hofmeyr de Waal het in 1903 redakteur van De Goede Hoop geword en sy lesers aangespoor om in Afrikaans te skryf. Ondanks teenstand uit verskeie oorde, het hy met die hulp van manne soos drr. AI Perold, DF du Toit Malherbe en DF Malan, wat pas uit die buiteland teruggekeer het, die taalstryd voortgesit. Op 3 November 1906 word die Afrikaanse Taalvereniging in Kaapland gestig. Die hoofdoel is om die gebruik van suiwer Afrikaans as spreek- en skryftaal aan te moedig en om meer liefde en waardering by die volk daarvoor op te wek. Die vereniging het baie geskryf, veral in De Goede Hoop en Ons Landstem. Verskeie takke is gestig en taalkongresse gehou waarop sake soos spellingsprobleme bespreek is. In 1908 word dr. DF Malan voorsitter van die Afrikaanse Taalvereniging en lewer hy sy bekende lesing “Het is ons is ons ernst”, waarin hy pleit om die erkenning van Afrikaans. Dr. Malan het ook samewerking tussen die Afrikaanse Taalvereniging en die Taalbond bepleit. Daardie samewerking is uiteindelik in 1909 bereik met die stigting van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.
1988 – Vrye Weekblad verskyn
Die onafhanklike Afrikaanse koerant Vrye Weekblad, krities oor die regering se beleid, word saam met Max du Preez as redakteur gepubliseer.
GEBOORTES
1904 – Gideon Fagan, komponis en dirigent († 20 Maart 1980)
Hy is op Somerset-Wes gebore en was die eerste Afrikaner wat ’n professionele dirigent in die buiteland geword het. Met sy terugkeer na Suid-Afrika in 1949, het hy die SAUK se tweede Hoof: Musiek geword (1963–1966). Hy was ook ’n komponis met verskeie Afrikaanse liedere op sy naam. In 1973 en 1976 het hy die Departement van Nasionale Opvoeding se toekenning vir komponiste ontvang.
1927 – Marius Barnard, broer en deel van prof. Chris Barnard se sjirurgie-span († 14 November 2014)
Marius Barnard was die jonger broer van prof. Chris Barnard, die bekende hartsjirurg. Barnard was ’n kardioloog in eie reg en was deel van sy broer se span tydens die eerste menslike hartoorplantings.
STERFTES
1815 – Louis Michel Thibault, eerste erkende argitek aan die Kaap (* 29 September 1750)
Louis Michel Thibault, die eerste erkende argitek aan die Kaap, is in 1750 op Picquigny, naby Amiens, in Frankryk, gebore en het aan die Koninklike Akademie in Parys gestudeer. Daarna is hy in die militêre diens as ingenieur opgelei en in 1782 met sy regiment na die Kaap gestuur. Daar was hy vir dosyne militêre planne, opmetings en ontwerpe van geboue verantwoordelik. Toe hy in Kaapstad oorlede is, was hy Rooymeester of Stadsargitek van Kaapstad. Hy het die plaaslike, onontwikkelde boustyl geklee in die klassisisme waarin hy opgelei is en ’n onuitwisbare stempel op die ontwikkeling van die Kaaps-Hollandse argitektuur afgedruk. Van die bekendste geboue wat aan hom toegeskryf word, is die Koopmans-De Wet-huis, Saasveld in Franschhoek, die wynkelder by Groot Constantia en die balkon van die Kat in die Kasteel.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.