30 JUNIE

GEBEURE

1851 – Mosjesj verslaan majoor Warden by Viervoet

1854 – Eerste Parlementsitting in Kaapstad

Op hierdie dag is die eerste verkose Parlement van die land in Kaapstad deur luitenant-goewerneur Charles Henry Darling geopen. Tot dusver was Kaapland ’n kroonkolonie onder Britse gesag en met weinig eie mag. Tussen 1834 en 1853 het ’n Wetgewende Raad sukkelend voortgegaan. Sedert 1846 is egter daadwerklik gepoog om groter selfbestuur te bekom. Allerlei irrelevante voorvalle en eise het die saak bevorder of benadeel, maar in Maart 1853 het Engeland finaal die beoogde konstitusie bekragtig. Van 1 Julie 1853 af tot 1910 is die Wet met beperkte verandering toegepas. Die Wetgewende Vergadering, oftewel Laerhuis, het uit 46 verkose lede wat vir vyf jaar verkies is, bestaan. Alle manlike, mondige Britse onderdane – ongeag ras, kleur of geloof – wat aan sekere geringe ekonomiese bepalings voldoen het, was stemgeregtig. Die spanning tussen die Oostelike en die Westelike Provinsie het tot ongeveer 1885 die politieke toneel in die Laerhuis oorheers. Die Wetgewende Raad, oftewel Hoërhuis, het uit 15 lede bestaan wat vir tien jaar verkies is. Die hoofregter sou hier as voorsitter optree. Tot 1872, toe verantwoordelike bestuur aanvaar is, het hierdie staatkundige reëling gegeld en veral aan die Engelstalige Kapenaars groot politieke ervaring besorg. Hollands was tot 1882 as taalmedium in dié rade verbode.

1893 – Excelsior-diamant gevind

Die wêreld se grootste diamant voor die Cullinan-diamant ontdek is, die Excelsior van 971 karaat (194 gram), is op 30 Junie 1893 by die Jagersfonteinmyn in die Vrystaat gekry. Dit is deur ’n werker tussen gruis gevind wat hy besig was om op ’n vragmotor te laai. Pleks van om sy vonds aan sy opsiener te oorhandig, het hy dit direk aan die mynbestuurder gegee, wat hom met £500 en ’n perd beloon het. Die kontrak tussen die myn en ’n sindikaat van diamantondernemings in Londen het op daardie tydstip verval, wat waarskynlik die rede is waarom berigte oor die ontdekking aanvanklik nie in Britse koerante verskyn het nie. Dit is later in tien kleiner diamante geslyp. Nog ’n groot diamant (850 karaat) is twee jaar later by Jagersfontein gevind. Dit is die Reitz-diamant genoem, na pres. FW Reitz van die Oranje-Vrystaat.

 

GEBOORTES

 

STERFTES

1947 – Johann Franz (Hans) Endler, komponis, regisseur en medestigter van die Stellenbosch musiekkonservatorium (* 1 Januarie 1871)

Johann Franz (Hans) Endler is op 1 Januarie 1871 in Oostenryk gebore. Hy het van 1903 op Stellenbosch gewoon. Endler was een van die belangrikste baanbrekers op musiekgebied in Suid-Afrika. Hy was ’n musiekopvoedkundige (medestigter van Stellenbosch se Konservatorium in 1905), tjellis, dirigent en komponis van Afrikaanse liedere (onder meer “Wiegeliedjie”), die eerste Afrikaanse operette (Pa se dogter, 1935) en ander werke. Hy is in Pinelands oorlede.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

Frikkie Wallis Facebook

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/