FW REITZ (1844-1934)

FW Reitz was ’n Suid-Afrikaanse politikus en staatsman wat die vyfde president van die Oranje-Vrystaat was.

Francis William Reitz (junior) is op 5 Oktober 1844 in Swellendam gebore. Sy pa, wie se name hy gedra het, was ’n boer en sy ma was Cornelia Magdalena Deneys. Hy was die sewende van twaalf kinders en het op die plaas Rhenosterfontein op die grens van die Breederivier in die Kaapkolonie grootgeword.

Hy het sy eerste opvoeding tuis by ’n goewernante op ’n plaas in die buurt ontvang. Op negejarige ouderdom het hy na die Rouwkop-kosskool in Rondebosch in Kaapstad gegaan. Hier het hy akademies uitgeblink; gevolglik het die Senaat van die Suid-Afrikaanse Kollege in Kaapstad hom as die Queen’s Scholar gekies. In die ses jaar wat verloop het sedert hy in 1857 by die kollege aangekom het, het hy ’n wye opvoeding in die kunste en wetenskap gehad en het hy ontwikkel in ’n goed gebalanseerde jong man met duidelike leierseienskappe. Hy het in September 1863 afstudeer en ’n kwalifikasie verwerf wat gelykstaande aan ’n baccalaureus in lettere en wetenskap was.

Teen hierdie tyd het Reitz ’n belangstelling in die regte ontwikkel en het sy studie onder prof. FS Watermeyer aan die Suid-Afrikaanse Kollege voortgesit. Kort nadat Reitz met sy studies begin het, is prof. Watermeyer oorlede en daarom het hy besluit om aan die Inner Temple in Londen voort te sit. Reitz se pa wou egter gehad het dat hy na die plaas terugkeer. Reitz het egter ’n sukses van sy studies in Londen gemaak, en op 11 Junie 1867 het hy ’n advokaat in Westmister geword. Gedurende sy tyd in Londen het Reitz in die politiek begin belangstel en gereeld sessies in die Laerhuis bygewoon. Voordat hy teruggekeer het na Suid-Afrika het hy Europa verken en met sy terugkoms na Suid-Afrika het hy hom in Kaapstad gevestig.

Omdat daar strawwe mededinging in Kaapstad was, het Reitz aanvanklik gesukkel om ’n bestaan as prokureur te voer. Nogtans kon hy vir homself ’n naam maak as gevolg van sy skerp regsdenke en sosiale intelligensie. As lid van die rondgaande hof het hy in ’n kort tyd baie ervaring opgedoen. Terselfdertyd het hy sy politieke belange versorg deur hoofartikels vir The Cape Times te skryf. Hy het ook vir die koerant, waarvan hy adjunkredakteur was, verslag gedoen oor verrigtinge in die Kaapse Parlement. In 1870 het hy sy praktyk na Bloemfontein verskuif. Reitz was van mening dat die ontdekking van diamante op die oewers van die Vaalrivier tot ’n vermeerdering in regswerk sou lei en hom in staat sou stel om ’n suksesvolle praktyk op die been te bring. Dit het egter nie gebeur nie; na ’n paar maande het hy Bloemfontein verlaat en ’n diamantprospekteerder in Griekwaland-Wes, waar hy ’n klein kleim in die Berlynse Sendinggenootskap naby Pniel gekoop het, geword. Hierdie onderneming het ook misluk, met die gevolg dat hy na ’n paar maande na Kaapstad teruggekeer het. Hierdie keer was sy praktyk ’n sukses; ironies genoeg as gevolg van die Britse anneksasie van die diamantvelde in die Oranje-Vrystaat en die ekonomiese vooruitgang wat dit vir die Kaapkolonie beteken het.

In 1873 is Reitz gevra om die distrik van Beaufort-Wes in die Kaapse Parlement te verteenwoordig. Op 30 Mei is hy ingehuldig; op dieselfde dag het sy pa, wat Swellendam verteenwoordig het, sy uittrede aangekondig. Soos soveel van Reitz se aktiwiteite was sy parlementêre loopbaan van korte duur. Slegs twee maande later het pres. Jan Brand van die Oranje-Vrystaat die amp van voorsitter van die nuutgestigte Appèlhof van die Oranje-Vrystaat aangebied hoewel Reitz, veral vanweë sy ouderdom, nie ten volle gekwalifiseer was nie. Hy het die aanbod geweier omdat hy te jonk was, maar toe ’n ander kandidaat ook geweier het, het Brand daarop aangedring dat Reitz benoem word en die Volksraad oortuig om Reitz aan te stel.

Met sy aanstelling tot die regbank het Reitz, wat skaars dertig jaar oud en pas getroud was, eindelik tot sy reg gekom. Voor die middel van die 1870’s was die regstelsel van die Oranje-Vrystaat ietwat amateuragtig aangesien die meeste regters wetlik ongekwalifiseerd was. Die meeste regsprosedures was in die hande van die distriksmagte, die sogenaamde landdroste, wie se hooftake hoofsaaklik administratief van aard was. Reitz het sy taak om hierdie toedrag van sake te verbeter, met groot ywer aangepak. In die eerste jaar het die Volksraad ’n ordonnansie deurgevoer ingevolge waarvan ’n rondgaande hof en ’n Hooggeregshof tot stand gebring is. Reitz het die eerste regter van die Hooggeregshof geword en daarom ook die eerste hoofregter van die Oranje-Vrystaat. Hy was van die begin af ’n vegter en het die Volksraad by meer as een geleentheid teengestaan deur die diepgewortelde politieke tradisies te takel wat in die pad van die modernisering van die regstelsel gestaan het. Daarby het hy onverpoos gewerk om die salarisse en pensioene van staatsamptenare te verbeter. Omdat hy in die Kaapkolonie gebore is, moes hy hard veg om die Boerebevolking se guns te wen sodat sy idees aanvaar kon word. Hy het dit gedoen deur tien jaar lank saam met die rondgaande hof deur die land te reis. Sodoende het hy insae in, en empatie vir, hul leefwyse en dikwels konserwatiewe Godvresende oortuigings gekry. Hy was self ’n gelowige persoon en die feit dat hy in die Afrikaanssprekende deel van die Kaapkolonie grootgeword het, het aan hom ’n voordeel gegee. Op die ou einde het hy ’n simbool van Afrikanerdom vir baie Oranje-Vrystaters geword.

Daar was reeds in 1878 oproepe dat Reitz hom vir die amp van president van die Oranje-Vrystaat verkiesbaar moes stel. Pres. Brand se posisie was egter nog sterk en Reitz het Brand se eienskappe openlik hoog aangeslaan en geweier om teen hom te staan. Tydens die verkiesing van 1883 het Reitz weer eens geweier om teen Brand te staan. Brand is egter vyf jaar later oorlede en die tyd was ryp vir verandering. Reitz het as kandidaat gestaan. Omdat die meeste van sy ondersteuners Afrikaner-nasionalisties was, is hy met ’n baie groot meerderheid tot president verkies en op 10 Januarie 1889 in die Tweetoringkerk in Bloemfontein as staatspresident ingehuldig.

Hy was een van die eerste Afrikaners wat ’n “Bantoebeleid” ontwikkel het. In die fisiologie en terminologie was dit baie anders as die kontemporêre idees oor segregasie tussen blank en swart. Onder sy regering is Indiese immigrante van 1890 verbied om hulle in die Oranje-Vrystaat te vestig. Dit het gelei tot konfrontasie met die Britse regering en uitgebreide korrespondensie tussen Reitz en die Britse hoë kommissaris in Kaapstad. Die laat 1880’s was ’n groeiperiode vir die Oranje-Vrystaat ; dit het goed met landbou gegaan en die spoorwegstelsel het ’n belangrike bron van inkomste geword. Hy het baie bygedra tot die modernisering van boerdery deur nuwe tegnieke en ’n meer wetenskaplike benadering tot die voorkoming van plae te propageer. In hierdie opsig het hy homself, soos sy pa, as ’n landboukundige en modelboer bewys.

Kort na sy inhuldiging het Reitz met die regering van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) kontak gemaak met die doel om nouer politieke bande te smee. Op 4 Maart 1889 het die Oranje-Vrystaat en die ZAR ’n verdrag van gemeenskaplike verdediging in Potchefstroom onderteken. Tydens die presidentsverkiesing van 22 November 1893 is Reitz herkies, weer met ’n groot meerderheid, waarna hy drie maande lank deur Europa gereis het. Dit was glad nie ’n familievakansie nie, want Reitz het hewige politieke stellings gemaak deur die republikeinse regeringsvorm in Suid-Afrika te verdedig en Britse ingryping in “Bantoe-sake” teen te staan. Verskeie politieke leiers en staatshoofde het hom in Europa ontvang, en hy het in Oktober 1894 na Bloemfontein teruggekeer. Kort na sy terugkeer is hy met lewerontsteking gediagnoseer. Dit het sleg op sy reeds gespanne senuwees ingewerk en tot slapeloosheid gelei. Die erns van die situasie het hom genoodsaak om die amp van president neer te lê en op 11 Desember 1895 het die Volksraad sy bedanking aanvaar. Hy het in Junie 1896 na Europa gereis om van sy siekte te herstel en met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy hom in Pretoria gevestig waar hy weer met ’n regspraktyk begin het. Toe ’n konflik tussen die wetgewende liggaam en die regbank van die ZAR ontstaan het, het hy in 1898 ’n amp as regter aanvaar en gou deel van die binnekring van die Transvaalse administrasie geword. Op 31 Mei was hy een van die ondertekenaars van die Vrede van Vereeniging wat die Anglo-Boereoorlog beëindig het. Hy het besluit om nie trou aan die Britse Regering te beloof nie en eerder ’n banneling geword. Hy het Suid-Afrika op 4 Julie 1902 verlaat om hom by sy vrou en kinders aan te sluit en om sy finansiële probleme te verlig, het hy vir ’n lesingtoer na die Verenigde State van Amerika gereis. Omdat die belangstelling in die Boere se saak getaan het, het hy na Nederland teruggekeer. Daar het hy weer so siek geword dat hy in die hospitaal opgeneem moes word om aan te sterk. In 1907, nadat die Boere selfregering gekry het en in die aanloop tot die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika, is hy gevra om na Suid-Afrika terug te keer en weer tot die politiek toe te tree. In 1910, toe hy 66 jaar oud was, is hy aangestel as president van die Senaat van die Unie van Suid-Afrika. Hy was uitgesproke oor sy oortuiginge met die gevolg dat hy met die Smuts-regering gebots het en na 1920 nie heraangestel is nie. Hy het egter tot 1929 deel van die Huis gebly.

Hy was ook ’n belangrike figuur in die kulturele lewe. Hy was ’n digter wat baie gedigte in Afrikaans uitgegee het. Dit het van hom ’n voorvader van die ontwikkeling van Afrikaans as kulturele taal gemaak. Hy het gesimpatiseer met die Genootskap van Regte Afrikaners wat in 1875 in die Kaapkolonie gestig is maar hoewel hy nooit lid daarvan was nie, het hy aktief bygedra tot die Genootskap se tydskrif, De Zuid-Afrikaansche Patriot. Baie van sy werke was gebaseer op Engelse tekste wat hy vertaal, geredigeer en aangepas het.

Hy is op 27 Maart 1934 in die ouderdom van 89 jaar oorlede. Sy nagedagtenis leef voort; in 1889 is ’n dorp in die Vrystaat na hom vernoem en nog ’n dorp is in 1894 na sy tweede vrou. Cornelia, vernoem. Hy was tot aan die einde van sy lewe besig met vertaal- en skryfwerk. Sy seun Deneys was ’n kabinetsminister en politikus wat as jong man aan die Anglo-Boereoorlog deelgeneem het.

deur Daantjie Badenhorst