5 JUNIE
GEBEURE
1692: Heldedaad van Jochem Willemse
Drie skepe, Hoogergeest, Goede Hoop en Oranje, het in 1692 naby die mond van Soutrivier by die Kaap gestrand. Op 5 Junie het Jochem Willemse met ’n tou om sy lyf op heldhaftige wyse na die gestrande Hoogergeest geswem in ’n poging om die bemanning te red. Met dié heldedaad kon die grootste deel van die bemanning veilig aan wal gebring word.
1752 – Ekspedisie bereik Keiskamma
Die ekspedisie van August F. Beutler, verlaat op 29 Februarie die Kasteel in die Kaap en bereik die Keiskamma, naby Lyndrift, Oos-Kaap.
1873 – Kimberley kry sy naam
Kimberley het sy naam op 5 Junie 1873 gekry toe die naam van die delwersgemeenskap “New Rush” verander is ter ere van die Britse sekretaris van kolonies, John Wodehouse, wat die eerste graaf van Kimberley was. Diamante is twee jaar tevore op die plaas van die De Beerbroers, Johannes Nicolaas en Diederik Arnoldus ontdek wat hul plaas Vooruitzicht vir £6 600 aan ’n handelaar, Alfred Ebden, verkoop het. Dit is die plaas waar New Rush en die Groot Gat ontstaan het. Die plaas is in 1875 vir £100 000 aan die Kaapse regering verkoop. De Beers Consolidated Mines Limited is in 1888 gestig.
1893 – Vierde Raadsaal van die Vrystaatse Republiek word ingewy
Die Volksraad van die Republiek van die Oranje-Vrystaat het om 10:00 in die derde Raadsaal in die Ou Goewermentsgebou byeengekom en is vandaar in ’n optog na die nuwe Raadsaal. Die optog is gevolg deur die Artillerie-orkes. Na die opening het die gehoor met groot geesdrif die Vrystaatse volkslied gesing. Die vierde Raadsaal is die juweel in die Vrystaatse boukuns. Dit is gebou in die Renaissance-boustyl: die Griekse en Romaanse boustyle gee die indruk van ’n monument. Dit is veral waar van die trotse en dominerende vooraansig. Grieks is die trappe, die portiek, die wyse suilgange voor en aan weerskante van die saal, die gegroefde suile met hulle Ioniese kopstukke, die fries, die pediment en die kroonlys. Op die Griekse onderbou rus die Romeinse koepel met sy agt boogvormige openinge, die lantern motief en vlagpaal. Die interieur van die Raadsaal pas aan by die gebou – ook die meublement.
1899 – Pres. Kruger en Lord Milner kom vir laaste keer byeen in Bloemfontein
Die Bloemfontein-konvensie kom tot ’n einde. Samesprekings het op die 31ste Mei 1899 begin en is primêr gevoer tussen Lord Milner en president Paul Kruger. Die doel daarvan was om ’n dreigende oorlog te ontlont. President Kruger se laaste woorde was min of meer dat Brittanje nie stemreg vir die “Uitlanders”, ensovoorts wou gehad het nie, maar wel die Zuid-Afrikaansche Republiek.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Pretoria word deur die Britse magte beset
Ná die val van Bloemfontein op 13 Maart 1900 het die Britte die groot opmars na Pretoria op 3 Mei 1900 begin. Op 31 Mei was Roberts in Johannesburg, en op 5 Junie is Pretoria beset. President Paul Kruger en die Transvaalse regering het Pretoria reeds op 29 Mei verlaat en met die Oosterspoorlyn na Machadodorp gereis, waar Kruger by sy aankoms ’n proklamasie uitgevaardig het dat dit voorlopig die setel van die regering sou wees.
1918 – Afrikaner-Broederbond gestig
Die Afrikaner-Broederbond is deur ’n groep jong Afrikaners in Johannesburg gestig. Die aanleidende oorsaak daartoe was die geweldige agterstand wat die Afrikaner op byna alle lewensterreine ervaar het en die onsekerheid wat uit die Anglo-Boereoorlog, die Eerste Wêreldoorlog en die Rebellie voortgespruit het. Dit is ’n vertroulike kulturele organisasie wat getrag het, om die beste in die Afrikaanse volk te verteenwoordig en te dien. Dit bestaan uit Afrikaanssprekendes van Protestantse geloof. Daar word van die lede verwag om ’n onbaatsugtige diens te lewer en om geen beloning of eer vir die volksdiens te verwag of te soek nie. Die organisasie het hom ten doel gestel om ’n vooruitstrewende eensgesindheid onder alle Afrikaners te bewerkstellig en om die Afrikaanse tradisies en kultuur op elke lewensterrein uit te bou en te bevorder.
1928 – Yskor kom tot stand
Met die aanvaarding van die Yster- en Staalnywerheidswet (Wet nr. 11 van 1928) het die Nasionale Regering van genl. JBM Hertzog statutêr die weg gebaan vir die totstandkoming van die Suid-Afrikaanse Yster- en Staalindustriële Korporasie Beperk (Yskor). Die doel was om yster en ’n reeks staalprodukte uit inheemse grondstowwe te produseer en Suid-Afrika selfstandiger te help maak. Dit het veral aan die Afrikaner nuwe arbeidsgeleenthede gebied in ’n stadium toe baie Afrikaners in moeilike ekonomiese omstandighede in geldelike nood was. Daar is in 1934 in Pretoria met produksie begin, en in net vyftig jaar het Yskor met bykomende aanlegte op Vanderbijlpark in Transvaal en Newcastle in Natal gegroei tot die magtigste nywerheidsreus in Suid-Afrika, met ’n jaarlikse produksie van 6 miljoen ton, ’n batesyfer van R1 900 000 000 en meer as 60 000 werknemers in 1979.
GEBOORTES
1925 – Cornelius Petrus (Connie) Mulder, politikus († 12 Januarie 1988)
Dr. Connie Mulder was ’n bekende kabinetsminister en politikus wie se naam met die Inligtingskandaal van die 1970’s verbind word; twee van sy seuns. Drr. Pieter en Corné Mulder, het in hul pa se voetspore gevolg en ook tot die politiek toegetree.
STERFTES
1988 – Charles Jacobie, Afrikaanse country-sanger (* 21 Mei 1928)
Charles Henry Jacobie was ’n Afrikaanse country-sanger wat in die sestigerjare as die “Singende Beesboer” bekend was. Hy word deur baie as die vader van countrymusiek in Suid-Afrika beskou. Op 9 April 1988 is ’n trofee op die Randse Skou aan hom oorhandig om hom vir sy lang loopbaan in die musiekwêreld te vereer. Hy is later in dieselfde jaar op Nelspruit aan ’n hartaanval oorlede.
1997 – Olga Kirsch, digter (* 23 September 1924)
Olga Kirsch was ’n digteres. Naas Elisabeth Eybers, is sy die tweede vroulike Afrikaanse digteres. Sy maak grootliks van haar Joodse afkoms en ervarings gebruik as inspirasie vir haar digkuns. Kirsch emigreer in die 1940’s na Israel, en dig 24 jaar lank nie in Afrikaans nie. Eers na ’n besoek aan Suid-Afrika verbreek sy in die 1970’s haar stilte en begin weer in Afrikaans dig.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.
https://af.wikipedia.org/wiki/
Frikkie Wallis Facebook