OLGA KIRSCH (1924-1997)
Olga Kirsch was die tweede vroulike Afrikaanse digter naas Elisabeth Eybers.
Sy is op 23 September 1924 op die Vrystaatse dorp Koppies gebore; sy was die middelste van vyf kinders; drie dogters en twee seuns. Haar pa was ’n Jiddisj-spreker wat voor die Eerste Wêreldoorlog van Litaue na Suid-Afrika geïmmigreer het. Haar ma was ’n Engelssprekende Suid-Afrikaanse Jodin wat op Volksrust grootgeword het. Die algemene handelaar op die dorp, Gordon en Kirsch, het aan haar pa behoort. Hy was net 35 jaar oud toe hy oorlede is en sy was destyds twaalf jaar oud. Hul huistaal was Engels maar al haar skoolmaats op Koppies was Afrikaans en sy het later gesê dat die Afrikaans wat sy by hulle geleer het die Engels in hul huis oorheers het. Hoewel haar ouer broer en suster op Koppies gematrikuleer het, het sy haar hoërskoolopleiding aan die Eunice Girls High School in Bloemfontein ontvang. Nadat die gesin na Johannesburg verhuis het, het sy aan die Universiteit van die Witwatersrand gaan studeer. Sy het aanvanklik in die geneeskunde gestudeer maar gou haar studierigting verander. Sy het haar BA-graad behaal met Afrikaans-Nederlands en Geskiedenis as hoofvakke en later haar BA-honneursgraad in Afrikaans-Nederlands onder prof. CM van den Heever verwerf.
Hierna het sy onder meer by die Joodse Raad van Afgevaardigdes in Johannesburg gewerk, onderwys gegee en op die redaksies van Suid-Afrika en Horison gedien. In Johannesburg het sy met Elisabeth Eybers kennis gemaak en hulle het lewenslange vriende geword. In 1948, tydens die Onafhanklikheidsoorlog, het sy na Israel geëmigreer en heelwat vryskutwerk gedoen. Tydens ’n besoek aan vriende in Rehovot het sy haar toekomstige man, dr. Joseph Gillis, wat in 1948 van Engeland na Israel geïmmigreer het, ontmoet. Hy was later ’n professor in wiskunde aan die Weizman Instituut vir Natuurwetenskappe. Hulle is in Julie 1949 getroud en twee dogters is uit die huwelik gebore. Vanaf 1959 het sy Engels in Rehovot gedoseer, eers as onderwyser en later as universiteitsdosent aan die Weizman Intstituut. Sy het ook ’n MA-graad in Engels aan die Universiteit van Jerusalem verwerf.
Op twintigjarige ouderdom het sy die tweede vrou geword wat ’n Afrikaanse digbundel vrygestel het. Met Die soeklig het sy die eerste belangrike digter geword wat die Joodse belewenis in die Afrikaanse letterkunde verwoord het. Haar eerste bundel het nog onder die invloed van die dertigers gestaan maar in sekere verse het ’n woordvaardigheid met groot belofte na vore gekom. In Die Huisgenoot van 21 Junie 1946 is gedigte van haar oor die Joodse ervaring van die Tweede Wêreldoorlog gepubliseer. Hierdie gedigte sou later in haar tweede digbundel, Mure van die hart, gepubliseer word.
Nadat sy 24 jaar lank stil was, het haar digbundel Negentien gedigte in 1972 verskyn. Dit was eintlik ’n wonderwerk omdat sy op daardie stadium omtrent glad nie Afrikaans kon praat nie. Sy het Engels met haar man gepraat en Hebreeus met haar kinders. Sy het in die voorafgaande tyd byna glad nie gedigte geskryf nie met die uitsondering van enkele gedigte in Engels oor die Eerste Israelse Onafhanklikheidsoorlog wat in 1966 in die New Yorkse Sionistiese tydskrif Jewish Frontiers gepubliseer is. As voorspel tot Negentien gedigte het sy egter twee gedigte van die Israelse digteres Leah Goldberg uit Hebreeus in Afrikaans vertaal. Dit het in Junie 1971 in die tydskrif Buurman, die kwartaalblad van die Suid-Afrikaanse Joodse Raad vir Afgevaardigdes, verskyn.
In 1975 het sy Suid-Afrika vir die eerste keer sedert 1948 besoek; sy en Lina Spies was die enigste twee digters wat genooi is om die opening van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl by te woon. Haar besoek is moontlik gemaak deur die bemiddeling van Dirk Richard, die destydse redakteur van Die Vaderland en die Joodse Raad van Afgevaardigdes wat haar besoek geborg het. Tydens hierdie besoek het sy haar geboortedorp, Koppies, besoek en tyd saam met Jan Rabie en Marjorie Wallace op Onrus naby Hermanus deurgebring. In 1979 het sy Suid-Afrika weer besoek vir die Afrikaanse Radiodiens se boekeveiling en in 1981, om afskeid te neem van haar sterwende ma. Hierdie gebeurtenis het neerslag gevind in haar gedig “Afskeide”. Haar man is op 18 November 1993 oorlede. Die digter en radio-omroeper Daniël Hugo het Israel in 1994 besoek om ’n dokumentêre radioprogram oor Kirsch se lewe en werk te maak; en hy het hierdie besoek as ’n hoogtepunt van sy lewe beskou. Hy het ook ’n keur van haar gedigte onder die titel “Nou spreek ek weer bekendes aan”, saamgestel om met haar sewentigste verjaardag in 1994 saam te val. Kirsch het hierna nog ’n tyd lank met Hugo gekorrespondeer totdat sy ernstig siek geword het.
Sy het in die 1990’s ’n kwaadaardige breingewas ontwikkel en op 5 Junie 1997 is sy in die ouderdom van 72 jaar in Rehovot in Israel oorlede.
deur Daantjie Badenhorst