
5 NOVEMBER
GEBEURE
1837 – Piet Retief lê sy eerste besoek aan Dingaan af by uMgungundlovu
1863 – Jan Brand word president
Johannes Henricus (Jan) Brand word tot president van die Republiek van die Oranje-Vrystaat verkies.
1908 – Cullinan-diamant verdeel
Die Cullinan-diamant word gesny en lewer twee groot stene op, naamlik die Ster van Suid-Afrika en Cullinan II en 96 kleineres.
1932 – Eerste vergadering van die FAK se Liederebundelkomitee
Die gedagte wat by die Afrikaanse Studentebond ontstaan het om ’n Afrikaanse Liederebundel saam te stel, het aanleiding tot die saamstel van die Liederebundelkomitee gegee. Dit is aan die komitee opgedra om vir die saamstel van ’n Liederebundel verantwoordelik te wees. Op Saterdag 5 November 1932, het die Liederebundelkomitee vir die eerste maal in Johannesburg vergader. Mnr. IM Lombard is as voorsitter en mnr. JJF du Toit as sekretaris aangewys. Die dringendheid en intense belangrikheid van die opdrag om ’n volksangbundel saam te stel, is terdeë besef. Daarom is daar op hierdie eerste vergadering besluit om so gou as moontlik tot die uitgee van ’n liederebundel oor te gaan. Met goeie gevolg, maar ook nie sonder probleme nie, het die FAK-Volksangbundel op 7 Julie 1937 die lig gesien.
GEBOORTES
Geen
STERFTES
1975 – Ds. Hendrik Johannes Christoffel Snijders, leraar (* 2 Maart 1906)
1982 – Johannes Albertus Munnik (Albert) Hertzog, advokaat en politikus (* 4 Julie 1899)
Dr. Albert Hertzog was die seun van die voormalige eerste minister van Suid-Afrika, genl. JBM Hertzog; hy het die koms van televisie jare lank teengestaan en was later die stigter van die Herstigte Nasionale Party.
1985 – Elise Muller, skrywer en uitgewer (* 11 Maart 1919)
1994 – Johan Adam Heyns, teoloog en moderator van die algemene sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (* 27 Mei 1928)
Johan Heyns was ’n invloedryke Afrikaner Calvinistiese teoloog en moderator van die algemene sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK). Hy is vermoor by sy huis in Waterkloofrif, Pretoria. Alhoewel sy moord nooit amptelike opgelos is nie, word dit algemeen aanvaar dat dit direk verwant was tot sy kritiek ten opsigte van apartheid. Nelson Mandela het aan hom hulde gebring as ’n martelaar vir sy land en ’n kryger vir vrede.
2012 – Louis Pienaar, ’n Suid-Afrikaanse regter, diplomaat en die laaste blanke administrateur van Suidwes-Afrika (* 26 Junie 1926)
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.