JAN BRAND (1823-1888)
BESADIGDE EN TAKTVOLLE PRESIDENT
By die Afrikaner het die optimistiese gesegde van Jan Brand – “alles sal regkom” spreekwoordelik geword, en in die Vrystaat leef sy naam nog as “Vader des Volks” onder die nakomelinge van die mense oor wie hy vanaf 1863 tot aan sy dood as President gesag gevoer het.
Gebore in Kaapstad in die dae van lord Charles Somerset, het Brand grootgeword in die huis van sy vader, die vurige advokaat Christoffel Brand, kampvegter vir die demokratiese regte van die koloniste in die dae van die Anti-Bandiete-beweging en later Speaker van die Kaapse Wetgewende Vergadering. As seun het Jan Brand die ou “South African College” besoek, en daarna in Leiden in die regte gaan studeer. Nadat hy in 1845 sy graad behaal het, het hy hom by die Inner Temple in Londen laat inskryf en in 1849 as advokaat na sy vaderland teruggekeer.
Weldra word die jong advokaat Parlementslid vir Clanwilliam en hy toon dat hy as spreker vlot en oortuigend sy woord kan doen; ’n man met aggressiewe deursettingsvermoë en ’n sterk persoonlikheid. By sy ou kollege word hy in hierdie dae as professor in die regte aangestel.
Wanneer die Vrystaat in 1863 deur M.W. Pretorius verlaat word temidde van dreigende gevaar van die kant van die Basoeto’s en Mosjesj, word die veertigjarige Kaapse advokaat as President gekies.
In die brandarm republiekie begin Jan Brand se lewenstaak. Weldra wyk die Basoeto-gevaar voor sy vasberade optrede, gepaard met Britse tussenkoms, en kort daarna bring die ontdekking van diamante langs die Vaalrivier en by Kimberley nuwe ekonomiese stukrag vir die Republiek. Dit bring ook ’n langgerekte geskil met die Britse regering aangaande die diamantvelde, en ons sien Jan Brand as advokaat wat in die bresse tree vir die regte van sy Republiek. Tot 1876 duur sy stryd; hy gaan self na Engeland en stel sy saak so oortuigend, dat hy skadevergoeding verkry.
Teenoor Brittanje was hy origens simpatiekgesind – te toegewend, inderdaad, na die sin van sommige van sy burgers en die Afrikaners van Transvaal en die Kaapkolonie. Maar dit het aan sy prestige nie veel afgedoen nie; telkens as hy wou bedank, het die openbare mening onder die kiesers dit belet.
In die jaar 1881 tree hy as bemiddelaar op in die onderhandelings tussen Transvaal en die Britse magte op Laingsnek, en daarna wend hy hom in toenemende mate tot die ontwikkeling van sy staat deur spoorwegaansluiting met die aangrensende gebiede. Die vraagstuk van spoorwegverlenging vanuit Kaapland is egter eers na sy dood beslis. Weliswaar het daar kort voor sy heengaan ’n tolunie tussen die Vrystaat en die Kaapkolonie tot stand gekom wat vir die Republiek groot voordele meegebring het.
In die laaste jare van sy bewind kon hy saamwerk met sy groot tydgenoot Kruger. Tot belangrike resultate het dit nie gelei nie, maar Brand het tog die weg voorberei vir ’n beter verstandhouding in later jare.
Teen hierdie tyd was Brand reeds verskeie kere as President herkies, o.a. in 1869, 1874 en 1879. Sy naam was op die lippe van almal in die land as ’n man wie se weldadige persoonlike invloed, simpatieke optrede teenoor alle elemente van die samelewing, en rype mensekennis deel geword het van die atmosfeer waarin hy die “Modelrepubliek” bestuur het. Oor sy besondere humorsin en sy slag om met sy medemens te werk, doen nog baie staaltjies die ronde.
Op die aand van 14 Julie 1888 is Jan Brand plotseling in Bloemfontein oorlede en in sy plek is tot president gekies hoofregter F.W. Reitz.
In die hoofstad het die Vrystaters vir hulle President ’n marmer-standbeeld opgerig voor die Raadsaal en op die voetstuk lees ons vandag as bemoediging vir die lewenstaak die woord van Jan Brand: “Alles sal regkom.”
Alles sal regkom
Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.
Foto: Elliott-versameling, Kaapse Argief