8 APRIL
GEBEURE
1652 – Eerste vergadering van die Breë Raad aan die Kaap
Op dié Maandag, twee dae na hul aankoms in Tafelbaai, het Van Riebeeck die Breë Raad byeengeroep, d.w.s. die hoogste gesagvoerende liggaam van die vloot, bestaande uit die kommandeur as voorsitter en die vernaamste bevelhebbers van die skepe, die Reijger en die Goede Hoop. Hoewel die vergadering nog aan boord van die Drommedaris plaasgevind het, was dit die eerste vergadering van Van Riebeeck se bestuursliggaam aan die Kaap. Hierdie geskiedkundige vergadering vorm dus die grondslag van die regeringstelsel in Suid-Afrika. Die Breë Raad sou spoedig as die Politieke Raad of Raad van Politie bekend staan – die hoogste regeringsliggaam aan die Kaap, hoewel ondergeskik aan die Raad van Indië in Batavia. Op hierdie eerste vergadering is belangrike besluite oor die stigtingswerk geneem en is daar besluit om ’n plakkaat uit te vaardig – die eerste wet in Suid-Afrika – waarin voorskrifte oor die bou van die fort, optrede teenoor die Hottentotte en die gedrag van die soldate bepaal is.
1812 – Retief aangestel as kommandant aan die Oosgrens
Piet Retief word saam met D Malan en P Krige aangestel as kommandant om diens te verrig aan die Oosgrens. Sestien dae later vertrek die kommando uit Stellenbosch na die Visrivier en die Oosgrens.
1848 – Oproep tot immigrante benoorde die Grootrivier om herstel van hul vryheid
Nadat die Kaapse goewerneur, sir Harry Smith, op 3 Februarie 1848 wederregtelik en teen die sin van die meeste blanke inwoners die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier tot Britse grondgebied, t.w. die Oranjerivier-Soewereiniteit, verklaar het, het veral die republikeinsgesinde immigrante benoorde die Vetrivier besluit om hulle teen hierdie daad te verset. Hiervoor het hulle die hulp van Andries Pretorius, die bekende Voortrekkerleier, ingeroep, wat toe aan die Magaliesberg geboer het. Dit was hy wat aan Smith gesê het: “Hier vlug ons van die Britse gesag en waarheen ons wil, neem u alles in besit, waar moet ons heen? U sal daardeur die Emigrante-Boere tot twee weë dwing, nl. om hul wettig gekoopte land te verdedig, of dieper die wildernis in te gaan.” Tot die laaste uitweg was Pretorius en sy volgelinge nie meer bereid nie, en op grond van hierdie versetgees het Pretorius op 8 April 1848, “eene Algemene Oproeping” aan alle mense gerig “om ons wettige eygendom, welk ons goed en den bloet van mans, frouwens en kinderen heef gekos, weer om te vragen …, (want) sie gij niet dat gij UE niet kond vry trekken nog vlugten, maar neemt God in UE harten en dan zweert in UE handen en verdedig UE reg en UE vrijheid welk aan alle schepselen op den aardbodem is geschonken.”
1932 – Die laaste uitgawe van die Kaapse koerant De Zuid-Afrikaan, opgerig in 1830, verskyn
1959 – Stigting Simon van der Stel kom tot stand
Die Stiging Simon van der Stel is op 8 April 1959 in die Kasteel die Goeie Hoop in Kaapstad gestig. By die geleentheid was die bekende Suid-Afrikaanse argitek Norman Eaton die spreker. Die organsiasie dra die naam van goewerneur Van der Stel, omdat die Kaaps-Hollandse boustyl sy beslag gekry het in sy regeerperiode aan die Kaap.
1989 – Demokratiese Party in Johannesburg gestig
GEBOORTES
1844 – Jan Christoffel de Waal, Vrystaatse Volksraadslid en gesiene boer († 16 Oktober 1936)
Jan Christoffel de Waal is op Stellenbosch gebore en het in sy vroeë jare twintig skaapboer in die distrik Bethulie in die Vrystaat geword, waar hy ook die openbare lewe aktief betree het. As Volksraadlid het hy hom in 1899 teen oorlog teen Brittanje uitgespreek, maar die regering nietemin in die oorlog gesteun. Hy het ook ’n groot rol gespeel in die hervestiging en uitbreiding van die Vrystaat se uitgedunde skaapbevolking na die oorlog deur as amptelike afgevaardigde stoetskape in Australië te gaan koop. Op dié manier het hy die hele vaderland gedien en veral gehelp om die Afrikaner weer op die been te bring. Hy is op 16 Oktober 1936 in die Paarl oorlede.
1955 – Gerrie Coetzee, bokser († 12 Januarie 2023)
STERFTES
1886 – Jan Carel Juta, vader van die uitgewerswese in Suid-Afrika (* 23 Maart 1824)
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.