GERRIE COETZEE (1955-2023)
Gerrie Coetzee was die eerste bokser van Afrika wat om die swaargewig-wêreldtitel geveg het.
Gerhardus Christian Coetzee is op 8 April 1955 in Boksburg aan die Gautengse Oos-Rand gebore. Sy eerste geveg as beroepsbokser het op 14 September 1974 plaasgevind toe hy die destydse veteraan, Christiaan Roos, in die vierde ronde uitgeslaan het. Na nog ’n oorwinning oor Roos met ’n uitklophou in die derde ronde, het Coetzee op 16 Augustus 1976 teen Mike Schutte te staan gekom. Schutte is gediskwalifiseer toe hy Coetzee geskop het terwyl hy op die grond gelê het. Hy het die Suid-Afrikaanse swaargewigkampioenskap met hierdie geveg gewen en die titel drie keer verdedig, onder meer teen Pierre Fourie.
Sy eerste geveg in die buiteland het Coetzee onder die wêreld se aandag gebring. Twee uitdungevegte vir die vakante WBA-swaargewigtitel het in 1979 plaasgevind. Knoetze het sy uitdungeveg teen John Tate verloor, maar Coetzee het vinnig met sy opponent, Leon Spinks, klaargespeel. Die destydse radio-omroeper en komediant Leon Schuster het seker gemaak dat die Suid-Afrikaanse publiek van hierdie geveg bewus sou wees. Hy het die liedjie “Gerrie seer handjies Coetzee” op die wysie van Anton Goosen se treffer “Kruidjie-roer-my-nie” geskryf. Die titel was na aanleiding van die bynaam wat Knoetze aan Coetzee gegee het. Die geveg het op 24 Junie 1979 in Monaco plaasgevind, en Coetzee het Spinks in die eerste ronde uitgeslaan. Dit het beteken dat Coetzee en Tate op 20 Oktober 1979 op Loftus Versfeld om die wêreldtitel sou veg. Suid-Afrikaanse sportkommentators het die geveg as “die grootste sportgebeurtenis in ons land se geskiedenis” beskryf. Weer eens het Leon Schuster ’n liedjie ter ondersteuning van Coetzee geskryf, naamlik “Oom Flippie se bielie-bielie-boksmasjien o”p die wysie van Sonja Herholdt se treffer “Ta’ Mossie se sakkie-sakkie Boeredans”. Oom Flippie, van wie Schuster gesing het, was Gerrie se pa. Nog ’n komediant wat ’n liedjie oor hierdie geveg geskryf het, was Dennis McLean. Sy liedjie oor dié geveg was “Die boksers van Loftus”, op die wysie van “Die tantes van Nantes” van Al Debbo. Coetzee het ’n Cocker Spaniel-hond met die naam van Wendy gehad, en McLean het in hierdie liedjie van haar gesing. Niks hiervan het gehelp nie, want Tate het die geveg oor vyftien rondes met punte gewen nadat Coetzee die kans gehad het om Tate uit te slaan.
Op 25 Oktober 1980 het Coetzee weer ’n kans gehad om die wêreldtitel te verower toe hy in die Sun City Superbowl teen Mike Weaver te staan gekom het. Die skeidsregter het die geveg in die dertiende van die vyftien rondes beëindig. Net een van Coetzee se gevegte het gelykop geëindig. Op 22 Januarie 1983 het hy in Atlantic City in die Amerikaanse staat New Jersey teen Pinklon Thomas te staan gekom. Later daardie jaar het Coetzee vir die derde keer ’n kans gehad om die wêreldtitel te wen. Sy geveg teen Michael Dokes het in Richfields in die Amerikaanse staat Ohio plaasgevind. Hy het Dokes in die agtste ronde planke toe gestuur en die titel eindelik gewen. Die hou waarmee Coetzee die geveg gewen het, het sy regterhand tot so ’n mate beseer dat dit nie net gebreek is nie, maar dat hy ’n operasie moes ondergaan en vyf dae lank in ’n hospitaal in New York City moes deurbring. Daar was ’n moontlikheid van ’n geveg tussen Coetzee en Larry Holmes wat op daardie stadium as die beste swaargewigbokser ter wêreld beskou is. Holmes was die Internasionale Boksfederasie (IBF) se wêreldkampioen terwyl Coetzee die Wêreldboksvereniging (WBA) se kampioen was. Die titelgeveg sou die twee titels verenig en ’n kontrak om die geveg te hou, is aangegaan. Daar was egter ’n paar struikelblokke. Don King was Coetzee se promotor, en ook dié van Holmes, maar nadat King en Holmes se paaie geskei het, is die planne laat vaar. Holmes wou die geveg, wat vir hulle albei tot groot finansiële voordeel sou wees, red. Coetzee was gretig om met die geveg voort te gaan, hoewel hy dit dalk sonder die WBA-titel sou moes doen. Die WBA het besluit dat Coetzee se titel van hierdie beheerliggaam in hierdie geveg op die spel sou wees. Andersins moes Coetzee sy titel prysgee en as uitdager vir Holmes aan die geveg deelneem. Volgens Holmes was daar geen rede hoekom die WBA in beheer van die geveg moes wees nie, en die WBA het besluit dat Holmes nie teen Coetzee te staan kom nie. Tydens ’n oefening het Coetzee weer sy hand beseer en ’n verdere operasie was nodig; gevolglik is die geveg afgelas.
Na ’n lang afwesigheid het Coetzee vir die verdediging van sy titel gereed gemaak. Die voorste aanspraakmaker, David Bey, het volstrek geweier om na Suid-Afrika te reis, met die gevolg dat Greg Page sy teenstander sou wees. Daar het egter ’n stigma aan Page gekleef as gevolg van sy onvermoë om belangrike gevegte te wen, en hy is as lui en ongemotiveerd beskou ten spyte daarvan dat hy weens sy spoed in die kryt, asook sy grootte, belofte getoon het. Nogtans het Page die geveg, wat op 1 Desember 1984 in die Sun City Superbowl plaasgevind het, met meer energie as gewoonlik benader terwyl Coetzee van selfvertroue oorgeloop het. Coetzee se regterhand het nog nie volkome herstel nie en hy het op sy linkerhand staatgemaak. Page het Coetzee eers in die sesde ronde platgeslaan en daarna weer in die sewende ronde. Die skeidsregter het hom só in die geveg ingeleef dat hy vergeet het om die klok in die agtste ronde te lui. Page het Coetzee teen die einde van daardie ronde uitgeslaan en die geveg gewen al was dié ronde langer as wat dit moes wees. Hoewel Coetzee se kamp beswaar gemaak en op ’n herontmoeting aangedring het, het die WBA die uitslag bevestig. Die herontmoeting het nooit plaasgevind nie, want Page het sy titel teen Tony Tubbs verdedig.
Op 7 September 1985 het hy met punte teen James “Quick” Tillis gewen maar nadat Frank Bruno hom in ’n geveg op 4 Maart 1986 in Londen in die eerste ronde uitgeslaan het, het hy uitgetree. Hy het wel twee keer in die 1990’s ’n terugkeer probeer maak. Hy het sy heel laaste geveg op 8 Junie 1997 verloor.
Na sy uittrede het hy ’n bokspromotor geword en gevegte vir onder meer Francois Botha en Dingaan Thobela gereël. Hy het in sy professionele loopbaan aan veertig gevegte deelgeneem, en 21 van sy 33 oorwinnings was met uitklophoue. Hy het ses gevegte verloor en een geveg het gelykop geëindig.
Hy is op 12 Januarie 2023 aan longkanker oorlede.
Daantjie Badenhorst