8 FEBRUARIE

GEBEURE

1837 – Die Voortrekkers kies die eerste kerkraad van die onafhanklike Voortrekkerkerk

Nadat die Trekgroep reeds oor die Oranjerivier was, is oorgegaan tot die daarstelling van ’n amptelike bestuur vir die Voortrekkers. Aangesien die Trekkers besiel was met die gedagte dat “de openbare Godsdienst de eerste grondslag moet zijn waarop een Christelijke Maatschappij moet gegrondvest worden”, sou hierdie amptelike bestuur ook ’n verenigde kerkorganisasie veronderstel. So is daar tot die eerste stap van kerklike organisasie gekom toe op ’n gesamentlike byeenkoms van die Trekkers op hierdie datum ’n kerkraad gekies is. As ouderling is aangewys Johannes Stephanus Maritz en as diakens Sarel Cilliers en Christiaan Viljoen. Die amp van ouderling met sy groot aansien, was veral betekenisvol in daardie tyd. Hy moes by afwesigheid van ’n leraar al die noodsaaklike werk verrig, soos veral sieke en huisbesoeke. Vanweë die onbestendigheid van die Trekkerslewe het hierdie eerste kerkraad blykbaar nooit amptelik vergader nie.

1860 – Marthinus Wessel Pretorius word as president van die Oranje-Vrystaat verkies

1881Eerste Vryheidsoorlog: Die Slag van Ingogo (Skuinshoogte)

Een van die skitterendste oorwinnings in die Transvaalse Vryheidsoorlog is op Skuinshoogte deur genl. Nicolaas Smit en sy ongeveer 100 man oor genl. Colley en sy ongeveer 600 man, bygestaan deur ’n ruitery en vier kanonne, behaal. Die slag het tussen ongeveer 09:00 en 19:00 plaasgevind. Agt Boere is in die slag dood en ’n paar is gewond. Daarteenoor is daar van Colley se mag, nadat baie lyke in die nag van die koppie af verwyder is, 205 dooies en gewondes die volgende oggend getel. Die Boeremag was gewapen met gewere, ’n ou koperkanon en ’n ander ou kanon, waarvan nie een meer as sowat 100 meter ver kon skiet nie.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Mafeking in staat van beleg

Mafeking verkeer steeds in ’n staat van beleg. Kolonel Baden-Powell verbied die verkope van voedselvoorrade aan anderskleuriges in die dorp wat nie by die militêre aktiwiteite betrokke is en help nie.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Annie Botha besoek haar man

Generaal Louis Botha se vrou, Annie, ontvang toestemming van lord Kitchener om haar man te velde te besoek.

1916 – Universiteit van Fort Hare ontwikkel

Genl. Louis Botha, indertydse premier van die Unie van Suid-Afrika, open die South African Native College te Alice in die Oos-Kaap, waaruit die Universiteit van Fort Hare later ontwikkel.

1918 – Die Koöperatiewe Wijnbouwers Vereniging van Zuid-Afrika (KWV) geregistreer

1921 – Algemene verkiesing

Pas nadat ’n algemene verkiesing op 10 Maart 1920 gehou is, is die kiesers op hierdie datum weer na die stembus. Na 1915 was dit vir premier Louis Botha duidelik dat die politiek langs die taalgrens afgeskeur het. Hy was gevolglik verplig om die sterk Britse element van Unioniste onder Thomas Smartt by die Suid-Afrikaanse Party te betrek, ten einde polities te bly regeer. In Augustus 1919 is hy oorlede, en genl. Smuts, wat tussen 1915 en 1919 jare lank buite die land was, moes as premier oorneem. Sy wêreldwye en veral Londense verbintenis het dit vir hom onmoontlik gemaak om met genl. Hertzog en die Nasionale Party saam te werk. Daarom het hy liewer met die Unioniste saamgewerk. Die uitslag van 1920 het Smuts egter tot die werklikheid geskok. Die Nasionale Party het 44 teenoor die Suid-Afrikaanse Party se 41 setels verower. Die Arbeiders met hulle 21 setels het verdere onheil voorspel. Daarom het hy die steun van die Unioniste met hulle 25 setels dringend nodig gehad. Nogtans wou hy polities nie deur ’n koalisiefaktor afgepers word nie. Die gevolg was dat hy in November 1920 die Unioniste met die Suid-Afrikaanse Party laat saamsmelt het. Dit sou aan Smuts ’n sterk party en ’n sterk regering besorg. Maar daardeur is die Afrikaner polities grootliks finaal van Smuts gespeen, want die Unioniste het op streng bande met en onderhorigheid aan Brittanje aangedring. Dit het Smuts gepas, en daarom is hy dadelik weer na die stembus om aan die land, sy vyande en aan die wêreld te bewys dat hy sterk staan. Sy insig was korrek en die vyftigjarige premier Smuts is met ’n groot meerderheid verkies. Terselfdertyd het die Nasionale Party ook gevorder, en dit het die grondslag gelê om Afrikaner-politici en Engelstalige stedelike arbeidsgroepe in ’n span teen genl. Smuts te organiseer. Die vierde algemene Uniale verkiesing van 8 Februarie 1921 was dus die begin van die politieke triomf van die Hertzog-Afrikaner in 1924.

1922 – Genl. De Wet word by die Vrouemonument begrawe

’n Skare van tienduisende volksgenote het vandag die laaste hulde gebring aan genl. Christiaan de Wet. ’n Begrafnisstoet wat twee myl lank was, het die stoflike oorskot van die ontslapene van die kerk na sy laaste rusplaas aan die voet van die Vrouemonument gebring. Waar eenmaal sy welluidende stem sy volk vermaan het om te werk terwyl dit dag is, rus nou die troue dienskneg aan die sy van sy vriend, president Marthinus Theunis Steyn. Onder die reusagtige blommehulde was een van die kranse opgedra “Aan genl. De Wet, die Inspirasie van Jong Suid-Afrika”.

1994 – Die Vriende van Afrikaans (VVA) gestig

 

GEBOORTES

1886 – Sannie Uys

Sannie Uys was ’n talentvolle skryfster wat veral die laat 19de-eeuse lewe in die Swellendamse kontrei in verhale, sketse en radiopraatjies uitgebeeld het. Sy was ook die moeder van die bekende kunstenaars Uys en Francois Krige.

 

STERFTES

1884 – Cetshwayo, koning van die Zoeloes (* c. 1826)

Cetshwayo kaMpande was die koning van die Zoeloenasie van 1872 tot 1879 en die leier van die Zoeloes tydens die Anglo-Zoeloe-oorlog. Sy naam is ook getranslitereer as Cetaway, Cetewayo, Cetywajo en Ketchwayo en is Zoeloe vir “die belasterde een”. Cetshwayo word beskou as die laaste koning van ’n onafhanklike Zoeloenasie. Tydens die Anglo-Zoeloe-oorlog van 1879 het die Britse Ryk ’n vernederende nederlaag in die Slag van Isandlwana gelei en is die reputasie van die Zoeloes as krygers wêreldwyd gevestig. Die Britte se uiteindelike oorwinning oor die Zoeloes later daardie jaar by Ulundi het egter in praktyk ook ’n einde gebring aan enige werklike weerstand teen wit oorheersing in Suid-Afrika. Cetshwayo is na Kaapstad verban. Kort voor sy dood is hy toegelaat om na sy geboortegrond terug te keer.

1904 – Stephanus Postma, teoloog en predikant (* 6 Januarie 1865)

Prof. Stephanus Postma was ’n teoloog en predikant van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika en ’n seun van die grondlegger van dié kerk, ds. Dirk Postma.

1966 – Frans Hendrik (FH) Odendaal, politikus en goewerneur van Transvaal (* 18 September 1898)

2012 – Barend Petrus Jacobus Erasmus, skrywer (* 15 Desember 1930)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/