STEPHANUS POSTMA (1865-1904)

Prof. Stephanus Postma was ’n teoloog en predikant in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika en die seun van ds. Dirk Postma.

Stephanus Postma is op 6 Januarie 1865 in Rustenburg gebore en was die derde kind uit sy pa se vierde huwelik. Ds. Dirk Postma (junior) is uit dieselfde huwelik gebore; hy het van 1869 tot 1919 gelewe en in 1897 predikant geword. As gevolg van insolvensie, veral weens sy vrou se spandabelrigheid is hy in 1905 as predikant afgesit.

Hy het op Burgersdorp skoolgegaan en daarna by sy halfbroer, Martinus Postma aan die Literatiese Afdeling van die Teologiese Skool op dieselfde dorp onderrig ontvang. In 1885 het hy die hoogste punte in die finalejaar-BA-eksamen aan die Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop behaal waarna hy sy studie aan die Teologiese Skool voortgesit het. Die gesin het in 1866 van Rustenburg na Burgersdorp verhuis nadat sy pa ’n beroep by die plaaslike Gereformeerde gemeente aanvaar het, veral met die oog om die teologiese skool tot stand te bring. By die vertrek van sy halfbroer, prof. Martinus Postma en nadat Stephanus sy proponentseksamen afgelê het, is hy van die begin van 1890 af benoem as professor literarium, ’n pos wat hul broer, ds. Petrus Postma, van 1877 tot 1879 beklee het.

Op 12 Julie 1890 het Stephanus professor geword, en by hierdie geleentheid het ds. MPA Coetzee (junior), een van die eerste predikante wat hulle aan die Teologiese Skool bekwaam het, die rede gelewer. Reeds met sy intreerede het Stephanus hom as Afrikaanse kultuurman geopenbaar. Hy het die Calvinisme in verband met die ontwakende Afrikaanse nasionale strewe gebring en selfs ’n beroep op Europese immigrante gedoen om hulle in Suid-Afrika met die Protestantse nasionale strewe te vereenselwig. Saam met prof. Jan Lion-Cachet en JD du Toit (Totius) het hy in Januarie 1896 deelgeneem aan die Eerste Afrikaanse Taalkongres, waar hy die naam, Ons Klyntji, vir die nuwe tydskrif voorgestel het. Hy was ’n briljante student wat ’n besondere liefde vir wiskunde en aardrykskunde naas ou tale gehad het. Benewens Grieks, Hebreeus en Latyn het hy ’n deeglike kennis van Arabies en Aramees gehad. Tydens die vervolging van die Armeniërs deur die Turke omstreeks 1900 , het geleerdes op Stellenbosch twee kollektante van die Armeniërs na Stephanus verwys om hul stukke te vertaal. Hy het dit voor ontbyt vir hulle voltooi. In sy vrye tyd het hy geologie en wiskunde bestudeer en met geleerdes gekommunikeer.

In 1888 is hy getroud met Johanna Jacoba Hendrika Slijkhuis, wie se ouers Gerrit en Hendrika (gebore Otterloo) van Nederland na Suid-Afrika geïmmigreer het. Altesaam sewe kinders is uit die huwelik gebore. Die eerste rektor van die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, prof. Ferdinand Postma, was sy broerskind.

Teen die einde van 1897 het hy, soos sy halfbroer Martinus sewe jaar tevore, ’n beroep na Middelburg in die Oos-Kaap aanvaar. Die militêre owerhede het hom gereeld tydens die Anglo-Boereoorlog ondervra; hy het egter deurgaans korrek opgetree en as enigste predikant vir die Afrikaanse gemeenskap op die dorp ’n positiewe rol gespeel. Hy het as geestelike versorger gedien vir Kaapse rebelle soos PJ Wolvaardt en kommandant PJ Lötter, wat tereggestel is nadat die doodsvonnis voor die kerk oor hulle uitgespreek is, en ’n publieke komitee gestig wat bystand aan weduwees, weeskinders en gewondes verleen het. Binne sy kerkverband het hy baanbrekerswerk op Middelburg gedoen vir die georganiseerde vrouearbeid in die gemeente toe hy die Gereformeerde Dorkasvereniging na die oorlog in Kaapland in die lewe geroep het. Sy besondere liefde vir die kerkjeug het duidelik geblyk uit sy pastorale werk vir georganiseerde jeugbewegings en veral uit sy enigste publikasie, De catechisatie: handleiding bij de verklaring van het kort begrip ten dienste van jongelingen die zich voorbereiden voor de belijdenis.

Kort na die oorlog het die gemeente Middelburg besluit om oor te gaan tot die bou van ’n nuwe pastorie. Die nuwe pastorie is in 1904 voltooi maar Stephanus en sy gesin het dit nooit bewoon nie, want teen die einde van 1903 het hy aan die kerkraad bekendgemaak dat hy aan ’n maagkwaal gely het. Almal was bewus daarvan, en twee maande siekverlof is aan hom toegestaan. Dit was die einde van sy aktiewe bediening in die gemeente.

Op Maandagaand 8 Februarie 1904 is hy in die jeugdige ouderdom van 39 jaar oorlede nadat hy ’n smartlike lyding weens ’n mislukte operasie deurgeworstel het. Sy dood was vir sy gesin, die kerk en die gemeenskap ’n onherstelbare verlies.

deur Daantjie Badenhorst