8 MAART
GEBEURE
1730 – Jan de la Fontaine aangestel as 13de Goewerneur aan die Kaap
1901 – Anglo-Boereoorlog: Hobhouse besoek Norvalspont
Op 8 Maart 1901 lê die Emily Hobhouse besoek af by die Norvalspont-konsentrasiekamp. Dié kamp is teen November 1900 tot stand gebring om druk op die oorvol Bloemfontein-kamp te verlig. Hobhouse het hierdie kamp die eerste keer in Februarie 1901 besoek en volgens die webblad “British Concentration Camps of the South African War, 1900-1902” (met ’n databasis deur dr. Elizabeth van Heyningen) het Hobhouse die kamp in fyn besonderhede beskryf. Volgens Hobhouse was die kamp omring deur heuwels en aangesien dit naby aan die Oranjerivier geleë was, was ’n strook van die rivier sowel as die heuwels rondom Bethulie sigbaar. Teen die tyd wat Hobhouse die kamp in 1901 besoek het, was daar nagenoeg 1 500 mense hier. Hobhouse het onder meer ook die Aliwal-Noord-, Springfontein- en Kimberley-kampe besoek. Na aanleiding van haar verbete druk op die Britse regering is omstandighede in die konsentrasiekampe plek-plek ietwat verbeter.
1902 – Anglo-Boereoorlog: Genl. De la Rey laat Lord Methuen vry nadat sy wonde behandel is
Generaal De la Rey stuur ’n telegram aan lord Methuen se vrou om haar in te lig rondom haar man se toestand. Etlike Burgers is woedend omrede genl. De la Rey van plan was om lord Methuen vry te laat sodra sy wonde behoorlik verpleeg was. Tant Nonnie, die generaal se vrou, het intussen ’n hoender geslag en as ete vir lord Methuen voorberei.
GEBOORTES
1739 – Joachim Ammena van Plettenberg, goewerneur van die Kaapkolonie van 1771-1785 († 18 Augustus 1793)
Joachim van Plettenberg was die goewerneur van die Kaap de Goede Hoop van 11 Augustus 1771 tot 14 Februarie 1785. Hy het Ryk Tulbagh opgevolg as waarnemende goewerneur na dié se afsterwe. Op 18 Mei 1774 is hy permanent aangestel in die amp.
1827 – Prof. dr. Nicolaas Jacobus Hofmeyr, predikant en teoloog († 2 September 1909)
Nicolaas Jacobus Hofmeyr is op Stellenbosch gebore en ontvang sy skoolopleiding aan die enigste Hollandse skool in die Kaap, Tot Nut van’t Algemeen. Hy vertrek na Holland om hom aan die Universiteit van Utrecht as predikant te bekwaam. In 1849 lê hy die kandidaatseksamen af met die hoogste lof. Van 1851 tot 1858 is hy predikant van die gemeente Hantam, wat op sy aandrang Calvinia, na Calvyn, genoem is. In 1859 word hy en ds. John Murray die eerste teologiese professore aan die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch. Baie jare het hy ’n onberekenbare invloed op sy studente uitgeoefen. Hy het baie in die hoër onderwys belang gestel, en hierin was sy bondgenoot ds. JH Neethling, van Stellenbosch. Op hulle aandrang is die Stellenbossche Gymnasium (Gimnasium Paul Roos) in 1866 gestig. Hieruit het die senior afdeling in die Victoria-Kollege ontwikkel, wat in 1918 die Universiteit van Stellenbosch geword het. Hulle het ook die Hoër Meisieskool Bloemhof gestig. Prof. Hofmeyr het hom vroeër al verset teen die liberalisme wat in die NG Kerk begin indring het. In 1862 stig hy De Volksvriend, wat veral die ortodokse Calvinistiese geloof teenoor die liberalisme beklemtoon het. Hy begin die Sondagoggend Bybelklasse op Stellenbosch, waaruit die Christelike Jongeliedevereniging (CJV) voortgekom het. Hierdie lesings word in ’n aantal stigtelike boeke gepubliseer, wat wye invloed uitgeoefen het en selfs in Duits vertaal is. Hy is op 2 September 1909 op Stellenbosch oorlede.
1847 – Ds. Johannes Rudolph Albertyn, een van die mees gevierde kanselredenaars in die Nederduitse Gereformeerde Kerk († 17 Junie 1920)
Johannes Rudolf (die oue) Albertyn, seun van ds. en mev. PK Albertyn, is op Prins Albert gebore. Hy geniet sy skoolopleiding aan die Paarlse Gimnasium en gaan vervolgens na die Teologiese Kweekskool van Stellenbosch om hom vir predikant te bekwaam. Hy word as predikant gelegitimeer in 1871 en word predikant van die Kleurlinggemeente van St. Stephens in Kaapstad, waar hy twee jaar bly. Daarna is hy na die VSA, waar hy onder invloed van die evangelis Moody kom. Met sy terugkeer, belê hy ’n predikante-konferensie, en hieruit word gemeentelike konferensies belê wat later uitloop op spesiale evangelieprediking. Na sy ernstige siekte en herstel word hy ook aan die einde van sy lewe een van die eerste spesiale evangeliepredikers. Gedurende die Anglo-Boereoorlog besoek hy Boerekrygsgevangenes op St. Helena en Bermuda. In 1888 het hy al as predikant van Riversdal die gebruik begin om Nagmaal in die banke i.p.v. aan tafel te laat bedien. Met die Sinode van 1890 kry hy steun hiervoor, en dit word spoedig ’n algemene gewoonte in die kerk. Hy was een van die beste kanselredenaars wat die NG Kerk opgelewer het. Hy is oorlede op 17 Februarie 1920 op Wellington.
1898 – Theophilus Ebenhaezer (Eben) Dönges, koerantman, kultuurleier, advokaat en politikus, Staatspresident van Suid-Afrika († 10 Januarie 1968)
Theophilus Ebenhaezer Dönges is op Klerksdorp gebore. As student op Stellenbosch verwerf hy die grade BA en MA (Filosofie) met onderskeiding, waarna hy hom aan die Universiteit van Londen in die regte bekwaam. In 1925 verwerf hy die LLD-graad aan dié universiteit. Terug in Suid-Afrika, tree hy tot die joernalistiek toe, onder meer as hoof-assistentredakteur van Die Burger. Vanaf 1927 tot 1948 het hy regsgeleerde gepraktiseer. In dié tyd het hy reeds begin om ’n prominente rol in die godsdienstige, kulturele en ekonomiese lewe van die Afrikaner te speel. Hy dien as bestuurslid in verskeie organisasies, onder meer as ondervoorsitter van die FAK. In 1941 tree hy tot die politiek toe as LV vir Fauresmith. Daarna volg ’n lang en toegewyde politieke loopbaan, onder meer as Minister van Binnelandse Sake (vanaf 1948), Kaaplandse leier van die Nasionale Party (vanaf 1953), en Minister van Finansies (vanaf 1958). Die kroon word op die openbare loopbaan van die innemende dr. Dönges gespan toe hy in 1967 as Staatspresident aangewys word. Ernstige siekte en sy dood in Januarie 1968 het verhinder dat hy die amp kon beklee.
STERFTES
1822 – Anton Anreith, beeldhouer (* 11 Junie 1754)
Anton Anreith, wat op Riegel, naby Freiburg in Duitsland, gebore is, was ’n beskeie en talentvolle kunstenaar wat hom in 1777 aan die Kaap gevestig het, waar hy bekendheid verwerf vir sy sierlike beeldhouwerk, onder meer in die Lutherse Kerk en as skepper van die kansel in die Groote Kerk. In samewerking met die argitek Thibault, is hy verantwoordelik vir die versiering in verskeie Kaapse geboue. In 1805 word die eerste kunsskool in Suid-Afrika deur hom gestig. Hy is op 8 Maart 1822 in sy huis in Bloemstraat, Kaapstad, oorlede.
1926 – Ds. Daniël Jozua Pienaar, leier in die NG Kerk en onderwysman (* 19 Desember 1853)
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.