JOACHIM VAN PLETTENBERG (1739-1793)
Joachim van Plettenberg was die goewerneur van die Kaap van 1771 tot 1785.
Hy is op 8 Maart 1739 in Leeuwarden, Nederland, gebore en het uit ’n aristokratiese familie gekom. Sy pa was ’n kolonel in die sterk Oranje-garnisoen wat in Leeuwarden onderhou is. Nadat hy sy skoolloopbaan voltooi het, het hy sy graad in die regte verwerf en hy is tot State-Generaal verkies. Sy eerste amptelike pos was in Batavia waar hy regsondervinding opgedoen het junior regsoffisier en as adjunk-fiskaal. In 1767 is hy as die eerste onafhanklike fiskaal in Kaapstad aangestel.
Van 1771 af was hy waarnemende goewerneur nadat Ryk Tulbagh oorlede is; in 1774 is hy permanent aangestel. Tydens sy ampstermyn het hy ’n reis van drie maande onderneem, waartydens hy al 47 buiteposte in die Kaapkolonie besoek het. Tydens hierdie reis kom hy op 5 November 1778 aan by die plek wat hy Plettenbergbaai genoem het, en die volgende dag het hy die historiese bakenklip van die VOC, wat as die Van Plettenberg-baken bekendgestaan het, opgerig.
Die grensbepalings wat Tulbagh en sy voorgangers gemaak het, kon weens die gebrek aan beheer oor die lang afstande nie gehandhaaf word nie. Die veeboere het steeds verder ooswaarts getrek op soek na beter weiveld. Reeds in 1772 het die bestuur van die Kaap die regulasies van die VOC verontagsaam en leenplase aan die oostekant van die Gamtoosrivier, wat die oostelike grens was, uitgereik. Die optrede was die gevolg van ’n droogte wat die boere gedwing het om te verskuif. In 1775 het die Politieke Raad die Boesmans- en Visrivier as die oosgrens vasgestel. Ten einde die binneland en die boere beter te leer ken, het Van Plettenberg in September 1778 op ’n reis na die grensdistrikte vertrek. Tydens hierdie reise het hy die grense van die Kaap opnuut bepaal. Met die hulp van kaptein Robert Gordon, wat goed Xhosa kon praat, het Van Plettenberg ’n paar van die Xhosa-kapteins ontmoet en met hulle ooreengekom dat die Visrivier as die oosgrens beskou moes word. Die kapteins het onderneem om na die oostekant van die Visrivier terug te trek sodra hulle hul oes ingesamel het. Van Plettenberg en Gordon het egter nie besef dat hulle met ondergeskikte kapteins onderhandel het nie en dat hierdie kapteins nie bevoeg was om ooreenkomste namens die Xhosa-volk aan te gaan nie. Die Xhosas het steeds in groot getalle duskant die Visrivier gewoon en die gespanne betrekkinge tussen hulle en die boere het breekpunt bereik toe die eerste grensoorlog uitgebreek het. Die oorlog het tot 1781 geduur.
Die bestuur aan die Kaap, waarin die vryburgers byna geen seggenskap gehad het nie, het dwarsdeur die VOC se hele bewindstydperk baie dieselfde gebly. Die vryburgers se inisiatief is ook op ekonomiese en handelsgebied aan bande gelê deur die merkantilistiese beleid waarvan die VOC nooit afgewyk het nie. Die Kaap is beskou as ’n besitting waaruit maksimale wins gehaal moes word. Die burger is verbied om buite die Kaap handel te dryf, en moes met die Kaap as enigste afsetgebied tevrede wees. Produkte kon slegs in- en uitgevoer word met die VOC as tussenganger. Die monopoliestelsel het gemaak dat toestande dieselfde was as in die tyd van Willem Adriaan van der Stel. Amptenare en afgetrede amptenare het hulself ten koste van die vryburgers verryk; hulle het hul bevoorregte posisies misbruik om vir hulself ’n voorkeurhandel op te bou, dikwels ten koste van die VOC se belange en hulle het die Kaapse samelewing ook op maatskaplike en kulturele gebied oorheers.
Om ekonomiese omstandighede aan die Kaap te verander, was dit vir die burgers nodig om groter politieke regte te verkry. Hul strewe na ’n meer demokratiese bestuursvorm is gestimuleer deur die rewolusionêre denkbeelde van die skrywers van die Verligting, onder meer Jean-Jacques Rousseau en Charles Montesquieu, asook die Noord-Amerikaanse kolonies wat ’n lang stryd met Brittanje aangeknoop het en op die ou einde in 1776 oorlog teen die moederland gemaak het.
Naamlose geskrifte, wat daarop gemik is om ’n politieke bewussyn onder die Kaapse burgers te kweek, was reeds in 1778 in omloop. Die burgers wat hulle vir groter politieke regte beywer het hulself die Kaapse Patriotte genoem, na aanleiding van die Patriotparty in Nederland, wat teen prins Willem V se Britsgesinde Oranjeparty gekant was en ’n bondgenootskap met Frankryk voorgestaan het. In Mei 1779 het die Kaapse Patriotte, wat bestaan het uit Jacobus van Reenen, Nicolaas Heyns en Tieleman Roos ’n versoekskrif na Nederland gestuur. Die versoekskrif, wat deur 404 burgers onderteken is, is in Oktober 1779 aan die Here XVII voorgelê en het uit vier dele bestaan; die moeilike omstandighede van die burgers, met die klem op die beperkte mark, lae pryse en onregverdige mededinging, die wanpraktyke van die amptenare, die politieke eise van die burgers en laastens ekonomiese versoeke. Hulle het ook versoek dat amptenare wat uit die VOC tree, verplig moet word om hulle na ses weke as ’n vryburger te registreer en die pligte van ’n vryburger te aanvaar. Die Here XVII het gesloer met hul reaksie op die versoekskrif en Van Plettenberg het sy bedanking as goewerneur ingedien. Weens die uitbreek van die Vierde seeoorlog teen Brittanje in 1780 is hy egter versoek om aan te bly. In sy skriftelike reaksie op die Kaapse Patriotte se besware het hy beweer dat die burgers tevrede was met hul omstandighede en daarop gewys dat die Kaap nie besig was om te kwyn soos hulle beweer het nie.
Van Plettenberg het wel op 14 Februarie 1785 die amp as goewerneur neergelê en is deur Cornelis Jacob van de Graaff opgevolg. Hy is op 18 Augustus 1793 in die ouderdom van 54 jaar oorlede.
deur Daantjie Badenhorst