ABRAHAM H DE VRIES (1937-2024)

Abraham H de Vries was ’n Afrikaanse skrywer wat veral bekendheid vir kortverhale verwerf het.

Abraham Hermanus de Vries is op 9 Februarie 1937 op Winkelplaas in die huis Volmoed naby Ladismith in die Wes-Kaap gebore en het ’n suster met die naam van Hester gehad. Sy ma is met sy bevalling oorlede; gevolglik het hy vir die eerste nege maande van sy lewe op die buurplaas Voorbaat by sy oupa Wynand en sy ouma Hannie gebly. Sy pa is later getroud met ’n jonger suster van sy ma wat dieselfde naam as sy suster gehad het en hy het teruggekeer na Winkelplaas, waar sy pa die laaste winkelier van die plaas was.

Hy het sy skoolloopbaan by die plaasskool op Buffelsdrif begin en in 1950 het hy ’n leerder van die Hoërskool Ladismith, waar hy in 1954 gematrikuleer het, geword. Hy het van 1955 tot 1968 aan die Universiteit van Stellenbosch (US) gestudeer en in daardie tyd het hy sommige naweke by WA de Klerk en sy vrou op die plaas Saffier in die Klein-Drakenstein naby Paarl deurgebring. Hy het in 1957 en 1958 onderskeidelik sy BA- en BA Honneursgrade verwerf. In hierdie tyd was hy die redakteur van die studentetydskrif Prisma en Hennie Aucamp, RK Belcher en Wilhelm Knobel was onder sy studentemaats.

Nadat hy sy studie aan die US voltooi het, het hy by die Provinsiale Biblioteek in Kaapstad gewerk, waar hy die hoof van Afrikaanse boekaankope en die redakteur van Die Kaapse Bibliotekaris was. Hy het in 1961 na Amsterdam in Nederland vertrek; aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam gaan studeer en op 5 Desember 1962 sy doktoraal in Afrikaanse Taal-en-Letterkunde, met Nederlands en Perswetenskap as hoofvakke afgelê. Hierna is hy ’n senior assistentskap in Perswetenskap (Kommunikasiekunde) by dieselfde universiteit aangebied, maar hy het dié van die hand gewys. Hy het eerder ’n uitgebreide reis deur Europa onderneem en onder meer Griekeland en Israel besoek voordat hy teen die einde van 1963 na Suid-Afrika teruggekeer het. In 1964 is hy met Ria van der Merwe getroud. Twee kinders, Anneke en Andries, is uit die huwelik gebore, maar in 1969 is hulle geskei.

Hy is in 1963 by Die Vaderland in Johannesburg aangestel; terselfdertyd het hy op die redaksie van Die Sestiger gedien en hom in Hillbrow gevestig. Toe daar van hom verwag is om negatief te reageer op die aanstelling van Jan Rabie as lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, het hy in 1965 uit hierdie pos bedank. Daarna het hy en sy eerste vrou ’n jaar en ’n half lank in die buiteland gereis en lande soos Nederland, Griekeland, Duitsland, Oostenryk, Joego-Slawië en Spanje besoek. Met sy terugkoms in 1967 het hy ’n pos as tydelike dosent in taalkunde aan die Universiteit van Port Elizabeth aanvaar en in 1968 was hy ’n tydelike dosent aan die Rhodes-universiteit in Grahamstad terwyl André P Brink in Parys gewoon het. Vanaf 1969 was hy ’n lektor verbonde aan die Universiteit van Natal in Pietermaritzburg en vanaf 1970 ’n senior lektor aan die Universiteit van Natal in Durban. Hier is hy met sy tweede vrou, Hannie Pienaar, getroud. Sy was ’n onderwyseres van Durban wat ook ’n radio-omroepster was en onder meer die kinderprogram Siembamba op die Afrikaanse radiodiens van die SAUK aangebied het. Drie kinders is uit die huwelik gebore. In hierdie tyd het hy die plaas Volmoed in die distrik waar hy grootgeword het, gekoop en dikwels daarheen gegaan om in stilte te skryf. In die 1970’s was hy ’n stigterslid van die Afrikaanse Skrywersgilde.

In 1975 het hy ’n lang sabbatsreis na Noorweë onderneem; in Februarie daardie jaar het hy ’n reeks lesings in Nederlands aan die Germaanse Instituut van die Ryksuniversiteit in Olso gegee. In hierdie tyd het hy saam met die Turkse skrywer Yasar Kemal ’n lesing voor die PEN Club International gegee. In Maart 1984 het hy ’n pos as departementshoof van Tale en Kommunikasie by die Skiereilandse Technikon in Kaapstad aanvaar en hierdie pos tot met sy aftrede in 1997 beklee. In Oktober 1985 het hy die Afdeling Joernalistiek gestig en in 1991 het dit ’n volwaardige departement geword. Intussen het hy deeltyds verder gestudeer en in 1986 die DLit-graad aan US behaal met ’n tesis oor “Tendense in die Afrikaanse Kortverhaal 1967-1984”, onder promotorskap van Merwe Scholtz. In dieselfde jaar is hy gekies as voorsitter van die Afrikaanse Skrywersgilde; ’n amp wat hy twee termyne lank beklee het. Saam met Patrick Petersen was hy in 1996 instrumenteel in die stigting van die Afrikaanse Skrywersvereniging (ASV); hy het leiding geneem in die skryf van die vereniging se grondwet en was ’n termyn lank voorsitter daarvan.

Hy was betrokke by die vervaardiging van verskeie televisieprogramme, onder meer videoportrette van die digters Adam Small en Hendrik Januarie. In 1992 het hy die regie, teks en vervaardiging van die dokumentêre program Afrikaans en Nederlands na apartheid behartig. In 1996 het hy ’n reeks lesings aan die Universiteit van Amsterdam aangebied en vanaf 1997 het hy as buitengewone hoogleraar deeltyds lesings aan die Universiteit van Kaapstad gegee terwyl hy voltyds geskryf het. In 2000 het hy die openingslesing by die Universiteit van Leipzig se Europese Werksessie oor Afrikaans, getiteld “Afrikaans Extra Muros”, gelewer en in 2002 was hy weer in die buiteland vir ’n reeks lesings in Nederland, Pole en Duitsland.

Hy het, veral as kortverhaalskrywer, ’n enorme bydrae tot Afrikaanse letterkunde gelewer en sy eerste verhale, “Die spioene” en “Bert die jagter”, het in 1953 in Die Huisgenoot verskyn toe hy net sestien jaar oud was. Sy debuutbundel was getiteld Hoog teen die heuningkrans, wat in 1957 verskyn het. Die verhale het hoofsaaklik in die Klein Karoo afgespeel en PG du Plessis het die verhaal “Die rooi vaas” in die bundel Halfeeu, wat in 1966 ter viering van Die Huisgenoot se vyftigste verjaardag uitgereik is, ingesluit. Hy het verskeie kortverhaalbundels, te veel om op te noem, van 1958 tot 2013 vrygestel terwyl sy kortverhale en sketse ook in verskeie versamelbundels opgeneem is. Sy werk is ook in letterkundige tydskrifte soos Standpunte, Sestiger en Kol ingesluit, terwyl vertaalde weergawes van sy werk in versamelalbums opgeneem is. Die enigste novelle wat uit sy pen verskyn het, was Kruispad; die dagboekverhaal van ’n getroude plattelandse predikant wat ’n verhouding aanknoop met ’n swanger, ongetroude vrou. Verder het hy ’n aantal reisverhale geskryf, onder meer “Die rustelose sjalom”; ’n verslag oor ’n reis in Israel. Hy het spanningsverhale soos “Die swart sirkel”, “Mense agter glas” en “Alibi van ’n verdagte”, onder die skuilnaam Thys van der Vyver geskryf.

Hy was die samesteller van versamelbundels soos Kort Keur, Die Afrikaanse kortverhaalboek (die prosa-ekwivalent van Groot Verseboek), Eeu (honderd jaar van Afrikaanse kortverhale), Steekbaard (Afrikaanse hondestories) en lagstories onder die titel Alles goed en wel. In die 1950’s het gedigte van hom in Rooi Rose verskyn; gevolg deur die digbundel Proegoed in 1959.

In 1997 het sy tuisdorp, Ladismith, ereburgerskap aan hom toegeken; hy was die eerste persoon wat só vereer is in erkenning van die manier waarop hy die dorp en sy mense in sy skryfwerk aan die breë publiek bekendgestel het. In 2009 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hom met ’n eeufeesmedalje vereer vir sy baanbrekerswerk in die kunste en in Oktober 2013 het die ATKV by ’n geleentheid wat op Ladismith aangebied is, ’n oorkonde aan hom oorhandig vir sy bevordering van Afrikaans. Die FAK het in 2017 die NP van Wyk Louw-toekenning vir die bevordering van Afrikaanse taal en kultuur aan hom gegee.

De Vries het die ware verhaal van Stanley de Wit en sy pa se rit deur die Huisrivierpas toe hulle van Ladismith na Calitzdorp toe gery het om ’n koei te gaan koop, in sy kortverhaal “Die koei en die tand”, verewig. Dit het die Afrikaanse sanger en liedjieskrywer David Kramer, wat ’n vriend van hom was, geïnspireer om die liedjie “Stanley en die koei”, wat hierdie verhaal vertel, te skryf.

Hy is op 23 Augustus 2024 in die ouderdom van 87 jaar oorlede.

Daantjie Badenhorst