Laurika Rauch kondig uittrede aan
Een van die legendes van Afrikaanse musiek het pas haar uittrede na ’n loopbaan van net meer as 45 jaar aangekondig.
Laurika Rauch het byna onmiddellik onsterflike roem verwerf toe sy Koos du Plessis se komposisie “Kinders van die wind” as temaliedjie vir die televisiereeks Phoenix en Kie gesing het en sedertdien het sy een van die ware legendes van die Afrikaanse musiekbedryf geword.
Sy is op 1 November 1950 in Kaapstad gebore en op skool was sy deel van die Kindersangkring, ’n kinderkoor van Pinelands onder leiding van oom Hannes Uys. Oom Hannes was die pa van die internasionale konsertpianis Tessa Uys en die bekende akteur en satirikus Pieter-Dirk Uys. Sy het aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad gematrikuleer en in 1972 haar dramagraad aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf.
In 1974 het sy na Gauteng verhuis en in 1977 en 1978 was sy ’n Afrikaansonderwyseres aan die Hoërskool Riverlea in Johannesburg. In 1979 was Katinka Heyns besig met die televisiereeks Phoenix en Kie, waarvoor haar man, Chris Barnard, die draaiboek geskryf het. Jana Cilliers het die rol van ’n nagklubsangeres vertolk maar Katinka was op soek na iemand wie se sangstem vir Jana se karakter oorgeklank kon word. Jana het vir Laurika, ’n vriendin van haar, voorgestel. Altesaam vyf liedjies is vir die klankbaan opgeneem, met “Kinders van die wind” as temaliedjie. Hierdie liedjie het onmiddellik ’n treffer geword. Op Vrydag 14 September 1979 het dit tot Springbok Radio se Top 20 toegetree, die derde plek gehaal en dertien weke lank op die treffersparade gebly.
Haar eerste langspeelplaat, Debuut, het kort daarna verskyn. Benewens “Kinders van die wind” het sy snitte soos Anton Goosen se komposisies “Aai aai”, “Waterblommetjies”, “Vergeet om my te vergeet” en “Straattroebadoere” asook toonsettings van “Toemaar die donker man” van Ingrid Jonker en “Met transistor innie hand” van Boerneef. Sy het nog een van Anton Goosen se komposisies, “Mpanzaville”, gesing op die televisieprogram Kraaines, wat Carike Keuzenkamp aangebied het.
In 1980 het haar tweede album, ’n Jaar in my lewe, verskyn. Sy het kort tevore met Jacques Brel se musiek kennis gemaak en ’n Afrikaanse weergawe van sy komposisie “Ne me quitte pas”, onder die titel “Moenie weggaan nie”, ingesluit. Fanus Rautenbach het die Afrikaanse woorde geskryf. Laurika het later in haar loopbaan ’n album vrygestel waarop sy Brel se musiek gesing het. Een van die mees omstrede snitte op die album was “Moenie dat die kinders dit hoor nie”, uit die rolprent April 1980. Seker die grootste treffer vanaf die album was “Neanderdalman”, nog ’n komposisie van Anton Goosen.
Op haar derde album, Vir jou, het sy Koos du Plessis se komposisie “Ek maak net soos ek wil” ingesluit. Een groot verrassing was egter David Kramer se komposisie “Alleen”. Baie mense het David op daardie stadium as ’n grapjas beskou, maar met hierdie liedjie het hy gewys dat hy ook dieper liedjies kan skryf.
In 1983 het haar loopbaan ’n nuwe wending geneem. Kupido het in daardie jaar bekendheid verwerf vir sy treffer “Was ek maar ’n digter”, wat hom as sanger en liedjieskrywer gevestig het. Hy het die liedjies op haar album Jy is te dierbaar geskryf. Die titelsnit was seker die grootste treffer, maar onder die ander treffers op die album was “Lied van die natuur”, “Om en om draai die wiele” en “Ou swart kitaar”.
Sy is in 1984 getroud met Chris Torr. Hy het in dieselfde jaar ’n liedjie oor die veroordeelde bankrower André Stander geskryf, maar dit is nooit opgeneem nie. Toe iemand vir Laurika ’n opname van die Oostenrykse sanger Udo Jürgens gestuur het vir moontlike gebruik vir vertalings, het sy aanvanklik nie belanggestel nie, want sy het geglo dat oorspronklike musiek voorkeur moes kry. Op die ou einde het Chris wel Afrikaanse woorde vir een daarvan geskryf; dit het “Op Blouberg se strand” geword. Toe haar eerste album in vier jaar, Encore Laurika, in 1987 uitgereik is, was dit die groot treffer. Laurika se agterkleinniggie, Laurinda Hofmeyr, het twee gedigte vir die album getoonset, naamlik “Jakarandas bloei” en “Ek het ’n huisie by die see”. Christa Steyn se komposisie “Ek wil vir jou”, was nog ’n groot treffer vanaf die album, asook ’n snit waarvoor Chris die woorde en musiek geskryf het, “Die ballade van Jakob F. de Beer”.
Een van haar heel grootste treffers was die titelsnit van haar album wat in 1990 verskyn het. Chris het “Stuur groete aan Mannetjies Roux”, waarvan twee weergawes op die album ingesluit is, geskryf na aanleiding van ’n drie wat die voormalige Springbok-senter Mannetjies Roux in 1962 teen die Britse Leeus gedruk het. Dit het dadelik groot byval by die publiek gevind en seker haar grootste treffer geword. Benewens die Afrikaanse treffers soos “Kyk hoe glinster die maan”, “Blou” en “Die nostalgie” het sy Joan Armatrading se komposisie “Dry land” ook by hierdie album ingesluit.
Natuurlik is dit onmoontlik om elke album sedertdien in detail te bespreek, maar een album wat haar aan ’n groter gehoor blootgestel het, was Hot gates, wat sy in 1995 vrygestel het. Chris het die idee gekry om ’n liedjie met die name van ’n klomp stede te skryf, en in hierdie snit het die name van stede waar oorloë en rampe voorgekom het, hoofsaaklik voorgekom. Hierdie liedjie het die kol getref; nog ’n hoogtepunt was ’n splinternuwe verwerking van “Kinders van die wind”, met ’n Afrika-aanslag. “Thoughts of a child” was nog ’n hoogtepunt, asook “1963”, wat oor die moord op die voormalige Amerikaanse president John F. Kennedy gegaan het. Daarby het sy “Mijn vlakke land/My open land”, ’n komposisie van Jacques Brel, in Engels en Nederlands gesing.
Haar album 19 treffers van 21 jaar was een van daardie albums wat elke liefhebber van Afrikaanse musiek in sy of haar versameling móés hê. Dit het lank geduur om platinumstatus te behaal, maar op die ou einde het dit gebeur. “Die mense op die bus” was die temaliedjie uit die televisiereeks Iemand om lief te hê; dit was haar derde televisie-temaliedjie en het gevolg op “Kinders van die wind” en “Stille waters”, uit die reeks Onder draai die duiwel rond. Die nuwe trefferalbum, wat in 2004 vrygestel is, het nie net haar treffers sedert 1999 bevat nie, maar ook snitte wat met die vorige versamelalbum oor die hoof gesien is. Die een splinternuwe snit was “Dis die storie van my hart”, ’n komposisie van Etienne Steyn. Sy het later nog een van sy komposisies, “As ek eendag oud is”, opgeneem. Nog ’n versameling van haar musiek wat op CD uitgereik is, was Chris se trefferliedjies, wat al die treffers wat haar man vir haar geskryf het, bevat het.
Laurika het in die televisieproduksies Fyn net van die woord en Musiek en Liriek opgetree. Sy was ook die verteller van die dokumentêre program Kom laat ons sing, wat die geskiedenis van Afrikaanse musiek van die beginjare tot 2002 vertel het.
Teen die einde van 2024 het Laurika aangekondig dat sy van plan is om uit te tree en ’n spesiale dokumentêre program oor haar loopbaan en lewe, Laurika se tuiskoms, is op Saterdag 25 Januarie 2025 op kykNET uitgesaai net voor die uitreiking van haar laaste mini-album, Huis, wat teen einde Januarie vrygestel word.
Daantjie Badenhorst