KRISTO PIENAAR (1922-1996)

Prof. Kristo Pienaar was ’n bekende plantkundige, skrywer, akteur en televisieaanbieder.

Kristo Johannes Pienaar is op 4 Julie 1922 op Bokfontein naby Rustenburg gebore en hy was altyd gesteld daarop dat sy naam met ’n K gespel moes word. Hy het teen die hange van die Magaliesberge grootgeword en sy skoolloopbaan op vierjarige ouderdom begin toe hy stilletjies onder sy ma se lessenaar gesit het terwyl sy skoolgehou het. Hy het ’n paar grade oorgeslaan en het reeds op sestienjarige ouderdom aan die Hoër Volkskool Heidelberg gematrikuleer. Hy het ’n MSc in botanie aan die Universiteit van Pretoria behaal, gevolg deur ’n PhD aan die Universiteit Stellenbosch. Van 1944 tot 1960 was hy ’n onderwyser aan die Hoërskool Monument in Krugersdorp en in 1962 het hy by die Departement Botanie aan die Universiteit Kaapstad aangesluit. Hy was eers ’n senior lektor en het later departementshoof geword.

Op 15 Desember 1945 is hy in die NG Kerk Pretoria-Oos met Christina Wilhelmina van Rooyen getroud en vier dogters is uit die huwelik gebore. Hy was lid van die eerste Noord-Transvaalse rugbyspan wat die Curriebeker gewen het toe hulle die eindstryd met 11-9 teen die Westelike Provinsie gewen het. Hy het die span daarna jare lank ondersteun maar nadat hy na die Wes-Kaap verhuis het, het hy Westelike Provinsie ondersteun. Die legendariese aktrise prof. Anna Neethling-Pohl was ’n vriendin van hom, maar omdat sy al die jare ’n Blou Bul-ondersteuner was, het sy jare lank nie met hom gepraat nie. Hy was lief vir Wilde Weste-rolprente en het nooit ’n episode van die televisiereekse Dallas of Haas Das se nuuskas misgeloop nie.

Hy was ’n akteur in verskeie rolprente; in Dis lekker om te lewe en Fratse in die vloot, met Al Debbo en Frederik Burgers in die hoofrolle, het hy die rolle van onderskeidelik ’n dokter en ’n diamantdief vertolk. Hy het egter in Met liefde van Adele die rol van die skoolhoof vertolk en sy veelsydigheid as akteur in hierdie rolprent ten toon gestel. In P.G. du Plessis se komedierolprent ’n Seder val in Waterkloof het hy die rol van prof. Vredenburg vertolk en in Broer Matie, wat in 1984 vrygestel is en waarvan Jans Rautenbach die regisseur was, was hy een van die Broederbonders. Later was hy ’n aanbieder van die televisieprogramme Veldfokus en 50/50.

Daarby was hy op ’n stadium ’n omroeper by die Kaapse streeksradiostasie Radio Goeie Hoop, en nadat prof. Chris Barnard sy hartoorplanting op 3 Desember 1967 in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad uitgevoer het, was hy die eerste persoon wat ’n onderhoud met prof. Barnard gevoer het. Later was hy die aanbieder van die program Goue gedagtes op Springbok Radio; die inhoud daarvan is later in boekvorm uitgegee. Nadat hy ’n oupa geword het, het hy ’n storie vir die kinderprogram Siembamba op die Afrikaanse radiodiens van die SAUK geskryf en self vir die jong luisteraars voorgelees.

Hy het meer as dertig boeke, hoofsaaklik oor tuinbou geskryf, onder meer Plant inheems, Grondbeginsels van tuinmaak: maand vir maand, A tot Z van tuinblomme en Die Suid-Afrikaanse Watter blom is dit? In daardie tyd het hy op die raad van die Nasionale Botaniese Tuine gedien, en hy was lid van die destydse Wes-Kaapse Streeksraad vir Kulturele Sake. Hy was leierouderling van die NG gemeente waarvan hy lidmaat was en hy was van tyd tot tyd betrokke by die Hartstigting van Suid-Afrika.

Hy was ’n gesinsman en hy het geglo dat jy eers jou eie land moes verken voordat jy die buiteland besoek. Hy en sy gesin het die land plat gereis en hy was veral lief vir die Nasionale Krugerwildtuin. In ’n tyd toe min mense gevlieg het, het hy sy dogters op Saterdae geneem om dit te ervaar; eers in ’n ligte vliegtuig en later in ’n Dakota. Volgens ’n medebotanis het hy ’n aansteeklike geesdrif gehad en om sy kennis te deel, was vir hom ’n passie. As ’n mens hom ontmoet het, het dié persoon gesê, het dit gevoel asof ’n mens met ’n verslaggewer gepraat het; ’n persoon wat daarop gefokus het om inligting te versprei.

Hy was van 1981 tot 1983 en weer van 1987 tot 1989 die burgemeester van Bellville. Die gebruik was destyds om strate na voormalige burgemeesters te vernoem, maar prof. Pienaar het gevra dat die omgewingsopleidingsentrum by die Tygerberg-natuurreservaat eerder sy naam moes dra. Ter ere van sy nalatenskap beskik die Tygerberg-omgewing oor ’n buitenshuise lesinglokaal waar kinders en hul ouers van die natuur kan leer. Op hierdie manier kan hulle op ’n gepaste manier hulde bring aan ’n man wat sy lewe daaraan gewy het om mense oor die natuur en die omgewing op te voed.

In 1987 het die Universiteit van Pretoria ’n Laureus-toekenning aan hom oorhandig; dit is die hoogste toekenning vir ’n oudstudent van dié universiteit. In 1989, toe hy burgemeester was, het Bellville die Vryheid van die Stad aan hom toegeken en hy was Die Burger se “Inwoner van die Jaar”. Die Suid-Afrikaanse Polisie het hom in 1992 ’n erekolonel gemaak

Hy is op 6 April 1996 in die ouderdom van 73 jaar aan prostaatkanker oorlede. Hy is oorleef deur sy vrou, sy dogters, nege kleinkinders en vier agterkleinkinders. Die grafskrif op sy grafsteen is Psalm 16 vers 16: “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval; ja, my erfenis is vir my mooi.”

Daantjie Badenhorst