SIAS REINECKE (1940-1982)

Sias Reinecke was een helfte van die sangpaar Groep Twee en het later ’n sololoopbaan gevolg.

Hy is op 23 April 1940 in Johannesburg gebore en het aan die Hoërskool Fakkel gematrikuleer. Hy het in 1959 by die SAUK in Johannesburg begin werk en in 1960 begin om musiek te maak. Hy het van jongs af geleer om kitaar, mondfluitjie en trekklavier te speel en het die trekklavier gespeel in ’n boereorkes wat hy op die been gebring het.

In 1962 het hy bevriend geraak met Gert van Tonder, wat toe nog aan die SAUK in Durban verbonde was. Toe Gert die volgende jaar van Durban af na Johannesburg verplaas is, het hulle saam musiek begin maak. Hulle het besef dat hulle baie goed saam geharmonieer en besluit om ’n sangpaar te word. Hulle het aanvanklik die naam Folk Two gekies, maar aangesien daar ’n weerstand teen folk-musiek was, veral as gevolg van die politieke boodskappe waarteen die owerhede baie sterk beswaar gemaak het, het Lance James voorgestel dat hulle dit na Groep Twee verander. Mike Heine van Springbok Radio het hulle ontdek toe hulle opgetree het tydens ’n konsert waarvan hy die seremoniemeester was. Nadat een platemaatskappy hulle laat weet het dat hulle nie belangstel nie omdat hulle glo nie aan hul vereistes voldoen het nie, het Mike hulle na Louis Combrink en Anton de Waal gestuur vir ’n oudisie. Die radio-omroeper Nic Swanepoel het ’n bandopname van “Die oukraalliedjie” op die radioprogram Ateljee 66 gespeel nog voordat dit op plaat vrygestel is. Die aanvraag was so groot dat dit op ’n kortspeler, met “Die padda wou gaan opsit” op die keersy, uitgereik is. Op 10 Maart 1967 het “Die oukraalliedjie” in die dertiende plek tot Springbok Radio se Top 20 toegetree. Dit was die hoogste posisie waarin ’n Afrikaanse liedjie toegetree het en hierdie rekord is nooit geëwenaar of verbeter nie. Op die ou einde het dit die derde plek gehaal en altesaam vyftien weke lank op die treffersparade gebly. Nogtans wonder ’n mens hoe “Die padda wou gaan opsit” sou gevaar het as dit op ’n afsonderlike kortspeler uitgereik wou wees. Hul gelyknamige debuutalbum het nie net hierdie twee treffers opgelewer nie, maar ook FAK-liedjies soos “Liewe maan”, “Vaarwel my eie soetelief” en “Rokkies wou sy dra”, asook hul opname van Anton de Waal se komposisie “Ruiter in die nag”.

Die volgende jaar het hulle ’n Midem-toekenning in Frankryk ontvang en saam met die orkes van die bekende Frank Pourcel opgetree. Hulle het hul eie komposisie, “Little go go girl”, saam met Pourcel en sy orkes opgeneem. In dieselfde jaar was hulle saam met Franz Marx en Min Shaw te sien in die rolprent Jy is my liefling. Twee albums het in daardie jaar verskyn, naamlik Op silwer vleuels met Groep Twee, met treffers soos “My hart verlang na die Boland”, “Pollenys” en “Groen is die land van Natal”, asook Die beste deur Groep Twee, wat hul bestaande treffers, asook nuwe snitte soos “Hondjies is hondjies”, “Groen koringlande”, “Mangwane mpulele” en “Kokkewiete” bevat het.

In 1969 het hul paaie tydelik geskei nadat hulle in die voorprogram van die Günther Kallmann-koor se toer deur Suid-Afrika opgetree het. Sias het bevriend geraak met twee lede van die koor, en hulle het die sanggroep The Treble Aires gestig. Nadat hierdie groep ontbind het en Gert se nuwe sangmaat, Eddie Trautmann, in ’n motorongeluk oorlede is, het Albie Venter van die platemaatskappy Brigadiers daarop aangedring dat Gert en Sias weer saam begin sing. Hein Toerien het die Afrikaanse woorde vir ’n melodie van Udo Jürgens geskryf, en die gevolg was “Daar’s niks soos ware liefde”. Lance James wou dit opneem, maar dit is eerder vir Groep Twee gegee. Dit het vrugte afgewerp toe hulle op 27 Augustus 1971 tot Springbok Radio se Top 20 toegetree het. Na vyf weke op die treffersparade het hulle die derde plek gehaal, en op die ou einde agttien weke op die Top 20 gebly. Dit was destyds ’n rekordgetal weke vir ’n Afrikaanse liedjie op die Top 20, en hierdie rekord is eers in 1983 deur die tema uit die televisiereeks Vyfster verbeter. Die album waarop hierdie treffer verskyn het, het die gepaste titel “Weer bymekaar” gehad, en het ook treffers soos “Linda”, “Reën”, “Kumbaya” en “Solank daar treine loop”, opgelewer. Hulle het selfs Creedence Clearwater Revival se treffer “Who’ll stop the rain?”, in Afrikaans onder die titel “Waar is jy heen?”, gesing. Nog ’n album wat in 1971 verskyn het, was Liefde en apies met Groep Twee, met treffers soos “Apie het sy stert verloor”, “Maanlig op die water”, “Al lê die berge nog so blou” en “Die boemelaar se droom”. Nog ’n versamelalbum eenvoudig getiteld Groep 2, het in dieselfde jaar verskyn, en het ook nuwe snitte soos “Ek is lief vir die wêreld”, “My sonskynmeisie” en “Oliekolonie” bevat.

Sias wou altyd ’n solokunstenaar word, en in 1972 is sy eerste soloalbum, Die seewind bring heimwee, vrygestel. Benewens die titelsnit was “My geskenk aan jou” en “Speel ’n liedjie van die see” groot treffers. Op 17 November 1972 het Groep Twee vir oulaas op Springbok Radio se Top 20 verskyn toe “Dink jy darem nog aan my?” in die 20ste plek toegetree het. Die volgende week het dit weer uitgesak. Dit was egter die titelsnit van hul suksesvolle album wat ook die treffers “In my liefdeslied”, “Net ’n droom” en “Vanaand” ingesluit het. Twee jaar later het hul album Laat my weet verskyn, en benewens die titelsnit was die een snit wat ’n baie sterk indruk gemaak het hul Afrikaanse weergawe van Mac Davis se treffer “Rock and roll (I gave you all the best years of my life)”. Gert het outobiografiese lirieke wat Groep 2 se hele verhaal vertel het, onder die titel Ons beste jare, geskryf.

Hoewel hulle in 1975 uitmekaar gegaan het, het hulle nog ’n paar opnames gemaak, soos “Haas Das se nuuskas”, waaroor Gert die woorde geskryf het. Hulle het ook in 1978 ’n Engelse album getiteld You’re my best friend, met snitte soos die titelsnit wat ’n treffer vir Don Williams was, “Sunday morning coming down” van Kris Kristoffersen, asook ’n Bee Gees-keurspel opgeneem. Hul laaste opname was “Pale toe”, wat hulle vir die Britse Leeus se toer deur Suid-Afrika in 1980 opgeneem het.

Intussen het Sias se tweede soloalbum, Klein Karoo, in 1977 verskyn, en die titelsnit, wat hy saam met André Viljoen geskryf het, was dadelik gewild. Die album het ook treffers soos “Suidersee”, “Die lewe sonder jou” en “My hart sing van liefde” opgelewer. In 1979 was hy deel van die televisieproduksie Musiek en Liriek, waartydens hy, Des Lindberg, Mynie Grové en Laurika Rauch nuwe Afrikaanse komposisies aan die publiek bekendgestel het. Sias het onder meer Anton Goosen se komposisies “Windliedjie”, “Die trein na Matjiesfontein” en “Katryn Katryntjie” in dié reeks gesing. In dieselfde jaar het hy met Joanna Field saamgespan vir die duetalbum Want ons is bymekaar. Benewens die titelsnit was “Waarom is maar net ’n woord”, “Tesame” en “Liefde is net ’n spel” treffers vanaf hierdie album.

Sias se volgende soloalbum was Ek en my kitaar, wat in 1980 vrygestel is. Onder die treffers op hierdie album was “’n Lang pad huis toe”, “Ons lag en ons sing en ons dans”, asook sy toonsetting van AG Visser se gedig “Waar Heidelberg hang aan die Suikerbosrand” op die wysie van die Percy French-komposisie “The mountains of Mourne”. Daar is egter ’n storie verbonde aan een kortspeler wat vanaf hierdie album vrygestel is. Sias was een aand Johan Stemmet se ateljeegas tydens die televisieprogram Platepraatjies. Die A-kant van die enkelsnit was “Jean-Marie”, want dit, het die platemaatskappy geglo, was die treffersnit. Nadat Johan met Sias gesels het, is dit gespeel, maar die plaat het vasgehaak. Toe speel hy die keersy, wat Sias se grootste treffer geword het. Gert van Tonder het Afrikaanse woorde vir The Oak Ridge Boys se treffer “Freckles” geskryf, en Sias het dit as “Sproetjies” opgeneem. Die publiek het soveel daarvan gehou dat die album heruitgereik is, met “Sproetjies” as titelsnit. Dit was ook die treffer van die jaar op Edwill van Aarde se program Afrikaanse treffers.

In 1982 het André Viljoen, Boet Pretorius en advokaat Retief van Rooyen, die sangeres Anneli van Rooyen se pa, die platemaatskappy Decibel gestig, en Sias was die eerste kunstenaar wat ’n kontrak onderteken het. Die eerste album wat Decibel uitgereik het, was Sias se album Meisie, wat die treffers “Parstyd in die Boland”, “Wie sal kom nagsê?”, “My langvlegselnooi”, “Herinnerings aan jou” en “Sing ’n lekker liedjie” opgelewer het. Toe Leon Schuster kort daarna sy debuutalbum opgeneem het, het hy en Sias saam “Die rugbyonthaal” geskryf, terwyl Leon rugbylirieke vir “Sproetjies” onder die titel “Voetjies” geskryf het. Niemand sou kon dink dat dit Sias se laaste bydrae tot Afrikaanse musiek sou wees nie.

Op Donderdag 7 Oktober 1982 het Sias ten bate van die Sproetjies-kleuterskool op Amersfoort in Mpumalanga opgetree. Hy het die volgende oggend ongesteld geraak en hy is in die hospitaal opgeneem. Hy is daardie middag in die ouderdom van 42 jaar aan hartversaking oorlede. Toe Rina Hugo die volgende jaar haar debuutalbum vrygestel het, het sy die snit “Sanger sing vir my” as huldeblyk aan Sias opgeneem. Twee albums wat sy treffers bevat het, Die lewe sonder jou en Op aanvraag, is later op CD uitgereik.

Daantjie Badenhorst