CHRISTA STEYN (1958-2012)
Christa Steyn was ’n bekende Suid-Afrikaanse liedjieskrywer en pianis.
Christina Maria Schutte is op 15 Junie 1958 in Krugersdorp gebore; haar pa, ds. Ben Schutte, was ’n NG-predikant. In 1962, toe sy vier jaar oud was, het sy haar kleuterskool se koor begelei terwyl hulle “Die oukraalliedjie” gesing het, maar haar ma het niks hiervan geweet nie.
Terwyl haar pa ’n predikant op Potchefstroom was, het sy musiek by die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) gestudeer en by prof. Pieter de Villiers klavierlesse geneem. Sy het aanvanklik met musiekteorie gesukkel maar eindelik haar eksamen met lof geslaag. In 1972 het sy die latere Afrikaanse sangeres Greta Jones, wat toe nog ’n kinderster was, by verskeie geleenthede begelei. Greta het later Christa se komposisie “Jy maak my seer” opgeneem.
Nadat sy in 1980 haar eerste liedjie geskryf het, het sy in 1982 die komposisie-afdeling van die ATKV se Crescendo-kompetisie gewen. Sy het dit weer in 1984 reggekry. In dieselfde jaar het Anneli van Rooyen ’n treffer gehad met Christa se komposisie “Eerste liefde”. In 1986 het Johannesburg sy eeufees gevier en Michael Grobbelaar, wat direkteur van die Johannesburgse Stadskouburg was, het haar en Jannie du Toit gevra om ’n program saam te stel om die geleentheid te herdenk. Die gevolg was Blik en snaar, wat die geskiedenis van Afrikaanse musiek op ’n vermaaklike manier vertel het. Haar eerste langspeelplaat, Aan die einde van die reënboog, het in dieselfde jaar verskyn; die titelsnit het ook ’n groot treffer vir Anneli van Rooyen geword. In daardie jaar het sy die land vol getoer saam met Bles Bridges en betrokke geraak by die ATKV se eerste werkswinkel vir liedjieskrywers. In 1987 het sy haar tweede langspeelplaat, Christa, vrygestel, waarop sy gesing en klavier gespeel het. Onder die snitte waarop sy gesing het, was “Hier’s my hand”, “Geel madeliefies”, “By jou voel ek veilig” en “Die ander jy”. Sy het haar humorsin ook ten toon gestel op “Dapper vrou”, gebaseer op “Die dapper muis” van Dawie Couzyn en Doris Brasch en “Diëte”. Onder die instrumentale snitte op die album was die tema uit die televisiereeks Sondaarspoort, “’n Bietjie Beethoven”, “Fuga” en “Vyf note”. Sy het later erken dat sy beter liedjies kon skryf as wat sy kon sing. Jannie du Toit se tweede album, Drie-uur in die môre, is in dieselfde jaar uitgereik en het Christa se komposisie “Ek wil vir jou” bevat. Kort daarna het Laurika Rauch dit op haar eerste album in vier jaar, Encore Laurika, ingesluit.
In 1988 het sy die musiekregisseur van Crescendo geword, asook van TRUK se Kerslig, vers en melodie, wat gereeld by die Staatsteater aangebied is. Sy en Jannie het weer begin saamwerk en gereeld tydens hierdie produksie saam opgetree. Haar volgende album, Spirit of Ecstasy, waarop sy saam met die nasionale simfonieorkes opgetree het, het in die volgende jaar verskyn en aan die einde van die jaar het sy en Jannie ’n oujaarskonsert in Taipei aangebied. Toe Marié du Toit in 1989 aan die televisiereeks Debuut deelgeneem het, het sy Christa se komposisie “Geel madeliefies” gesing en die kompetisie gewen. In 1990 het Jannie en Christa die produksie “Agter die horison” aangebied; Robert Long se liedjies “Achter de horizon” en “Vader op een fiets” het onder meer hierin voorgekom. Jannie du Toit se derde album, Palet, is in dieselfde jaar vrygestel en Jacques Brel se Nederlandse komposisie “Madeleine”, waarop Christa klavier gespeel het, is hierby ingesluit.
Marié du Toit het die program Skadu’s teen die muur in 1991 saam met Jannie en Christa aangebied, met Stephan Bouwer as samesteller en regisseur. Hierdie produksie is ook in Vlaandere en in Nederland aangebied. Christa was ook die komponis van “19 September”, die temaliedjie uit die rolprent Nag van die Negentiende, wat deur Suzette Eloff opgeneem is.
In 1994 het Christa nie net haar volgende album, Burlesque, opgeneem nie, maar die produksie De kleine man, met Nederlandse liedjies, saam met Jannie du Toit aangebied. Die volgende jaar was vol hoogtepunte; haar gewildste album, Christa Steyn speel die meesters, is uitgereik, en De kleine man en Skadu’s teen die muur is by die heel eerste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) aangebied.
Ronnie Robot, wat in die 1970’s lid van die Suid-Afrikaanse popgroep Rabbitt was, het Christa gevra om ’n Afrikaanse bydrae tot sy reeks Majors for minors, wat daarop gemik is om die breinontwikkeling van babas te bevorder, te lewer. Die gevolg was Strykers vir snuiters. Sy het dit opgevolg met Baroque for babies, wat in 1998 uitgereik is.
Ter herdenking van die ontstaan van die Musiek-en-Liriekbeweging in 1979 het Christa die program Musiek en repliek: Klas van ’79 by die KKNK van 1999, asook verskeie ander plekke aangebied. In 2001 het sy en Jannie ’n uitgebreide buitelandse toer onderneem, die Stichting Jules de Corte het hulle gevra om ’n program van liedjies van De Corte ter nagedagtenis aan hom in Eindhoven aan te bied. Later het hulle ook in ander dele van Nederland, in België en in Londen opgetree.
Die uiters suksesvolle produksie Jannie en die tannie, met Jannie as sanger en Christa as begeleier, het in 2005 sy debuut by die KKNK gemaak en na ongeveer vyftig optredes in Suid-Afrika het hulle Kanada en die Verenigde State van Amerika besoek. Christa se jarelange droom om ’n opnameateljee te besit, is in 2006 bewaarheid toe Studio of Note ontstaan het. Haar seun Douw het as klankingenieur opgetree en reeds verskeie jong en opkomende kunstenaars se musiek opgeneem.
In 2011 het Jannie sy musiekverhaal van veertig jaar met sy album en verhoogproduksie Onderweg vertel. PG du Plessis het die teks geskryf en Christa was verantwoordelik vir die musiekverwerkings. In dieselfde jaar is gevorderde bors- en-lewerkanker by haar gediagnoseer, kort nadat die ATKV haar en Jannie vir hul lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek vereer het.
Christa is op 11 Junie 2012, vier dae voordat sy 54 jaar oud sou word, oorlede. Sy is oorleef deur haar man, Douw Steyn, en twee kinders.
Daantjie Badenhorst
