WILLEM CRUYWAGEN (1921-2013)

Dr. Willem Cruywagen was ’n Suid-Afrikaanse politikus wat ook lid van verskeie kultuur- en erfenisorganisasies was.

Willem Adriaan Cruywagen is op 9 Maart 1921 op Ugie in die Oos-Kaap gebore en het aan die Hoërskool Elliot gematrikuleer. Hy het aan die Graaff-Reinetse Onderwyskollege gestudeer en nadat hy ’n paar jaar lank onderwys gegee het, het hy sy BA (Hons)-graad aan die Universiteit van Pretoria behaal. Hierna het hy navorsing oor oudpresident Paul Kruger gedoen met die oog op ’n meestersgraad maar sy toetrede tot die politiek het gemaak dat hy dit nie voltooi het nie. Hy is in 1961 tot parlementslid vir die kiesafdeling Germiston verkies.

Hy is in 1978 aangestel as minister van onderwys en opleiding en in hierdie tyd het hy ’n aandeel gehad in die vestiging van die Mediese Universiteit van Suid-Afrika (MEDUNSA). Hierna het hy vir ’n kort tydperk as minister van nasionale opvoeding gedien.

In 1979 is hy aangestel as administrateur van Transvaal, ’n posisie wat hy tot met sy aftrede op 31 Mei 1988 beklee het.

In 1986 het die Amerikaanse rolprentmaatskappy Columbia Pictures gedreig om Ster Kinekor te boikot omdat rolprentteaters nie vir alle rasse oopgestel is nie. In Januarie 1987 het die stadsraad van Pietersburg (vandag Polokwane), wat onder beheer van die Konserwatiewe Party was, aanbeveel dat die teater op die dorp steeds geskei moes word. Nieblanke mense moes deur ’n agterdeur ingaan en in ’n afsonderlike vertrek na die rolprente kyk. Die eienaar van die kompleks, Sydney Segal, het ’n petisie vir desegregasie opgestel en omtrent 1 000 mense het dit onderteken. Cruywagen het, in sy hoedanigheid as provinsiale administrateur, die besluit van die stadsraad verwerp en die oopstelling van die teater vir alle bevolkingsgroepe goedgekeur.

Hy was van 2009 af beskermheer van Die Voortrekkers en op 83-jarige ouderdom het hy ’n doktorsgraad in geskiedenis aan die Noordwes-Universiteit behaal.

Hy is op 10 Julie 2013 in die ouderdom van 92 jaar oorlede en is oorleef deur sy vrou Snow, asook twee seuns, vier kleinkinders en ’n agterkleinkind.

Daantjie Badenhorst