ANNIE BASSON (1938-2025)
Annie Basson was ’n Suid-Afrikaanse aktrise en rolprent- en televisieregisseur.
Sy is op 9 Oktober 1938 gebore en het op die plaas Klipvlei in die Morreesburg-distrik grootgeword. Sy het kleintyd al versies in die klas opgesê en kuns en musiek geneem. Daarby het sy ook ballet gedoen. Sy het haar opleiding aan die Akademie vir Dramakuns ontvang en sy was van 1971 tot 1973 ’n lid van die destydse Sukovs-werksteater. Sy, Annelize van der Ryst en Lerina Erasmus was die enigste vroue wat aan dié werksteater verbonde was. Daarna het sy na Johannesburg verhuis om opleiding as televisieregisseur te ontvang.
Sy het bekendheid verwerf vir haar spel as Zebrinetta in Molière se toneelstuk Die jakkalsstreke van Scapino, onder regie van Bartho Smit. In 1975 was sy as aktrise te sien in die rolprente Kniediep en Somer. Later was sy televisieregisseur van Die hartseerwals van Hennie Aucamp, Die sondaar van Pauline Smith en Uitdraai van Wilma Stockenström.
Die bekendste televisiereekse waarvan sy die regie behartig het, was Daisy de Melker, wat die lewensverhaal van dié veroordeelde moordenares vertel het, Death in the family, wat gesinsmoord as tema gehad het en Meester, wat in 1992 uitgesaai is. Neil Sandilands, wat later die rol van Bart in 7de Laan vertolk het, het sy debuut as akteur in hierdie reeks gemaak. Sy was getroud met Danie Odendaal, medevervaardiger van 7de Laan, wat in Oktober verlede jaar oorlede is.
Op 16 Maart 2025 is Annie by haar huis in Langebaan aan die Kaapse Weskus oorlede.
Daantjie Badenhorst