LEONORA VAN STADEN (1953-2024)
Die voormalige adjunkredakteur van Die Huisgenoot, Leonora van Staden, is op 30 April 2024 in die ouderdom van 71 jaar oorlede.
Volgens haar suster, Marida Swanepoel, was sy op pad na Nederland saam met ’n toergroep, maar sy het teruggekeer huis toe omdat sy sleg gevoel het. Sy is tien dae voor haar dood in die MediClinic in Durbanville in die Wes-Kaap opgeneem en is aan hartversaking dood.
Van Staden was onder meer die nuusredakteur van Huisgenoot en het saam met redakteurs soos Neil Hamman, Esmare Weideman, Willie Kühn en Julia Viljoen gewerk. Sy is beskou as ’n onmisbare skakel in die skep en insameling van artikels en volgens mederedaksielede het sy daarin geslaag om dramas rondom saktyd oënskynlik kalm deur te werk en te sorg dat materiaal betyds en persklaar afgelewer word. Daarby was sy ’n gewilde spanmaat wat lank ná haar aftrede steeds ’n vriendin gebly het. Sy was ook ’n senior subredakteur by publikasies soos Die Burger wat ’n mentor was vir verskeie jong joernaliste wat diep spore in Media 24 sou trap.
Henriëtte Loubser, hoofredakteur van Media 24 en voormalige redakteur van Huisgenoot, het haar beskryf as ’n streng maar regverdige nuusredakteur wat dinge laat gebeur het en geen nonsens geduld het nie.
Sy is beskryf as ’n agter-die-skerms-nuushond wat sentraal was in die publikasies waarvoor sy gewerk het. Volgens kollegas was haar beste stories dikwels ten koste van haarself; asof sy geen idee gehad het van hoe besonders sy was nie.
Die aktrise Annelisa Weiland het gesê dat Van Staden, ’n tannie van die oorlede aktrise Franci Swanepoel, ’n integrale deel van die Swanepoel-familie was en dat haar omgee, integriteit , onvoorwaardelike liefde en ondersteuning vir dié wat sy liefgehad het, gemis sal word.
Van Staden was ongetroud, en word oorleef deur haar susters, Francin en Marida, en haar broer, Sakkie.
Daantjie Badenhorst
