CHRIS HEUNIS (1927-2006)

Chris Heunis was ’n Suid-Afrikaanse politikus en waarnemende staatspresident.

Jan Christiaan Heunis is op 20 April 1927 op Uniondale in die Wes-Kaap gebore en het sy skoolloopbaan op George voltooi, waarna hy in die regte gestudeer het. Hy het in 1951 ’n prokureur geword.

Hy het terselfdertyd met sy politieke loopbaan begin en het die hoof van die Nasionale Party in die George-distrik en lid van die munisipale raad geword. In 1959 is hy tot die provinsiale raad verkies.

In 1970 is hy tot die Volksraad verkies en in 1974 het hy Minister van Indiërsake en Toerisme in adv. John Vorster se kabinet geword. In 1975 het hy Minister van Ekonomiese Sake geword. In 1979 het hy, as deel van P.W. Botha se kabinet, deelgeneem aan die opstel van ’n nuwe grondwet vir Suid-Afrika en in 1982 het hy Minister van Grondwetlike Hervorming geword. In hierdie rol het hy die Driekamerparlement voorgestel en stemreg vir Kleurlinge en Indiërs in afsonderlike kamers van die Parlement gevorm. Hy het eerwaarde Allan Hendrickse, die leier van die Arbeidersparty, oortuig om tot hierdie veranderinge in te stem.

Gedurende hierdie tydperk het hy aan vertroulike informele vergaderings in Port Elizabeth tussen twee NP-verteenwoordigers en twee verteenwoordigers van die ANC deelgeneem. In September 1986 is hy eenparig as leier van die Nasionale Party in die destydse Kaapprovinsie in die plek van die destydse staatspresident, P.W. Botha, verkies. In die verkiesing van 1987 het hy ’n nederlaag net-net vermy toe hy sy parlementêre setel met slegs 39 stemme teen die voormalige NP-parlementslid en diplomaat Dennis Worrell behou het.

Vroeg in 1989 het Botha ’n ligte beroerte gehad, en Heunis het in sy plek as staatspresident waargeneem. Nadat Botha herstel het, het hy sy uittrede uit die politiek aangekondig en daar was ’n leierstryd in die Nasionale Party. Sy teenstanders in die stryd om leierskap van die Nasionale Party was Pik Botha, Barend du Plessis en F.W. de Klerk. Heunis was P.W. Botha se eerste keuse as sy opvolger, maar in die tweede ronde van die stemproses is hy verslaan.

Heunis het nie aan die algemene verkiesing van 1989 deelgeneem nie en uit die politiek getree. Hy het na sy regspraktyk in Somerset-Wes saam met sy seun Jakkie teruggekeer. Hy het ’n eredoktorsgraad in filosofie aan die Universiteit van Stellenbosch ontvang en hy was ’n ere-luitenant-kolonel in die Suid-Afrikaanse Polisie. Hy het ereburgerskap van George en die Grand Cordon van die orde van die Republiek van China ontvang.

Hy is op 27 Januarie 2006 in die ouderdom van 78 jaar na ’n lang siekbed oorlede en is oorleef deur sy vrou, vier seuns en ’n dogter.

Daantjie Badenhorst