ADRIAAN VLOK (1937-2023)
Adriaan Vlok was Suid-Afrika se minister van wet en orde in die laaste jare van apartheid.
Adriaan Johannes Vlok is op 11 Desember 1937 in Sutherland in die Noord-Kaap gebore en het op ’n klein plasie naby die Oranjerivier grootgeword. Hy het in 1956 aan die Hoërskool Keimoes gematrikuleer waarna hy drie maande lank militêre opleiding in Pretoria ondergaan het. Daarna het hy by die landdroskantore in Keimoes en Upington gewerk. Hy het later as ondersekretaris van die hoofkantoor van die Departement van Justisie in Pretoria gewerk. In 1962 het hy sy Dip Proc-diploma aan die Universiteit van Pretoria voltooi.
In 1970 het hy uit die staatsdiens bedank en ’n onderneming begin met die doel om tot die politiek toe te tree. Hy het onder meer ’n boodskapperdiens by die hof in Pretoria-Oos behartig. Hy het daarby ’n belangstelling in militêre aangeleenthede ontwikkel; hy het as vrywilliger by die Regiment Oranjerivier diens verrig en is tot die rang van luitenant bevorder. In 1972 is hy verkies tot die stadsraad van Verwoerdburg, wat toe nog ’n onafhanklike munisipaliteit was en nou as Centurion, wat deel is van die Tshwane-metroraad is, bekendstaan. Hy het hom egter reeds in 1959 by die Nasionale Party aangesluit en vanaf 1964 aktief aan partyfunksies begin deelneem. In die laat 1960’s was hy die voorsitter van die Generaal Hertzog-tak van die Nasionale Party in Verwoerdburg en in 1970 is hy verkies tot voorsitter van die afdelingsraad van die Pretoria-kiesafdeling. Hy het hierdie posisie behou totdat hy in 1974 tot parlementslid verkies is. Hy is op 17 September 1984 as adjunkminister van verdediging aangestel.
Op 14 Januarie 1985 is hy ook as adjunkminister van wet en orde aangestel, en in Desember 1986 het hy die minister in hierdie portefeulje geword. Sy departement was verantwoordelik vir die onderdrukking van opstande en die aanhouding van sowat 30 000 mense. Daar is ook ’n noodtoestand aangekondig. In Februarie 1988 het hy die inperking van 17 buite-parlementêre organisasies aangekondig; dit het die United Democratic Front, die Release Mandela Campaign, die Soweto Civic Organisation en die Azanian People’s Organisation ingesluit.
Ten 1989 is die aantal aangehoudenes aansienlik verminder, maar 300 het met ’n eetstaking begin. Die gevolg hiervan was dat hy met die regsverteenwoordigers van die eetstakers, asook met kerkleiers soos aartsbiskop Desmond Tutu vergader het. Hierna is heelwat aangehoudenes vrygelaat. Tydens die verkiesingsveldtog van 1989 het hy die “totale aanslag”-propaganda gebruik om sy optrede te regverdig en hy is gedwing om ’n geskrewe verskoning aan die Congress of South African Trade Unions (COSATU) rig vir sy onbevestigde bewerings van die organisasie se gewelddadige motiewe. Teen die einde van 1989 was daar aantygings van polisiesluipmoordmagte, wat na bewering meer as ’n honderd politieke aktiviste vermoor het. Die staatspresident het ’n interne kommissie aangestel om die beweringe te ondersoek maar die bevindinge is nie openbaar gemaak nie. Die kommissie onder voorsitterskap van regter Louis Harms, wat die beweerde politieke moorde ondersoek het, het Vlok egter nie gevra om te getuig oor sy kennis van die beweerde sluipmoordmagte nie. Volk se posisie as minister was erg omstrede veral tydens die onderhandelinge om apartheid te beëindig en die African National Congress het op sy onmiddellike ontslag aangedring. President FW de Klerk het Vlok in reaksie hierop na die portefeulje van korrektiewe dienste verskuif. In 1999 is amnestie aan hom toegestaan nadat hy erken het dat hy Khotso-huis, die hoofkwartier van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, en COSATU-huis opgeblaas het.
In ’n versoenende gebaar het Vlok, soos Jesus met Sy dissipels gedoen het, die voete van die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, eerwaarde Frank Chikane, gewas, asook dié van die weduwees en moeders van die Mamelodi 10, ’n groep anti-apartheidaktiviste wat deur ’n informant van die polisie na hul dood gelok is. Vlok was die enigste minister wat erken het dat hy skuldig was aan kriminele aktiwiteite gedurende apartheid.
Op 17 Augustus 2007 het die Hooggeregshof hom skuldig bevind aan ’n sameswering in 1989 om eerwaarde Chikane te vermoor, en tot gevangenisstraf wat vir tien jaar opgeskort is, gevonnis.
deur Daantjie Badenhorst