SUID-AFRIKA KRY TELEVISIE

1975 was ’n feesjaar vir Afrikaans. Dit was die herdenking van die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners ’n eeu tevore en dit was ook die jaar waarin die Taalmonument in die Paarl op 10 Oktober onthul is. Maar dit was ook die jaar waarin die digter Breyten Breytenbach tot tronkstraf gevonnis is nadat hy in hegtenis geneem is omdat hy die land met ’n vals paspoort binnegekom het. Reeds voordat hy na Suid-Afrika gekom het om ’n struktuur vir ’n ondergrondse beweging teen die bewind te vestig, het sekere ANC-leiers die veiligheidspolisie ingelig. Hy is gevang en het hom in sy verhoor in ’n desperate pleidooi op NP van Wyk Louw se opvattings oor lojale verset en voortbestaan in geregtigheid beroep: “Dit is dalk paradoksaal, maar vir my het dit gegaan om die voortbestaan van ons volk, ’n voortbestaan met regverdigheid soos Van Wyk Louw dit uitgedruk het, oor die gehalte en inhoud van ons beskawing”. Die regter het hom nie daaraan gesteur nie. In November is hy tot nege jaar tronkstraf gevonnis weens oortredings ingevolge die Wet op Terrorisme. Die Breytenbach-saak het verdeeldheid in die literêre wêreld vererger, veral ná ’n tweede verhoor in 1977 omdat hy probeer ontsnap het uit die gevangenis. En 1975 was bowendien die jaar toe Suid-Afrikaanse soldate in Angola moes gaan veg. (Kyk by 5 Desember.)

Dit hoort tot die ironie van die geskiedenis dat die feesjaar 1959 (“Die wonder van Afrikaans”) gevolg is deur ’n onheilsjaar (Sharpeville) – en die feesjaar 1975 deur die rampjaar van die Soweto-onluste oor onder meer Afrikaans. (Kyk by 6 Desember.)

Maar 1976 was ook die jaar waarin Suid-Afrika televisie gekry het. Die eerste jare van televisie tot 1994 was werklik ’n triomf vir Afrikaanse kreatiwiteit op talle terreine: musiek, sport, ligte vermaak, hoogstaande kinderprogramme, dokumentêre, ernstige dramas waarvan baie op uitmuntende wyse oorgeklank is uit veral Duits en Frans. Dit is onmoontlik om alles hier te noem. Die kykNET-reeks Oppi Kassie handel oor die vervaardiging van duisende Afrikaanse programme in soms moeilike omstandighede deur pioniers wat aanvanklik nog onervare was maar die wil gehad het om vir Afrikaans en natuurlik ook hulle self voortreflike werk te lewer.

Bowendien het Afrikaans en Engels onder die leiding van mense soos dr. Piet Meyer en dr. Jan Schutte gelyke behandeling geniet: op Maandae, Woensdae en Vrydae was die vroeë program van 18:00 tot 20:30 in Engels en daarna in Afrikaans; op Dinsdae, Donderdae en Saterdae was die vroeë program Afrikaans en die laataand Engels. Op Sondae is beurte gemaak – een Sondag het met Afrikaans begin en die volgende met Engels. In die volgende vyf jaar is hard gewerk om dienste in vyf ander inheemse tale op die been te bring, en van 31 Desember 1981 af het TV2 in Zoeloe en Xhosa, en TV3 in Suid-Sotho, Tswana en Noord-Sotho uitgesaai. Saam met dié tale was daar Engels, en later het ’n TV4 bygekom, hoofsaaklik in Engels.

Sewe rolprentmakers het besluit om ook vir TV te werk: Elmo de Witt, Dirk de Villiers, Frans Marx, Daan Retief, Koos Roets, Jan Scholtz en Manie van Rensburg. Hulle kon put uit die groot skat van romans, dramas en kortverhale: J van Melle, CM van den Heever, Karel Schoeman, Hennie Aucamp, Anna M Louw, Henriette Grové, Karl Kielblock. Groot dramaturge, veral Chris Barnard en PG du Plessis, het nuwe stukke en reekse geskryf. Jan Scholtz het gesorg vir verskeie ligte reeks, maar ook historiese dramas soos Jopie Fourie en Die vrede van Vereeniging.

Die Afrikaanse radio en televisie was ’n stimulus vir die musiek- en liriekbeweging wat vir Afrikaanse musiek gedoen het wat die Dertigers en Veertigers vir die Afrikaanse poësie beteken het. Die voorloper was Koos du Plessis – asook Jannie du Toit, Anton Goosen, Sonja Herholdt en al die ander mense wat steeds bekend gebly het soos Laurika Rauch, Coenie de Villiers en Amanda Strydom, die “prinses van kabaret”. As skrywer van kabarettekste het veral die veelsydige Hennie Aucamp uitgeblink. Dikwels is die nuwe sangers en liedjieskrywers geïnspireer deur volksmusiek wat lewend gehou en vernuwe is deur sangers soos Groep 2 en kore soos die Alabama-studentegeselskap van Potchefstroom. By dit alles was die FAK-Sangbundel onontbeerlik. Betrokke by die nuwe beweging en veral by die Afrikaanse televisie, was die digter en regisseur Stephan Bouwer, van wie Aucamp skryf: “Hy was daardie rare verskynsel in die letterkunde: ’n mens sonder enige selfsugtige haar op sy kop.”