NP VAN WYK LOUW (1906-1970)
NP van Wyk Louw was ’n Afrikaanse digter en skrywer wat ook ’n professor aan die Universiteit van die Witwatersrand en die Gemeentelike Universiteit van Amsterdam was.
Nicholaas Petrus van Wyk Louw is op 11 Junie 1906 op Sutherland in die Noord-Kaap gebore en was die tweede oudste van vier broers. Die digter WEG Louw was sy jonger broer. Hy is na sy oupa aan moederskant vernoem. Die huis in Jubileestraat waar die Louw-gesin gewoon het, is later as museum verklaar uit erkenning van die twee broers se bydrae tot die letterkunde. Hy het in 1911 in sy tuisdorp begin skoolgaan, waar Engels die hoofmedium van onderrig was. Hy was deurentyd die jongste kind op skool, maar hy het altyd eerste in die klas gestaan. Sy fotografiese geheue het hom telkens in die moeilikheid gebring omdat die onderwysers hom daarvan verdink het dat hy in die eksamen afgeskryf het, terwyl hy net die antwoorde woordeliks soos in die handboek weergegee het. Hy was ook so begaaf as pianis dat die familie van mening was dat hy eerder ’n loopbaan in musiek sou volg. Teen die einde van 1920 het die gesin na Kaapstad verhuis en hy het by die eweneens Engelstalige South African College School begin skoolgaan. Hul huis op Sutherland is egter eers in 1925 verkoop en sy pa was steeds ’n vennoot in die regspraktyk op die dorp. Die gesin sou tydens skoolvakansies by familie in die distrik of in die naburige Calvinia-distrik gaan kuier.
Teen die einde van 1922 het hy in die eerste klas gematrikuleer en die volgende jaar het hy aan die Universiteit van Kaapstad begin studeer. Aan die begin van 1924 het hy, op sewentienjarige ouderdom, ’n kwartaal lank as onderwyser by die plaasskool op Soetwater waargeneem toe die skrywer Anna M Louw se ma met kraamverlof was. In 1925 het hy die BA-graad behaal met Duits, Afrikaans-Nederlands en Latyn as hoofvakke. Daarby het hy vakke soos Dierkunde, Sielkunde, Engels en Etiek gehad. In 1926 is hy aangestel as tydelike assistent vir Afrikaans-Nederlands terwyl hy met sy MA-graad besig was. Aan die einde van daardie jaar het hy egter net die eksamens in Duits geskryf om dié graad te behaal. In 1927 het hy aan die Paul Kruger Hoërskool op Steynsburg onderwys in Duits en Engels gegee. Hier het hy ook ’n hoofrol vertolk in ’n opvoering van die komedie Die stoplap van Walter Spiethoff. In 1928 het hy na Kaapstad teruggekeer om sy BEd-graad te voltooi. Hy het ’n skripsie met die titel “The development of agricultural, industrial and technical education for Europeans in South Africa” ingedien om aan die vereistes vir hierdie graad te voldoen. In hierdie tyd het hy die Franse taal aangeleer sodat hy ’n goeie leeskennis van die taal kon opbou. In 1929 het hy ’n tydelike lektor in Opvoedkunde aan die Universiteit van Kaapstad geword, maar ’n jaar later is hy permanent in hierdie pos aangestel. Hy het hierdie betrekking tot aan die einde van 1949 beklee. Die digters Izak van der Merwe (Boerneef) en ID du Plessis was twee van sy kollegas.
Terwyl hy op skool in Sutherland was, het hy ’n hegte verhouding met Ella Vlok gehad, en hulle het jare lank nadat hy uit die dorp verhuis het, steeds gekorrespondeer. In hierdie briewe het hy sy eerste digpogings ingesluit, maar die verhouding is in 1925 verbreek. Hierna het hy ’n verhouding met Ella van der Merwe van Murraysburg aangeknoop en die hele Desembervakansie van daardie jaar saam met haar en haar familie deurgebring. Hierdie verhouding het in Desember 1926 tot ’n einde gekom. Drie maande tevore het hy sy toekomstige vrou, Joan Isabeau Wessels, wat op 5 Augustus 1906 gebore is, ontmoet. Hulle is op 18 September 1930 in die Groote Kerk in Kaapstad getroud. Hulle het hulle eers in Seepunt in Kaapstad, en daarna in hul eie huis in Vredehoek gevestig. Twee dogters is uit die huwelik gebore; Maria Johanna (Ria) wat met prof. dr. AD Muller van die Universiteit van Fort Hare getroud was en in 1964 oorlede is en Anna Cornelia (Nakkie), wat met die uitgewer Koos Human getroud is.
In die 1930’s het hy toenemend in die filosofie van Hegel begin belangstel en ’n doktorale verhandeling oor die Duitse opvoedkundige teoretikus Theodore Litt oorweeg. Hy het vir sy broer WEG Louw ekstra klasse begin gee en op laasgenoemde se inisiatief het hy weer begin skryf en dig. Hy het bevriend geraak met Hettie Smit, Fred le Roux en sy kollegas Boerneef, ID du Plessis en J du P Scholtz, wat almal belangstelling in sy werk getoon het. Hierdie vriendskappe het in 1935 gelei tot die Vereniging van die Vrye Boek (VVB), met Van Wyk Louw as sekretaris. Die ander bestuurslede was WEG Louw, Boerneef, J du P Scholtz, FEJ Malherbe en Ingrid Jonker se pa, dr. Abraham H Jonker. Die doel van die verenging was om goeie letterkundige werke te publiseer en sodoende die grense te verskuif en die Afrikaanse letterkundige landskap te verruim. Op die ou einde het die vereniging net twee werke gepubliseer, naamlik Van Wyk Louw se Die halwe kring en Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan. In April 1937 het Malherbe en Jonker uit die vereniging bedank. In hierdie tyd het Van Wyk Louw hom as ’n leiersfiguur van die Dertigers gevestig en deur sy essays pertinente politieke en gemeenskaplike probleme op ’n baanbrekersmanier aangeraak. Hy het veral die strewe na nuwe Afrikaanse poësie op ’n skerpsinnige en helder wyse verwoord. Hy het die bloot lokale kuns verwerp ter wille van ’n verhewe literatuur waarin die mens volledig gestalte kon vind; ’n kuns wat streng selfsug van die skrywer vereis en waar geen wette behalwe skoonheid en letterkundige meriete geld nie.
In 1937 was daar polemiek toe Van Wyk Louw die Hertzogprys vir Alleenspraak gewen het, aangesien hy die prys met ID du Plessis gedeel het. Die Letterkundige Kommissie wat vir hierdie toekenning verantwoordelik was, was FEJ Malherbe (die sameroeper), EC Pienaar en MSB Kritzinger. Die breuk tussen Louw en Malherbe, wat vroeër dieselfde jaar by die VVB ontstaan het, het ’n nadraai met die toekenning van die Hertzogprys gekry. Louw het in die pers van die toekenning verneem en dit gevolglik geweier. Dit het ’n woordestryd tussen die verskillende partye tot gevolg gehad.
In die vroeë 1930’s het Louw kennis gemaak met prof. Anna Neethling-Pohl toe sy en haar man, dr. Chris Neethling, hul bure in Vredehoek geword het. Só is sy belangstelling in teater weer geprikkel. In 1934 was hy stigterslid van die Kaapse Afrikaanse Toneelvereniging (K.A.T.), waarvan hy ’n bestuurslid was saam met onder meer Anna Neethling-Pohl, Boerneef en Jacques Malan. Die doel van die K.A.T. was om Afrikaanse toneel deur opvoerings, besprekings en vertalings te bevorder, toneelbiblioteek en teater met die nodige fasiliteite op te rig en die Afrikaanse Eisteddfod te ondersteun. Louw het soms vir die K.A.T. in dramas opgetree, onder andere in As die tuig skawe van JFW Grosskopf.
Op 11 April 1934 is hy ingehuldig as ’n lid van die Afrikaner-Broederbond; in hierdie jare was hy aanvanklik positief teenoor Duitse nasionaal-sosialisme. Hierin is hy beïnvloed deur sy studie van Duits en beroemde Duitsers se filosofie, asook Duitsland se ooreenkomste met Suid-Afrika in die sin dat albei lande ’n oorlog teen Engeland verloor het en “aan baie onregverdigheid onderworpe was.” Hy was selfs ’n kort tyd lank lid van die Gryshemde, ’n nasionaal-sosialistiese beweging wat op 26 Oktober 1933 in Kaapstad gestig is. Later het hy egter sy geesdrif vir die Nazi’s verloor, veral nadat hulle kleiner volke soos Tsjeggië, wat hoofsaaklik uit nie-Duitsers bestaan het, oorweldig het. Op versoek van Die Huisgenoot het hy ’n deeglike studie van die armblankevraagstuk en die Carnegie-verslag gedoen en twee artikels hieroor is in die uitgawes van 19 Mei 1933 en 15 September 1933 gepubliseer.
Teen September 1937 het daar ’n vervreemding tussen hom en Joan gekom weens sy verhouding met Gertruida Isabella Reinet (Truida) Pohl, dr. Anna Neethling-Pohl se suster, wat op 13 April 1913 gebore is. Sy was op daardie stadium getroud met Fred le Roux; Truida en Fred is in 1935 op die ingewing van die oomblik met ’n spesiale lisensie getroud maar omdat albei betrekkings gehad het wat hulle nie wou prysgee nie, het hulle afsonderlik gewoon en mekaar net oor vakansies en sommige naweke gesien. Op 4 September 1937 het Louw sy liefde aan Truida verklaar sonder om te weet dat sy getroud was. Sy het hom trouens kort daarna eers hiervan vertel. In November 1937 het Louw sy eerste vrou verlaat en op 10 April 1941 is hy en Truida getroud. Twee kinders is uit die huwelik gebore.
In 1948 het hy ’n eredoktorsgraad aan die Universiteit van Utrecht in Nederland verkry, waarna hy en Truida ’n uitgebreide reis van agt maande deur die buiteland onderneem het. Hulle het in Julie 1948 na Nederland vertrek en in Februarie 1949 na Suid-Afrika teruggekeer. In die begin van 1950 het hy ’n leerstoel aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam aanvaar met die opdrag om lesings oor die Afrikaanse beskawing in die algemeen en die Afrikaanse taal in die besonder te hou. Hy is ook aangestel as direkteur van die Suid-Afrikaanse Instituut in Amsterdam. Sy sterk vriendskap met DJ Opperman kon gesien word in die feit dat hy Opperman gevra het om na die geldelike belange van Louw se oudste twee dogters in Kaapstad om te sien terwyl hy in die buiteland was.
Die jare wat Louw in Nederland deurgebring het, was van sy mees produktiewe wat sy letterkunde betref. In hierdie tyd het hy sy belangrikste poësie, dramas en literêr-teoretiese geskrifte geskryf en talle lesings in België en Nederland oor die Afrikaanse letterkunde en geesteslewe gelewer. Daarby het hy opgetree as dosent van ’n aantal Suid-Afrikaanse studente wat later leidende rolle in die letterkunde sou vertolk, onder meer TT Cloete, Merwe Scholtz, CJM Nienaber, Elize Botha en Ernst Lindenberg. Van Julie 1951 tot Desember 1953 het hy ’n reeks artikels vir Die Huisgenoot gelewer terwyl artikels uit sy pen ook in ander tydskrifte verskyn het.
Na CM van den Heever se dood in Julie 1957 het daar ’n vakature ontstaan vir die pos van departementshoof van Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand. Hy is gevra om aansoek te doen, en is die versekering gegee dat hy wel aangestel sou word indien hy aansoek sou doen. Die pos is teen die einde van 1957 vir hom aangebied en in Julie 1958 het hy na Suid-Afrika teruggekeer. Hy het sy intreerede, getiteld “Oor moeilike literatuur; die verwysingsmoeilikheid”, egter eers in 1959 gelewer. Op 13 November 1961 het hy ’n hartaanval gekry, maar hoewel hy dit oorleef het, het hy vir die res van sy lewe baie minder energie as tevore gehad. Op 21 April 1964 is sy dogter Ria aan ’n longaandoening oorlede.
Weens sy beginsels van morele regverdigheid het hy kort na sy terugkeer na Suid-Afrika gou in ’n botsing met die destydse eerste minister, dr. Hendrik Verwoerd, betrokke geraak. Verwoerd het sterk standpunt ingeneem teen die voorwoord wat Louw vir ds. DP Botha se boek Die opkoms van ons Derde Stand geskryf het. Hierin het hy lof gehad vir Botha se standpunt dat daar geen natuurlike tuisland vir bruin mense bestaan het nie en dat hulle saam met die Afrikanervolk gevoeg moes word omdat hulle organies deel daarvan was. Louw het die taal voorop gestel terwyl Verwoerd ras as allerbelangrik beskou het.
In September 1968 het Louw weer ’n hartaanval gehad, waarna die beroemde span van die Groote Schuur-hospitaal hom ondersoek het vir ’n moontlike hartoorplanting. Aangesien sy kanse op oorlewing slegs 50% was, het die span daarteen besluit en vir die res van sy lewe is Louw deur swak gesondheid geteister. Aan die einde van 1969 het hy weens swak gesondheid afgetree maar die volgende jaar steeds vir honneursstudente klasgegee. Hy is op 18 Junie 1970, ’n week na sy 64ste verjaardag, in Johannesburg in sy slaap oorlede.
deur Daantjie Badenhorst