ALETTA BEZUIDENHOUT (1949-2024)

Die Afrikaanse aktrise, regisseur en skrywer Aletta Bezuidenhout is op 10 Februarie 2024 in die ouderdom van 76 jaar oorlede.

Sy is in Kenia gebore en het haar BA- (Drama) graad aan die Universiteit van Kaapstad verwerf, waarna sy haar loopbaan aan die Kaapse Raad vir Uitvoerende Kunste (Kruik) begin. Later het sy vryskutwerk gedoen, meestal eksperimentele werk in Die Ruimte; ’n invloedryke alternatiewe teater in Kaapstad wat in 1972 deur die akteurspaar Brian Astbury en Yvonne Brycelanfd geopen is, met die ondersteuning van baie mense in die Kaapse toneelwêreld, onder wie Athol Fugard. Dit het gou as ’n uitdagende nie-rassige teater gevestig geraak.

Daarna het sy na die destydse Transvaal verhuis en onder meer by The Company en die Markteater gewerk. Sy het egter ook vir Kruik en Truk (die Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste) gewerk en benewens haar televisie- en rolprentwerk het sy ook ander akteurs opgelei.

Vir Kruik het sy in toneelstukke soos Die pantoffelmoordenaars en Oom Wanja verskyn, en in Die Ruimte was sy onder meer te sien in Dusa Stas Fish and Vi, The resistable rise of Arturo UI en Treats. In 1974 was sy een van die stigterslede van The Company, waar sy in toneelstukke soos Begeerte, Mother Courage, Vroue van Troje, Klaaglied vir Koos en The Minotaur’s Sister gespeel het. As vryskutaktrise het sy onder meer in Loot, The women of Troy, Drie susters, Twee en Reach opgetree.

Haar werk as dramaturg het Time of footsteps, Silent envelope, Angel in a dark room en Little big world ingesluit. Hoewel sy hoofsaaklik bekendheid as verhoogaktrise verwerf het, het sy in twee rolprente opgetree, naamlik Weerskant die nag, saam met onder meer Zack du Plessis, Wilna Snyman en Paljas, waarin sy teenoor Marius Weyers gespeel het. Haar televisiewerk het Die sonkring, Orion en Thicker than water ingesluit.

Sy was eers met die akteur Tertius Meintjies getroud en later met Anthony Perris. Sy word ook deur twee seuns oorleef.

Daantjie Badenhorst