ALIWAL-NOORD-KONSENTRASIEKAMP

Ligging: Naby Aliwal-Noord Hoërskool, Somersetstraat

Koördinate: -30.704583,26.708472

Die konsentrasiekamp op Aliwal-Noord is Januarie 1901 geopen.

Die meeste inwoners van hierdie kamp was van Rouxville, Zastron en Smithfield in die Vrystaat afkomstig.

Die water van die kamp is met emmers uit die Oranjerivier geskep en omdat die vroue dit aangedra het, is hulle aan besmetting blootgestel. Soos baie ander kampe, het hierdie kamp ’n uiters swak sanitêre stelsel gehad, en daar was net een toilet vir 170 vroue en kinders.

Daar was ’n tekort aan beddens in die kamphospitaal en dit het sekerlik baie sterftes veroorsaak. Met ’n inwonertal van 4500 mense was daar net een markiestent wat as hospitaal gedien het.

Daarby was die rantsoenvoorsiening en die brandhout wat aan mense gegee is om kos mee gaar te maak, heeltemal onvoldoende. Die koffierantsoen wat hulle gekry het, het die kinders siek gemaak en die halwe blikkie kondensmelk wat hulle gekry het, was veronderstel om ’n hele week vir elke persoon te hou.

Daar was nie eens genoeg tente nie en sommige mense is verplig om onder die sterre te slaap. Een van die dames in die kamp het beskryf hoedat hulle in hul komberse, wat soms sopnat van die reën was, gebibber het van die koue.

Op 29 Oktober het die kampbevolking sy hoogtepunt bereik, met 726 mans, 1622 vroue en 2395 kinders. Volgens rekords was die sterftesyfer 712 mense; 166 persone was ouer as 15 jaar en 546 mense jonger as 15 jaar. Die oorskot van die gestorwe kampinwoners is opgegrawe en weer hier begrawe. Die oorspronklike grafstene is in die binnemure van die monument ingebou.

Na die vredesluiting het ’n aantal krygsgevangenes tydelik op die terrein gewoon totdat hulle met hul gesinne herenig is.

Die kamp is amptelik op 28 November 1902 gesluit.

Klik hier om te sien of daar van jou familie hier begrawe is.

Daantjie Badenhorst