DIE JAMESON-INVAL
Die Jameson-inval was ’n mislukte aanslag op die onafhanklikheid van die Zuid-Afrikaansche Republiek.

Cecil John Rhodes

Sir Leander Starr Jameson
Cecil John Rhodes was op daardie stadium die premier van die Kaapkolonie en hy het die inval beplan en gefinansier in ’n poging om sy ideaal om ’n verenigde Suid-Afrika onder die Britse vlag tot stand te bring, te verwesenlik.
Ten einde die inval in die oë van die res van die wêreld te regverdig, moes dit saamval met ’n kunsmatig aangewakkerde rewolusie onder Johannesburg se Uitlanderbevolking. Die invallers, onder leiding van dr. Leander Starr Jameson, sou die Uitlanders dan op hul versoek help, oënskynlik om ’n volskaalse burgeroorlog te voorkom, maar in werklikheid om die Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika die geleentheid te gee om tussenbeide te tree.
Hy sou dan aandring op ’n wetgewende vergadering wat deur die Uitlanders oorheers sou word en wat bereid wou wees om Transvaal by ’n Britse federasie te laat aansluit. Die Uitlanderopstand het weens ’n gebrek aan geesdrif nooit plaasgevind nie en daardeur is Jameson se inval gedoem tot mislukking. Die inval het die spanning in die Suid-Afrikaanse politiek laat oplaai en grootliks bygedra tot die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899. In 1890 het Cecil John Rhodes met die steun van JH Hofmeyr en die Afrikanerbond die premier van die Kaapkolonie geword. Gerugsteun deur sy persoonlike finansiële mag was hy toe meer as ooit tevore in ’n gunstige posisie om sy ideaal vir ’n verenigde Suid-Afrika onder Britse beheer te verwesenlik.
Rhodes het uit die staanspoor verklaar dat hy as premier van die Kaap slegs “Suid-Afrikaanse politiek” sou bedryf; hiermee het hy bedoel dat hy die belange van Suid-Afrika as ’n geheel sou bevorder en enige ontwikkelings van isolasionisme sou teenwerk. Die pogings van die Britse imperialiste om die Zuid-Afrikaansche Republiek by ’n Brits-beheerde federasie te betrek of tot aansluiting by ’n tolunie te dwing, het teen 1894 nog geen vrugte afgewerp nie.
Hulle kon wel daarin slaag om die ZAR se uitbreiding ooswaarts na Swaziland te fnuik en die beleid van omsingeling verder gevoer met die anneksasie van Rhodesië in 1894. Betsjoeanaland het reeds in 1885 ’n Britse protektoraat geword en Zoeloeland is in 1887 geannekseer. Die spoorlyn tussen Pretoria en Delagoabaai, wat die ZAR onafhanklik van Britse hawens sou maak, is egter in 1894 voltooi en die volgende jaar in gebruik geneem. Rhodes was bevrees dat die ZAR met sy goudrykdom en eie spoorweg na Delagoabaai tot die ekonomiese reus van Suid-Afrika sou ontwikkel en daardeur sy wil op die Britse gebiede sou kon afdwing. Hy was bereid om enige middel aan te wend om die ZAR se onafhanklikheid te beëindig; die Uitlandervraagstuk wat in Johannesburg ontstaan het, het hom en die ander imperialiste ’n gulde geleentheid gebied om hulle met die ZAR se binnelandse aangeleenthede te bemoei.
Die buitelanders wat sedert die ontdekking van goud in 1886 in groot getalle na die ZAR gestroom het, het ’n blywende deel van die bevolking geword. Hulle is deur die ouer en meer gevestigde bevolking, veral die Boere, as ’n bedreiging beskou. Die Boere het gevrees dat die Uitlanders hulle eindelik in getalle sou oortref en dat hulle, wanneer hulle burgerregte verkry het, die regering van die land sou oorneem, Afrikanertradisies sou ondermyn en heel moontlik Britse anneksasie sou verwelkom. Die tradisionele plattelandse leefwyse van die Boere was onversoenbaar met die stedelike kapitalisme van die Uitlanders en uit die staanspoor was die verhouding tussen die twee bevolkingsgroepe gespanne.
Pres. Paul Kruger en die Volksraad het besef dat die Uitlanderbevolking nie geïgnoreer kon word nie. Reeds in 1887 het Kruger die goudvelde besoek om soveel van die Uitlanders se griewe as moontlik uit die weg te ruim. Hulle was ontevrede oor die hoë lisensiegelde en hoë invoerregte. Hulle het aangedring op ’n eie munisipale regering en wou eiendomsreg op hul plase verkry. Wat die kwessie van stemreg en verteenwoordiging in die Volksraad betref, het hy besluit om die middeweg te volg waardeur die onafhanklikheid van die ZAR nie in gevaar gestel sou word nie en waardeur die Uitlanders, sonder wie die ZAR nie kon klaarkom nie, nie heeltemal vervreem sou word nie. Die middewegbeleid was gegrond op ’n Tweede Volksraad, wat in 1890 ingestel is. Die Tweede Volksraad was ondergeskik aan die Eerste Volksraad en sou seggenskap hê oor sake van plaaslike belang waarby staatsbeleid nie betrokke was nie. Lede van die Tweede Volksraad kon deur alle burgers ouer as 16 jaar, insluitend Uitlanders wat reeds twee jaar genaturaliseer was, verkies word. Om vir die Tweede Volksraad verkies te word, moes iemand reeds ouer as dertig jaar wees, vaste eiendom besit, tot ’n Protestantse geloof behoort het en reeds twee jaar stemgeregtig wees. In die geval van ’n Uitlander was dit vier jaar na naturalisasie. Lede van die Eerste Volksraad kon verkies word deur mense wat reeds voor 1890 burgerskap verkry het, mense wat na 1890 op grond van geboorte by die bereiking van 16-jarige ouderdom burgerskap verkry het en mense wat reeds tien jaar lank vir die Tweede Volksraad verkiesbaar was. Dit het beteken dat die Uitlanders eers 14 jaar na naturalisering stemreg vir die Eerste Volksraad kon kry.
Die bestaan van die twee Volksrade het die spanning tussen Johannesburg en die Eerste Volksraad nie verlig nie maar eerder daartoe bygedra. Die Uitlanders was ontevrede oor die geringe mate van verteenwoordiging wat hulle gehad het en hul griewe het toegeneem. In 1892 het adv. Charles Leonard die Transvaal National Union (TNU) gestig. Leonard het vroeër reeds in die Kaapkolonie teen die ZAR geagiteer en hy het Rhodes se imperialisme ondersteun. Die oogmerke van die TNU was die handhawing van die ZAR se onafhanklikheid, die verkryging van politieke regte vir almal en die uitskakeling van die Uitlanders se griewe, maar Leonard se eindelike doelwit was die ondergang van die ZAR.
In 1893 en 1894 het die TNU versoekskrifte aan Kruger gestuur waarin hulle om stemreg gevra het. Hulle het egter geen welslae daarmee behaal nie en die gedagte het by hulle begin posvat dat Kruger die groot struikelblok was. Hulle het ook gemeen dat die Eerste Volksraad meer inskiklik sou wees sodra Kruger se invloed sou verdwyn. In hul openbare agitasies het hulle Kruger nie net persoonlik aangeval nie, maar hulle ook teen die “wanbestuur” en “korrupsie” van die regering uitgespreek. In 1893 was daar ’n presidentsverkiesing en die TNU het hulle by Kruger se teenstander, die meer progressiewe kmdt.genl. Piet Joubert geskaar. Die klein meerderheid waarmee Kruger die verkiesing gewen het, was grootliks te wyte aan die TNU se propagandaveldtog. In 1894 het die ZAR-regering ’n groot taktiese flater begaan deur die Uitlanders op te roep vir militêre diens om aan die oorlog teen Mapog in Noord-Transvaal deel te neem. Baie Uitlanders het geweier en protesvergaderings gehou. Hulle het daarop gewys dat hulle geen burgerregte geniet het nie en dat hulle nie tot militêre diens verplig kon word nie omdat hulle nie burgers van die land was nie. Brittanje het die versoek van die Uitlanders beskou as ’n gulde geleentheid om hom met die ZAR se binnelandse aangeleenthede te bemoei en die soewereiniteit van die staat te ondermyn.
Die Britse Hoë Kommissaris, sir Henry Loch, is na Pretoria gestuur om met Kruger te onderhandel. Met Loch se aankoms op Pretoria se stasie op 25 Junie 1894 het ’n groot groep Uitlanders Kruger beledig. Nadat hulle Loch geesdriftig toegejuig het, het hulle die perde voor die koets waarin Loch en Kruger gesit het, uitgespan en self die koets getrek na die hotel terwyl hulle “Rule Britannia” gesing en die Union Jack gewaai het. Loch het die hotel saam met die Uitlanders binnegegaan en Kruger net so in die koets laat sit. Loch het niks gedoen om die voorval af te keur nie, maar wel voldoen aan Kruger se versoek deur nie ’n besoek aan Johannesburg te bring nie.
Hoewel die opkommandering van Uitlanders as gevolg van Loch se besoek gestaak is, is daar nie tot ’n vergelyk aangaande toekomstige militêre diens deur die Uitlanders gekom nie. Kruger was bereid om hulle kwyt te skeld, mits Brittanje sekere wysigings aan die Londen-konvensie van 1884 sou aanbring, maar Loch was nie daarvoor te vinde nie. Met die ontmoeting tussen Loch en Kruger het die Uitlandervraagstuk ’n nuwe wending geneem. Dit was nie net meer ’n binnelandse aangeleentheid nie, maar ’n internasionale aangeleentheid waarmee Brittanje hom, op grond van die Londen-konvensie, al hoe meer sou bemoei.
Die vernedering wat Kruger gedurende Loch se besoek ondergaan het, het groot verontwaardiging by die Boere uitgelok en die verhouding tussen die Uitlanders en die owerheid het agteruitgegaan. In 1895 is ’n versoekskrif met 35 000 handtekeninge aan die regering voorgelê. Hoewel die Volksraad dit van die hand gewys het, het dit groot publisiteit in die Britse pers geniet en groot simpatie vir die Uitlanders by die Britse regering en die Britse volk gewek. Die griewe het al hoe meer geword en is in die manifes van die TNU, wat ook as die Leonard-manifes bekendgestaan het en op 26 Desember 1895 gepubliseer is, uiteengesit. Sommige griewe was gegrond, ander oordrewe en van die griewe was verdraai.
Afgesien van die stemregkwessie was die Uitlanders, volgens die manifes, ontevrede oor die gebrek aan munisipale selfbestuur, die dinamietmonopolie wat die prys van dinamiet hoog gehou het, die regering se beleid om konsessies toe te staan, die “korrupsie” in die regering, die president se “diktatoriale neigings”, die diskriminasie teen die Uitlanders op grond van taal en godsdiens, die gebruik van Hollands as voertaal in skole, onvoldoende onderwys vir die Uitlanderkinders, hoë invoer- en spoorwegtariewe en die “wanadministrasie” ten opsigte van swart volke.
Die manifes is tot die hele blanke bevolking van die ZAR gerig en het geëis dat ’n nuwe grondwet vir ’n “ware” republiek opgestel moes word waarin almal gelyke regte sou geniet, die geregshowe onafhanklik en die onderwys meer liberaal sou wees en Engels en Hollands as amptelike tale erken sou word. Die meeste Uitlanders het egter meer belang by hul materiële welvaart gehad as by die stigting van die TNU se “ware republiek”. Die ontevredenheid aan die Rand is kunsmatig aangewakker deur die imperialistiesgesinde agitators soos Leonard en mynmagnate soos Lionel Phillips wat in 1893 voorsitter van die Kamer van Mynwese geword het. Phillips het self verklaar dat dit nie maklik sou wees om die Uitlanders tot opstand op te sweep nie omdat die meerderheid van hulle nie in stemreg of die val van die Kruger-regering belanggestel het nie. Boonop was daar verdeeldheid onder die Uitlanders oor die rigting wat ingeslaan moes word; moes die ZAR onafhanklik bly of moes Britse anneksasie gevra word?
Rhodes het self die Uitlanders as ’n onvoorspelbare faktor beskou. Toestande aan die Witwatersrand kon moontlik só verander dat die Uitlandervraagstuk nie meer deur Brittanje en die imperialiste in Suid-Afrika gemanipuleer kon word nie. Daarom het hy reeds in 1894 besluit om ’n opstand onder die Uitlanders te organiseer waaroor hy self beheer kon uitoefen. Die Britse premier, lord Salisbury, die minister van kolonies, Joseph Chamberlain en die nuwe Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika, sir Hercules Robinson, was deeglik bewus van Rhodes se planne, maar slegs op nie-amptelike vlak, en het dit goedgekeur.
Die opstand aan die Rand wat deur die TNU georganiseer moes word, sou ondersteun word deur ’n militêre inval, kwansuis om die lewens van die Britse onderdane te beskerm. Indien die opstand sou slaag, sou Robinson as bemiddelaar optree tussen die Transvaalse regering en die TNU. Hy sou voorsiening maak vir die byeenroeping van ’n wetgewende vergadering wat ’n nuwe grondwet, op die grondslag van stemreg vir die Uitlanders, moes opstel.
Daardeur sou ’n Pro-Britse regering, wat ten gunste van ’n federasie sou wees, aan bewind kom. Die plan het berus op die veronderstelling dat die Uitlanders die Boere in getalle oortref het, maar in werklikheid was dit nie die geval nie. Om die opstand te laat slaag, het Rhodes die aktiewe steun van toonaangewende Uitlanders nodig gehad. Sommige mynmagnate het neutraal gebly terwyl ander, onder wie Albert Beit, slegs met groot moeite deur die TNU oorgehaal is om aan die opstand deel te neem. Rhodes se broer Frank was ’n kolonel in die Britse weermag en is as “militêre raadgewer” na Johannesburg gestuur. Hy moes geesdrif vir die opstand aanwakker en toesien dat die Uitlanders bewapen word. Sowat 3000 gewere is Johannesburg binnegesmokkel asook ’n paar Maxim Nordenfeldt-kanonne. Daar is beplan om die staatsmagasyn in Pretoria oor te neem as die opstand eers begin het. Uit die geledere van die TNU is ’n “Reform Committee”, wat uit 64 lede bestaan het, saamgestel. Hulle moes leiding tydens die opstand gee. Die werklike leiers was Lionel Phillips, Frank Rhodes, George Farrar, John Hammond en (sir) Percy Fitzpatrick.
Omdat Brittanje nie amptelik by Rhodes se planne betrokke kon raak nie, was dit nodig om van ’n private invalsmag gebruik te maak. Dr. Leander Starr Jameson, ’n persoonlike vriend van Rhodes, was die administrateur van Rhodesië; hy sou ’n mag van 1500 man op die been bring, saamgestel uit lede van die British South African Company se berede polisie in Betsjoeanaland en lede van ’n vrywilligerskorps wat pas in Salisbury gestig is. Pitsani, geleë op die Transvaalse grens in ’n deel van Betsjoeanaland wat aan Rhodes se BSA Company behoort het, sou as afspringplek dien.
Jameson het die Witwatersrand in November 1895 besoek. Na veel gewik en geweeg het die Uitlanders besluit dat die opstand op 28 Desember 1895 sou plaasvind. Jameson het die leiers van die Reform Committee gevra om ’n ongedateerde brief aan hom te oorhandig. Daarin het hulle die waarskynlikheid van ’n botsing met die Transvaalse owerheid genoem en Jameson versoek om militêr in te gryp en die lewens van ongewapende mans, vroue en kinders teen die goed gewapende Boere te beskerm indien die opstand wel sou plaasvind. Met sy brief sou Jameson sy inval in die oë van die res van die wêreld kon regverdig. Na Jameson se vertrek wou die reëlings in Johannesburg nie vlot nie.
Die leiers was onbekwaam en onseker en die geesdrif vir die opstand het mettertyd verflou. Frank Rhodes het geen strategie beplan nie en die aantal soldate wat opgedaag het, was nie genoeg nie. Weens die verdeeldheid onder die Uitlanders kon daar nie met sekerheid bepaal word hoeveel van hulle aan die opstand sou deelneem nie. Baie van hulle wat wel gewillig was om aan die opstand deel te neem, was onder die indruk dat ’n nuwe onafhanklike republiek die ZAR sou vervang. Toe die nuus dat Rhodes die opstand beplan het met die doel om die Britse vlag in Transvaal te hys, uitgelek het, het dit groot ontevredenheid veroorsaak. Jameson se hoofmag van 350 man het intussen by Pitsani saamgetrek om daar te wag totdat die opstand in Johannesburg begin het.
Op Kersdag in 1895 het die Uitlanders op ’n noodvergadering besluit om Charles Leonard na Rhodes in Kaapstad te stuur en van hom die versekering te verkry dat die Union Jack nie in Transvaal gehys sou word nie. Die vertraging sou hulle die geleentheid gee om beter reëlings te tref. Hierdie verwikkelinge het gemaak dat Jameson telegramme uit Johannesburg en Kaapstad ontvang het waarin hy verwittig is dat die opstande, en gevolglik ook die inval, uitgestel is. In die telegramme wat die volgende paar dae heen en weer gestuur is en waarin Jameson herhaaldelik gewaarsku is om Transvaal nie binne te val voordat hy die opdrag gekry het om dit te doen nie, is terminologie uit die sakewêreld gebruik.
Vir die oningeligtes sou dit lyk asof die stigting van ’n nuwe maatskappy in die telegramme bespreek word. Jameson het hom nie aan die telegramme gesteur nie en hy en sy troepe het reeds ’n maand lank ongeduldig by Pitsani gewag om met die inval te begin. Hy het gevrees dat die invalsplanne dalk sou uitlek as daar te lank gesloer sou word. In ’n telegram aan Rhodes het hy gesê dat hy die Kruger-regering nogtans met sy invalsmag omver sou werp al sou die opstand nie in Johannesburg plaasvind nie. Op Saterdag 28 Desember 1895 het Jameson ’n telegram aan Rhodes gestuur om hom te verwittig dat hy Transvaal die volgende aand sou inval tensy hy opdrag sou ontvang om dit nie te doen nie.
Omdat die telegraaflyne na Pitsani op Sondagmiddae gesluit was, het die telegram Rhodes te laat bereik om ’n antwoord te stuur. Twee boodskappers uit Johannesburg, kapteins Holden en Heany, het Pitsani laat die Sondagmiddag bereik met die opdrag om Jameson te keer. Heany was ’n ou vriend van Jameson en het hom gesterk in sy besluit om die inval uit te voer eerder as om dit te keer. Om 21:30 op Sondag 29 Desember 1895 het Jameson die Transvaalse grens oorgesteek en die volgende oggend het 130 man van die Bechuanaland Police by Malmani (deesdae Ottoshoop) by hom aangesluit. Afgesien van agt Maxim Nordenfeldt-kanonne het die invalsmag ook drie ligte veldkanonne gehad.
Die militêre opperbevel het by kol. (sir) John Willoughby berus. Jameson het blykbaar gemeen dat hy vinnig genoeg sou vorder om Johannesburg te bereik voordat die Boeremagte hom kon stuit. Hy het die telegraafdrade by Mafikeng laat knip in ’n poging om die nuus van die inval te vertraag. Die draad tussen Zeerust en Pretoria is egter nie geknip nie en die nuus oor die inval het Pretoria omstreeks 09:30 op 30 Desember bereik. Kmdt.genl. Piet Joubert het die westelike kommando’s onder leiding van genl. Piet Cronjé opgeroep. Van ’n rewolusie was daar geen sprake meer nie en daar is koorsagtige reëlings getref om Johannesburg teen ’n moontlike aanval van die Boeremagte te beskerm.
Daar is gewere uitgedeel en verskansings opgerig. Die Transvaalse Vierkleur is onderstebo gehys as ’n teken dat die Uitlanders hul onafhanklikheid ten opsigte van Brittanje wou handhaaf en ’n “voorlopige regering” is gevorm. Tot almal se verbasing het Kruger die Republikeinse polisie aan Johannesburg onttrek. Op 31 Desember het die eerste skermutseling tussen die Boere en die invallers by Doornpoort plaasgevind. Kleiner kommando’s het Jameson se terugvalroete afgesny terwyl die hoofkommando hom in die omgewing van Krugersdorp ingewag het.
Op 2 Januarie 1896 het Cronjé se magte die invallers in ’n hinderlaag gelei en in die daaropvolgende skermutseling is 17 invallers gedood en 55 gewond. Om 09:15 het die invallers die voorskoot van ’n swart vrou as wit vlag gebruik en oorgegee. Ten spyte van die Boere se eis dat die leiers van die inval tereggestel moes word, het Kruger besluit om Jameson en sy offisiere aan sir Hercules Robinson uit te lewer. Robinson het hom na Pretoria gehaas om as bemiddelaar op te tree. Jameson is eers ses maande later in Londen verhoor; teen daardie tyd het die imperialistiese pers in Brittanje die volk só opgesweep dat Jameson as ’n held beskou is. Die regter wat die verhoor waargeneem het, moes ’n onwillige jurie dwing om Jameson skuldig te bevind. Jameson is tot vyftien maande gevangenisstraf gevonnis maar weens swak gesondheid na viere maande vrygelaat. Hy het na Suid-Afrika teruggekeer en was van 1904 tot 1908 premier van die Kaapkolonie. Die leiers van die Reform Committee, George Farrar, Lionel Phillips, Frank Rhodes en John Hays is aanvanklik ter dood veroordeel maar Kruger het hul vonnisse na lewenslange gevangenisstraf verander. Hy het egter later aan hul versoekskrifte gehoor gegee en hulle vrygelaat.
Die mislukte inval het verreikende gevolge in Suid-Afrika asook in die buiteland gehad. Cronjé se oorwinning het nasionalisme in die ZAR versterk en die land meer vasberade gemaak om sy onafhanklikheid te handhaaf. Terselfdertyd het die wantroue teenoor die Britse regering toegeneem en die ZAR en die Vrystaat het saamgestaan om hul onafhanklikheid te behou.
Intussen het imperialistiesgesinde Engelssprekendes, die leiersfigure in die inval net soos die Britse volk, as helde beskou. Hulle het politieke partye en organisasies soos die South African League wat hulle vir ’n Britse federasie in Suid-Afrika beywer het, gestig. Die League het oorlog openlik as enigste alternatief gepropageer. Britse imperialisme en Afrikanernasionalisme het daartoe bygedra dat die verhouding tussen die twee taalgroepe versleg het. In die buiteland het die Jameson-inval daartoe bygedra dat Anglo-Duitse betrekkinge versleg het, veral nadat die Duitse keiser Wilhelm II ’n telegram van gelukwensing aan Kruger gestuur het. Hy was koningin Victoria se kleinseun en sy het persoonlik aan hom geskryf en sy “anti-Britse optrede” betreur. In Londen het die vermoede ontstaan dat Duitsland die Britse posisie in Suid-Afrika wou ondermyn. Omdat Duitsland begerig was om ’n openlike breuk met Brittanje te voorkom, het hy sy vriendskapsgebare teenoor die ZAR gestaak. Betrekkinge tussen die twee moondhede het egter gespanne gebly en in die ZAR het die hoop nooit verflou dat Duitsland die republieke in geval van ’n konfrontasie met Brittanje sou help nie.